Godongwana: Gewone verbruikers moet maar opdok vir kragskuld

Enoch Godongwana, minister van finansies (Foto: Elmond Jiyane/GCIS).

Dit sal nie ekonomies lewensvatbaar of bekostigbaar wees om gewone verbruikers se agterstallige munisipale elektrisiteitskuld asook dié aan Eskom bloot af te skryf nie.

Só sê Enoch Godongwana, minister van finansies, in antwoord op vrae van Eugene Mthethwa, EFF-LP, wat wou weet of die minister dit oorweeg om die heel armste Suid-Afrikaners se munisipale skuld af te skryf.

Mthethwa het ook daarop gewys dat, buiten vir hul enorme skuld, arm mense ook vir lang tye sonder enige krag moes klaarkom weens die beslaglegging op Eskom-transformators in hul woongebiede.

Hy het verder aangedui dat hy antwoorde soek by Godongwana na aanleiding van onlangse uitsprake dat die miljarde rande wat munisipaliteite aan Eskom skuld, afgeskryf moet word.

Maroela Media het voorheen berig dat munisipale skuld aan Eskom teen September op meer as R70 miljard gestaan het. Dit was toe reeds ʼn skerp toename van die R58,5 miljard waarop dit in Maart vanjaar gestaan het.

Eskom het toe die hoop uitgespreek dat die skuldverligtingsprogram dié syfers sal help verlaag en dat die kragvoorsiener se bedryfskontantvloei gevolglik sal verbeter.

Sover bekend, het 52 munisipaliteite al goedkeuring of voorlopige goedkeuring van die nasionale tesourie gekry om deel te vorm van die program. Dié owerhede is verantwoordelik vir 86% van agterstallige skuld (soos op 31 Maart). Nog 20 wanbetalende munisipaliteite (nog 11% van agterstallige skuld) het vir munisipale skuldverligting aansoek gedoen en wag op goedkeuring van die tesourie.

Munisipaliteite moet ook vir ʼn jaar aan bepaalde voorwaardes voldoen voordat Eskom die eerste derde van die skuld sal afskryf.

In sy antwoord het Godongwana verduidelik agterstallige kragskuld aan Eskom en munisipaliteite hou twee uitdagings in.

“Eerstens is dit verbruikers wat nie betaal vir munisipale dienste wat aan hulle gelewer word nie. Tweedens is daar ʼn gebrek aan leierskap om te verseker dat kredietbeheer toegepas word sodat Eskom en/of die munisipaliteite se inkomste ingevorder word,” sê Godongwana.

Dit is daarom dat ʼn omvattende benadering vir die afskryf van verbruikerskuld nie ekonomies lewensvatbaar, bekostigbaar of gewens sal wees nie, meen Godongwana.

“Dit sal nie die onderliggende probleme opklaar nie en waarskynlik die verbruikers se skuld aan Eskom en munisipaliteite net verder vererger.”

Die minister het verduidelik dat die afskryf van agterstallige skuld binne die bestek van Eskom en die onderskeie munisipaliteite val wat verbruikers van elektrisiteit voorsien en dat dit daarom nie van die behoorlike bestuur van toegewings aan armes geskei kan word nie.

Volgens Godongwana word daar in die nasionale tesourie se jaarlikse begroting ook voorsiening gemaak vir ʼn pakket van gratis basiese dienste aan arm huishoudings wat 50 kilowattuur se gratis elektrisiteit insluit.

“Ongelukkig dui die nasionale tesourie se ontleding aan dat baie munisipaliteite nie hierdie voordeel deurgee aan al die huishoudings wat daarvoor kwalifiseer nie. Baie van die munisipaliteite gebruik die toegewysde geld vir toelaes vir armer huishoudings vir ander munisipale prioriteite en ook om salarisse te betaal. Gevolglik betaal die munisipaliteite dan nie hul skuld aan Eskom nie.”

Volgens Godongwana laat Eskom asook munisipaliteite se skuldverligtingsvoorwaardes die afskryf van skuld toe. Dit is egter onderhewig aan die installering van slim-elektrisiteitsmeters (soos vir voorafbetalende kliënte) vir enige verbruikers wat nie hul Eskom- of munisipale skuld kan betaal nie, tesame met die toepassing van die perk in die beleid oor gratis elektrisiteit in die geval van arm verbruikers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.