Bravo Bulls, jul Bristol-brekers!

Die Bulls het ’n barshou teen die Bristol Bears gespeel. (Foto: X/Bristol Bears)

Die Bulls het doodeenvoudig gedoen wat hulle beloof het en hulle het die Bristol Bears met 31 – 17 in ʼn Kampioenebeker-wedstryd op Ashton Gate geklop.

Die trots van Pretoria het vier drieë in die wedstryd gedruk en hulle het veral in die tweede helfte vlam gevat nadat hulle ʼn rustydvoorsprong van 10 – 7 geniet het.

Arme Bristol het net een rat in die skrums geken (trurat) en die Bulls het ongetwyfeld die septer in die vaste fasette geswaai.

Dít het weer na voorvoetbalbesit gelei en net ná rustyd het die Pretorianers se agterlyn ook begin saamgesels.

Harold Vorster het met ʼn puik breekslag of twee vorendag gekom, terwyl Sergeal Petersen gewys het dat daar geen plaasvervanger vir spoed op die rugbyveld is nie.

Devon Williams, wat naam in die Laeveld saam met die Pumas gemaak het, se bobaas vaartversnelling en verdediger-fnuiksessies het egter vir hom die speler van die wedstryd-toekenning besorg.

Maar goeiste, selfs die haker Jan-Hendrik Wessels het vanaand sy ore platgetrek op pad na die doellyn nadat hy die bal onderskep het.

Die oorwinning het die Bulls se plek op die punteleer verstewig en hulle het nou ʼn meer duidelike prentjie van wat vorentoe in Europa op hulle wag.

Ja-nee, vanaand was dit beslis punte vir Pretoria!

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Sergeal Petersen, Khuta Mchunu, Elrigh Louw en Jan-Hendrik Wessels. Doelskoppe: Johan Goosen (3) en David Kriel. Strafskop: Goosen.

Bristol Bears: Drieë: Kieran Marmion, Gabriel Ibitoye en Magnus Bradbury. Doelskop: AJ MacGinty.

  • Groep 1-punteleer:
  1. Lyon: 12 punte ná drie wedstryde
  2. Bordeaux: 10 punte ná twee wedstryde
  3. Bulls: 10 punte ná drie wedstryde
  4. Saracens: 5 punte ná twee wedstryde
  5. Bristol: 5 punte ná drie wedstryde
  6. Connacht: 1 punt ná drie wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.