Die veelsydige Suid-Afrikaanse krieketspeler, Jacques Kallis, het in sy laaste toets ‘n 100-tal, die 45ste van sy loopbaan, aangeteken. Hy het uiteindelik 115 lopies behaal.
Kallis het in die proses ook die kolwer geword wat die derde meeste toetslopies ooit, 13 174 aangeteken het. Slegs die legendariese Sachin Tendulkar van Indië, wat vroeër vanjaar uitgetree het, en die Australiër, Ricky Ponting, het meer toetslopies as Kallis aangeteken. Sy kolfgemiddeld is net meer as 55 per beurt.
In sy eersterangse wedstryde het hy reeds bykans 20 000 lopies aangeteken.
Kallis speel nou in sy 165ste toets, en het tydens die toets ook reeds sy 200ste vangkans in ‘n toets benut. Hy is bekend vir sy veilige hande in die glippe, maar ook elders op die veld waar hy ingespan word. Met sy mediumsnel aflewerings het hy ook reeds 292 toetspaaltjies platgetrek.
Dié kolfbeurt was heel waarskynlik sy laaste toetsbeurt, omdat dit onwaarskynlik lyk dat die toets, wat nou in sy voorlaaste dag verkeer, nog ‘n geleentheid sal bied vir die ou grote om weer te kom kolf.
Hy het in 1995 as twintigjarige sy toetsbuiging op dieselfde veld, Kingsmead in Durban, gemaak.
Lees ook:
Jacques Kallis kondig uittrede aan
Jacques jou YSTER, jammer dat die jare aanstap, dit is beslis n enorme verlies vir SA krieket met die aankondeging van jou uittrede, net die beste word jou toegewens vir die toekoms.
Wel gedaan Kallis!!!