Ten minste drie mense is dood nadat ʼn ligte vliegtuig Maandagoggend by die Lanseria-lughawe neergestort het.
Die ligte vliegtuig, ʼn King Air 90, het glo weens slegte weersomstandighede neergestort en aan die brand geslaan.
eNCA berig die vliegtuig het die aanloopbaan heeltemal gemis en in ʼn oop stuk veld naby die ExecuJet-gebou neergestort.
Die oorledenes se name kan nog nie bekend gemaak word nie, aangesien hul naasbestaandes nog in kennis gestel moet word.
Daar is nog nie duidelikheid oor die hoeveelheid mense aan boord nie, maar volgens eNCA was daar net drie mense, twee passasiers en ʼn vlieënier, aan boord.
Gavin Sayce, Lanseria-lughawe se uitvoerende hoof, het aan die uitsaaier bevestig dit was ʼn King Air 90 was en dié soort vliegtuig kan net sewe passasiers vervoer.
Sayce het gesê die ongeluk beïnvloed nie bedrywighede by die lughawe nie, aangesien die wrak ver van die aanloopbaan is.
Bron: SAPA, eNCA