Etzebeth: Om Boktrui te dra is oorgenoeg motivering

Eben Etzebeth is Donderdag vir ’n tweede keer op ’n streep as SA Rugby se speler van die jaar aangewys. (Foto: X/SA Rugby)

Vir Eben Etzebeth moes 2023 ʼn jaar van uiterstes gewees het.

Die vuurvreter slot spog onder meer met ʼn Wêreldbeker-wennersmedalje om sy nek, hy het die nuus gehoor dat hy ʼn pa gaan word en hy is boonop Donderdagaand as Saru se speler van die jaar aangewys.

Maar dit was ook ʼn jaar van groot hartseer toe hy sy pa, Harry, aan die dood afgestaan het.

“My pa sou ʼn baie trotse man gewees het,” het Etzebeth aan joernaliste by Multichoice City in Johannesburg gesê nadat hy sy toekenning in ontvangs geneem het.

Dit is die tweede jaar op ʼn streep dat die 32-jarige speler as die beste in die land aangewys is.

“Ek wens dat hy vanaand se regstreekse vertoning kon bywoon, maar ek weet dat hy dinge van daar bo dophou. Gelukkig kon hy verlede jaar sien hoe ek die toekenning in ontvangs neem.”

Volgens Etzebeth is dit ʼn baie groot eer om met die top-individuele prys weg te stap, maar rugby is ʼn spansport en Springbok-trofees laat hom baie breed glimlag.

“Ons werk baie hard om spantrofees te wen; dit is iets waarna ons as spelers streef. Dit is waarom ons rugby speel en nie tennis nie,” het hy geskerts.

Die Sharks-speler sal 36 jaar oud wees wanneer Suid-Afrika sy wêreldtitel in 2027 in Australië sal verdedig. Tog is hy net so honger vir sukses soos altyd en oorgehaal om die Webb Ellis-trofee vir ʼn derde keer op ʼn streep omhoog te hou.

“Dit is die grootste motivering om bloot net die Springbok-trui oor jou kop te trek. Ons brand om vir almal te wys waarom ons die wêreldkampioenspan is en ons wil vir Suid-Afrika trots maak.”

Ierland vertrek eersdaags op sy Suid-Afrikaanse safari en Etzebeth glo dat die Bokke se Wêreldbeker-nederlaag teen die wêreld se naasbeste span in Marseille die perfekte doepa vir die manne in groen-en-goud was.

“Rassie (Eramus) het in die spanvergadering ná daardie wedstryd nie doekies omgedraai nie. Dit was inderdaad die nodige wekroep wat ons aangespoor het.”

“Ierland is ʼn propperse toetsspan en ons kan as’t ware nie bekostig om stil te sit nie. Ons moet aanpasbaar wees, kreatiewe spel opdis en die beter span wees.”

Etzebeth is ongetwyfeld ʼn Springbok-kolos. ʼn Lynstaanreus wat sy span na groter hoogtes met sy inklimspel en passie aanspoor.

Soos Mark Alexander, Saru-president, tereg gesê het: Hy was in die voorste linie in Suid-Afrika se suksesvolle veldtog om sy Wêreldbeker-titel te verdedig.

Etzebeth spog met die Webb Ellis-trofee nadat die Springbokke die All Blacks in Parys geklop het. (Foto: Franck Fife/AFP)

Uitslae van die Springboktoetse waarin Etzebeth in 2023 gespeel het:

Verloor 20 – 35 teen Nieu-Seeland in Auckland

Wen 22 – 21 teen Argentinië in Johannesburg

Wen 35 – 7 teen Nieu-Seeland in Londen

Wen 18 – 3 teen Skotland in Marseille

Verloor 8 – 13 teen Ierland in Parys

Wen 49 – 18 teen Tonga in Marseille

Wen 29 – 28 teen Frankryk in Parys

Wen 16 – 15 teen Engeland in Parys

Wen 12 – 11 teen Nieu-Seeland in Parys

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KB ·

Gee hom die eer, hy verdien die lof…
Maar waar is my Pieter Steph du Toit…hy is mý keuse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.