Dollar se dae dalk getel

Maandagoggend het die rand vir die eerste keer in drie maande teen meer as R18/$ verhandel. Dié verswakking kom te midde van die verwagte vrystelling van die VSA se jongste inflasiesyfers.

“Die wisselkoers van jou land kan jy sien as die aandeelprys van jou land,” verduidelik Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep. Suid-Afrika se geldeenheid is oor die algemeen swakker weens uitdagende plaaslike ekonomiese omstandighede.

“Beurtkrag is vir seker deel van die probleem van ʼn swakker rand. Dit demp ekonomiese aktiwiteit en verhoog die koste om sake te doen. Swak groeivooruitsigte maak beleggers skrikkerig wat hul geld dan na veiliger hawens skuif,” sê prof. Waldo Krugell, professor in ekonomie aan die Noordwes-Universiteit.

Plaaslike omstandighede is egter nie al wat die wisselkoers beïnvloed nie en Suid-Afrika is tot groot mate uitgelewer aan wat in die Amerikaanse ekonomie gebeur.

“Die afgelope week of wat is die wisselkoers die storie van ʼn sterk dollar. Dit hang weer af van inflasie en rentekoerse in die VSA. As dit lyk of inflasie hardnekkig hoog gaan bly, gaan rentekoerse hoog bly. Dan versterk die dollar. Dit lyk asof inflasie in die VSA wel begin afneem,” verduidelik Krugell.

Krugell én Roodt meen egter Amerika en die dollar se houvas oor die wêreldekonomie kan nie onbepaald voortduur nie en die desentralisering van geld is wel op pad.

Desentralisering van geld onafwendbaar

“Die afgelope 200 jaar het die wêreld al hoe meer staatsentralisties geraak. Sentrale beheer het toegeneem en regerings het al hoe groter geword. Globalisering het die afgelope 50 jaar dié tendens weer begin omkeer. Hierdie vreeslik rigiede konsep van ʼn soewereine staat het effe momentum begin verloor,” sê Roodt.

Globalisering het staatsgrense op verskeie maniere laat vervaag met state se absolute beheer wat daarmee saam vervaag. Hierdie fragmentering en desentralisering het ook uitkringgevolge op die monetêre (geldelike) front. Die staatsentralistiese fiat-stelsel (papiergeld gekoppel aan ʼn sentrale bank) waaraan ons so gewoond is, gaan dus nie vir ewig met ons wees nie.

“Verandering kom, maar niemand is nog mooi seker hoe dit gaan lyk nie. ʼn Mens sien stukkies hiervan in die gedesentraliseerde finansiële wêreld,” verduidelik Krugell.

“Daar is ʼn tendens vir geldeenhede om te verdwyn en vervang te word met groot, internasionale fiat-geld. Die euro is ʼn goeie voorbeeld daarvan. Die Brasiliane en die Argentyne praat nou met mekaar om ʼn Suid-Amerikaanse geldeenheid daar te stel. Daar is al sprake van ʼn geldeenheid vir Brics-lande. In Wes-Afrika word die Wes-Afrika-frank reeds gebruik wat soortgelyk aan die euro is,” sê Roodt.

Die wyse waarop ons “geld” as konsep verstaan, is besig om te verander.

Roodt sê kripto-geld is nog ʼn aanduiding van die verandering wat kom.

“Die privaat sektor sal waarskynlik ook sy eie digitale geldeenhede, soos Bitcoin, begin uitreik. Dit is nuwe tegnologie wat nog sy voete vind.”

Krugell sê die kripto-wêreld het die afgelope jaar of wat ietwat van ʼn terugslag gekry met al die skandale, ponzi-skemas en spekulatiewe borrels. “Mense het nogal geskrik en gedink hierdie eenhede is nog nie soos geld nie, maar eerder die een of ander vreemde bateklas.”

Nietemin meen Krugell dié blokkettingtegnologie is op die regte fondament gebou en gaan verander hoe ons betaalstelsels werk.

