Hoër- én laerskole sukkel om damprook onder beheer te kry

Damprook word al hoe gewilder onder jongmense. (Argieffoto: pixabay)

Van hoërskoolleerders wat doodluiters agter in die klas hul damprooktoestel (vape) uit hul sak haal om ʼn rokie te maak, tot laerskoolkinders wat hul ouers se toestelle gaps omdat die smaak daarvan hulle aan lekkergoed herinner.

Dít is die kwessies wat skole, onderwysers en ouers toenemend in die gesig staar.

Die gebruik van damprooktoestelle in skole het oor die afgelope paar jaar drasties toegeneem, meen Marius Botha, hoof van Marius Botha Konsultante (MBK), ʼn eksterne konsultasie-onderneming wat ernstige dissiplinêre sake by hoër- en laerskole hanteer.

Dié onderneming is werksaam by sowat 300 skole in vyf provinsies en hanteer enige oortredings wat tot die moontlike skorsing van ʼn leerder kan lei.

Volgens Botha hou die meerderheid van die oortredinge waarmee hy te doen kry, met sosiale media verband. Die kwessie wat egter die afgelope paar jaar meer as enige ander toegeneem het, is die gebruik van damprooktoestelle.

“Die probleem met damprook op skoolgronde, is dat dit eintlik onwettig is. Buiten dat die kinders nog minderjarig is, is skole rookvrye areas waar selfs damprook nie toelaatbaar is nie.”

Botha sê die jongste kind wat dissiplinêr hiervoor verhoor is, was maar in graad 2.

Die redes waarom kinders in só ʼn jong ouderdom dié rookgewoonte ontwikkel, strek van ouers wat dit toelaat en aanmoedig tot kinders wat bloot dink dat die rook soos lekkers proe.

Een van die tendense wat veral in laerskole begin kop uitsteek het, is die gebruik van glimpenne as plaasvervanger vir damprooktoestelle.

“Die kinders trek die punt wat die kleur gee uit, laat die vloeistof binne-in uitloop, stop dit met toiletpapier op en spuit dan ʼn botteltjie reukweerder in dié leë glimpen uit,” verduidelik Botha.

Dié toestel word dan gerook en het selfs die bynaam van “rooklose damprooktoestel” gekry.

Botha verduidelik verder dat die verkope van e-sigarette deur winkels soos Dischem, wat vir gesondheidsprodukte bekend is, help om die idee te skep dat dié soort rooktoestelle gesond is.

Daarmee saam, behoort die damprooktoestelle wat tydens skoolure by leerders weggeneem word, dikwels aan ouers. Botha benadruk egter dat skole onder geen verpligting is om die toestelle aan ouers terug te besorg nie, omdat dit onwettig op ʼn rookvrye area soos die skoolterrein was.

ʼn Beduidende impak op gesondheid

Die langtermynskade van damprook is nog nie bekend aan medici nie, verduidelik dr. Peet Viviers, pulmonoloog verbonde aan die Life Wilgers-hospitaal in die ooste van Pretoria.

“Dit is waar dat tradisionele sigarette waarskynlik meer skade aanrig as e-sigarette, weens die chemiese samestelling daarvan, maar e-sigarette en damprooktoestelle is geensins sonder gevare nie,” verduidelik Viviers.

“Wat ons ook moet onthou is dat dit die wêreld etlike dekades geneem het om uit te vind net hóé sleg sigarette is, dus is die navorsing oor tyd heen nog glad nie vergelykbaar nie.”

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Ciprian Tudor/Unsplash)

Viviers benadruk dat damprooktoestelle en e-sigarette steeds nikotien, ʼn hoogverslawende chemikalieë, bevat. Die afhanklikheid wat dié toestelle skep, verhoog die risiko dat jongmense, wat veral vatbaar vir dié afhanklikheid is, naderhand sal oorskakel na sigarette toe.

ʼn Onlangse studie wat onder 17 000 adolessente gedoen is, dui daarop dat jongmense wat van e-sigarette en ander damprooktoestelle gebruikmaak, vier keer meer geneigd is om aan sigarette verslaaf te raak as dié wat nooit van die toestelle gebruikgemaak het nie.

“Die middels normaliseer rookgedrag, wat ook glad nie help nie.”

Hoewel dié toestelle nie gesond of veilig is nie, kan dit as ondersteunende middel deur sigaretrokers gebruik word wanneer hulle van dié gewoonte probeer ontslae raak.

“Alhoewel ons nog ʼn redelike hoeveelheid navorsing moet doen, blyk dit wel voordelig te wees as ʼn soort afskaalmiddel van gewone sigarette af, met die hoop dat die roker wel eindelik heeltemal sal staak.”

E-sigarette en damprooktoestelle word dikwels ook glad nie gereguleer nie, sê Viviers. Die verbruiker weet dus nie altyd presies wat hulle besig is om in te asem nie.

Daar is van die chemiese afbreekmiddels in elektriese rooktoestelle wat egter reeds met liggaamlike skade verband hou. EVALI (e-cigarette and vaping induced acute lung injury) word ook in praktyk waargeneem, sê Viviers verder.

“Ons weet nog nie wat die langtermyngevolge van hierdie middels is nie, want dit word nog nie lank genoeg gebruik nie.

“Ons weet wel dat dit in ale waarskynlikheid nie skadeloos is nie, soos enige ander chemikalieë wat verbrand en ingeasem word,” benadruk hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JvR ·

Kyk. Ek was 14 toe ek my eerste sigaret gerook het. En nooit maar nooit het ons eers bespreek gedurende skooltye. Destyds as jy oor n naweek deur n onderwyser gesien rook is, was jy gedreig met skorsing. Maar deesdae se kinders mag mos doen wat hulle wil. Want disipline is mishandeling. En “mense regte” wen altyd.

lizzybez ·

Dis omdat daar nie meer lyfstraf uitgedeel word in skole nie, dis hoekom. As hulle gatte nog slae gekry het, het hulle maniere gehad en geluister. Maar alles word mos nou toegelaat. So hoekom kla daaroor, DOEN iets daaromtrent. Dat ons so aanhou luister vir ‘n kommunistiese regering wat ons land deur sy agterent trek en jeug wat niks respek het vir enige iemand nie, laat my my hande saamslaan. Wens ek was in staat om iets te doen, gelukkig is my kinders jonk, nog in hulle vroee 20’s, maar hulle het met maniere groot geword en sou nooit so iets probeer het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.