Hoe jy SEB kan vryspring, en hoekom jy moet

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van die Sakeliga. Foto: Morné Prinsloo

Hoewel daar bitter min navorsing gedoen is oor die effek wat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) op die Suid-Afrikaanse ekonomie het, was daar al heelwat tasbare bewyse dat dit die ekonomie wel skade berokken het.

Daar is verskeie redes waarom beleid soos SEB nie tot ʼn funksionerende ekonomie kan bydra nie, maar, voer Piet le Roux, die bestuurshoof van Sakeliga, aan, dit is nie as gevolg van die inherente eienskappe van die persone wat uit hierdie soort beleid voordeel trek nie, maar oor die meganismes waarop dit geskoei is.

“Dit gaan glad nie oor ras nie. In ander lande, soos Venezuela, kan jy SEB met hul CEE, of kommunistiese beleid vervang. Ook daar het dit tot ekonomiese mislukking gelei. SEB is gebou op grond van eienaarskap, maar wanneer eienaarskap deur wetgewing afgedwing word, gaan talle faktore wat tot ʼn gesonde ekonomie bydra verlore.”

Hy het Dinsdag tydens die Sakeliga- ekonomiese seminaar verduidelik dat eienaarskap van ʼn sakeonderneming belangrik is, omdat dit jou as eienaar motiveer om jou onderneming uit te bou en uit te brei. In ʼn sosiale konteks is dit belangrik, omdat dit tot ekonomiese groei en verbruikerstevredenheid bydra.

Waar dit egter ʼn probleem skep is dat wanneer eienaarskap verkeerdelik toegepas word, ʼn ekonomie kan stagneer. “Ek is ʼn ondernemingsbestuurder, maar as jy vir my ʼn plaas gaan gee, of selfs ʼn inligtingstegnologiefirma, gaan ek nie weet wat om daarmee te doen nie.

“Elkeen van ons het ʼn rol om in die ekonomie te vul en ons moet weet hoe om dit te doen. ʼn Entrepreneur se rol is om kapitaal toe te wys, om oor die toekoms van ʼn onderneming te dink, selfs vyf jaar vooruit, en hoe die onderneming bestuur gaan word om die mas op te kom in die toekoms,” sê Le Roux.

Met meganismes soos SEB word ondernemingsoordeel afgetakel. “Nuwe eienaars van ʼn onderneming wil en sal seggenskap daarin wil hê, wat dan gewoonlik idees en talent van die entrepreneur se kant opsyskuif. Daar is ook ʼn afname in beloning vir ʼn entrepreneur, wat hulle dan ontmoedig om bystand te gee, wat ook die kwaliteit van versiendheid laat afneem.”

Verder het die nagevolge van SEB ook gewoonlik ʼn rimpeleffek op die ekonomie se syfers. “Wanneer mense wat normaalweg omsigtig met hul geld gewerk het ewe skielik ʼn groot bedrag geld ontvang en met meer besteebare inkomste sit, gaan dit gewoonlik gepaard met ʼn toename in besteding. Dit lei weer daartoe dat ʼn ekonomie gesonder lyk as wat dit werklik is.”

Le Roux sê verder dat wanneer daar ʼn grootskaalse oordrag van hulpbronne is, in Suid-Afrika se geval van ras tot ras, lei dit ook tot onsekerheid, en ʼn afname in beleggings in ondernemings. “Die afname beteken dan ook ʼn afname in produktiwiteit.”

Dis verder ʼn morele kwessie, voer Le Roux aan. Mense moet optree op ʼn manier wat regverdig is en nie net vir hul eie gewin nie. “Dit is nie in die belang van meeste mense in Suid-Afrika, wit of swart, om ʼn beleid soos SEB te hê nie, want SEB ondersteun nie die mense in die land nie.”

Talle ekonome het ook al daarop uitgewys dat SEB slegs sal kan werk wanneer die eienaarskapselement uit die beleid verwyder word.

Le Roux het gesê vir diegene wat skepties is oor SEB, is daar maniere om te verseker dat hulle nie aan die wetgewing gebonde hoef te wees nie.

Eerstens kan ʼn maatskappy sy blootstelling tot staats- en staatsverwante sektore verminder, maar dit is dikwels moeilik omdat regulasies en lisensies in ander opsigte waar ʼn maatskappy nie met die regering omgaan nie, hulle steeds dwing om aan SEB te voldoen. “Afhangende van die grootte en die omvang van jou onderneming, kan ʼn mens die wetgewing vryspring.”

Tweedens kan ʼn ondernemingsbestuurder ʼn nis van waardetoevoeging identifiseer wat tot so ʼn mate gespesialiseerd is en komplekse dienste lewer dat die regering nie ʼn ander keuse het as om by die maatskappy aan te klop nie. “Dié maatskappye het gewoonlik ʼn vat dit of los dit houding. Sommiges sal dit ʼn monopolie noem, ander noem dit die krag van die mark. Die maatskappye kan selfs invloed uitoefen op sekere beleidsvorme.”

Derdens kan ʼn maatskappy sy internasionale kliënte- en verskaffersbasis probeer uitbrei. “Nêrens anders ter wêreld sal jy ʼn konsep soos SEB teëkom nie. Oor die algemeen is dit iets wat ontwikkelde ekonomieë glad nie sal ondersteun nie. Internasionale maatskappye gee net om of die produk van hoë gehalte is en dat die diens op ʼn spesifieke tydstip verskaf is. Verder is internasionale ondernemings ʼn goeie verskanser van die rand.”

Laastens sê Le Roux kan ʼn mens toegee en saamspeel. “Die speelveld sal egter nooit gelyk wees nie, omdat die reëls altyd gaan verander. Sodra jy ʼn sekere drempel van eienaarskap en bestuur bereik het, skuif daardie drempel net weer. Die doelwitte van die wetgewing is nie duidelik nie en daar is ook nie ʼn ‘sonsondergang-klousule’ vir die wetgewing uiteengesit nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leon Pit

Die ‘ ou ‘ wat SEB uitgedink het moes verseker sy idees op robbeneiland uitgedink het.

Tino

Ek se dit ook al jare maar die wiel draai nie vining genoeg nie.

marous

Een groot wasmasjien om die staatskas te plunder . Dis die waarheid .

jaco

Is daar maniere vir ‘n besigheid om, met die aanstelling van personeel, regstellende aksie te vermy of minder rigied te maak?

Swannie

Vra ou Cyril hoe lekker SEB vir hom gewerk het. Vanaf `n Vakbond leier tot biljoenêr.
Daarom sal SEB, of BBEEE nooit as te nimmer uitfasseer word nie, omdat die swart elite te lekker skep.