Air France-stakings: Inspraakkultuur sou help

Air_France_&_KLM_vertical_stabilizersIn die moderne Westerse wêreld word identiteit toenemend ’n faktor op grond waarvan politiek gevoer word. ’n Mens merk dit op onverwagse gebiede.

Op die oomblik is daar fel meningsverskille tussen die Franse en Nederlandse werknemers van die lugredery Air France-KLM. Die agtergrond is belangrik.

In 2004 het Air France en KLM in ’n soort federatiewe verband saamgesmelt, met Air France wat sowat tweederdes van die nuwe maatskappy beslaan en KLM ’n derde. Uit ’n streng bedryfsekonomiese oogpunt het dit moontlik sin gemaak, maar dit het beteken dat twee moeilik versoenbare kulture saamgegooi is, wat probleme meegebring het.

Nederland het van oudsher ’n inspraakkultuur. Leidende liggame in die samelewing, of dit nou die owerheid is of die bestuur van ’n maatskappy, kan nie sommer ingrypende besluite neem sonder om die burgers of werknemers behoorlik in te lig en te raadpleeg nie.

In Frankryk, daarenteen, is die maatskaplike verhoudinge veel harder. As mense nie hou van wat diegene daar bo besluit nie, gaan hulle maklik oor tot stakings, selfs gewelddadig (dis nie verniet dat Frankryk drie revolusies – 1789, 1830 en 1848 – beleef het nie).

Op die oomblik beleef die land byvoorbeeld ’n hele reeks stakings, ondanks (of dalk danksy) die feit dat die Europese Kampioenskap van sokker in Frankryk plaasvind.

Een van die stakings is van Air France se vlieëniers – nie almal nie, maar genoeg om die lugdiens grotendeels te verlam. Hulle staak uit protes teen besnoeiings waarop die bestuur besluit het om die sukkelende maatskappy weer winsgewend te maak.

Die KLM moes deur dieselfde proses gaan. Maar waar Air France se base dit eenvoudig afgekondig het en basta, het die KLM dit baie demokratieser gehanteer, en daar het die werknemers besluit om die pyn ter wille van hul maatskappy se oorlewing te vat.

Trouens, die KLM het ’n tradisie waarvolgens die maatskappy sy werknemers as ’n soort familie behandel, mense vir wie gesorg moet word. By Air France ontbreek dit.

Een van die eise van die Air France-stakers is nou dat vlugte by KLM en die lughawe Schiphol weggeneem en na Air France en die lughawe Charles de Gaulle oorgeplaas moet word. Dit om die Air France-gedeelte van die maatskappy se winsgewendheid te herstel.

Met ander woorde, die Nederlanders, wat die pyn van besnoeiings gevat het, moet die gelag betaal vir die Franse se onwilligheid om te doen wat gedoen moet word.

Dit het in Amsterdam op baie slegte aarde geval. Soos een man het die KLM-werknemers ’n petisie begin om hul Franse kollegas te vra om met hul nonsens op te hou.

Die staking kos Air France tans sowat €5 miljoen per dag. Sowat driekwart van die vlugte word wel uitgevoer, maar talle word gekanselleer, sonder dat dit vooraf bekend is welke kan plaasvind en welke nie.

Dit beteken dat die reisigers grootskaals na ander lugdienste uitwyk. Air France se betroubaarheid is onder verdenking.

Die Nederlandse minister van finansies, Jeroen Dijsselbloem, het ’n “reguit gesprek” met sy Franse eweknie, Michel Sapin, oor die saak gevoer. En Nederlandse parlementslede het hulle sterk oor die saak uitgelaat.

Die saak sleep nog voort en dis onduidelik wat gaan gebeur. Die uittredende besturende direkteur, Alexandre de Juniac, het wel ontken dat die KLM vlugte aan Air France gaan afstaan, maar die Nederlanders is nie heeltemal oortuig nie.

Die rusie word verder gevoed deur die druk wat nasionalistiese partye, veral die Front National in Frankryk en die Partij voor de Vrijheid in Nederland, onregstreeks op die politiek in die breë uitoefen.

Ten diepste gaan dit om kultuurverskille en identiteit.

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: In diepte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Theuns ·

Leopold, jou kommentaar spreek ook verskeie situasies direk aan in SA. Ons sit met groot kultuur verskille en ook ‘n identiteits krissis. Maar hier is die paradoks. Jy mag nie die verskille aanspreek om die probleme te probeer oplos nie. Kyk nou hoe het Regter Mabel Jansen in die moelikheid gekom? Net so kan jy in die moelikheid kom as jy iets se soos die ekonoom Chris Hart! Die Identiteits krissis kom as mense nie kan aanvaar hulle lyk soos hulle lyk omdat GOD hulle so geskape het nie. Of hulle onderwys is nie op standaard nie. As jy die oorsake aanspreek dan is jy n rassis!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.