Roodt sê ook digitale geldeenhede vir die privaat sektor is ʼn positiewe verwikkeling, aangesien digitale geldeenhede van ʼn sentrale bank ʼn geweldig gevaarlike wapen in die hand van owerhede is.

“Digitale geldeenhede is programmeerbaar. So kan ʼn sentrale bank dit programmeer om te sê dat jy net brood en geen brandewyn daarmee mag koop nie. Jy kan dit ook so programmeer dat jy toegang tot van jou geld verloor omdat jy iets slegs van die ANC op Facebook gesê het – iets wat reeds in China bestaan met hul sosiale kredietstelsel,” sê Roodt.

“ʼn Manier om die gebruiker daarteen te beskerm is om digitale privaatsektor-geldeenhede aan te moedig.”

Roodt meen geld gaan ook begin spesialiseer. “Jy gaan jou spaargeld in een spesifieke geldeenheid plaas en jou transaksiegeld in ʼn ander. So sit jy jou spaargeld in Bitcoin, wat weens hoë transaksiekoste te duur is vir daaglikse uitgawes. Bitcoin kan dan so omgesit word in ʼn minder sekure geldeenheid wat laer transaksiekoste het waarmee jy brood kan koop.”

Amerikaanse ekonomie klop nog sterk

Talle ekonome begin toenemend waarsku dat daar ʼn borrel in die Amerikaanse ekonomie is en dat die begin van die einde van die dollar hier is, maar Krugell stem nie saam nie.

“Daar was al borrels en ek is seker daar gaan weer borrels wees, maar ek dink nie daar is iets waaroor ʼn mens egter nou moet wakker lê nie.”

Roodt meen ook die Amerikaanse ekonomie gaan nog lank die wêreldekonomie oorheers. “Afgesien van die onlangse hoë inflasie en gepaardgaande hoë rentekoerse, het die Amerikaanse ekonomie doodeenvoudig nie einde nie. Hul werkloosheidsvlakke hou aan daal en ondanks hoë rentekoerse hou die ekonomie net aan met groei.”

Krugell sê ook die bestaande stelsel wat grootliks op die dollar gebou is, is baie stewiger as wat almal dink. “Die Chinese probeer nou al ʼn ruk lank om hul geldeenheid ʼn groter rol te laat speel in wêreldhandel, maar dit vat nie pos nie. Die Russe het ook probeer om rondom die internasionale betaalstelsel te werk met die huidige oorlogsanksies, maar sukkel daarmee. Die ou stelsel is nog baie stewig.”

Roodt stem saam. “Almal gebruik die dollar, want almal gebruik die dollar. Dit klink nie na ʼn vreeslik belangrike rede nie, maar beteken wel dat die dollar die standaard is. So ook is die Amerikaanse kapitaalmark uitsonderlik likied en groot, wat baie belangrik is.”

Roodt wys egter daarop dat alle oorheersende geldeenhede uiteindelik tot ʼn einde kom. “Sowat 100 jaar gelede was die oorheersende geldeenheid in die wêreld die Britse pond. Die Amerikaanse dollar gaan uiteindelik tot ʼn einde kom, maar nie binnekort nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Cobus ·

Tipies… ORANIA funksioneer en dit sonder ‘n sent van die staat, maar steeds sal die reenboog dromers na hulle kap. Gaan liewer uit en gaan bou iets in plaas van jou onkunde en neerhalendheid so te adverteer.

Groen Ghoen ·

Goed opgesom, Cobus! Algaande begin denkendes deur die spinnerakke en stof van die Nuwe Suid-Afrika die waarheid te sien. Belangriker nog: Die waarheid word nie meer doodgepraat deur politieke korrektheid nie. Dalk is dit nog nie te laat nie.

De Bok ·

Roodt weet duidelik nog nie van die Lightning Network (Weerlignetwerk?) nie. Dit is ‘n tegnologie wat jou toelaat om op ‘n vinnige en goedkoop manier Bitcoin (Bismunt?) rond te stuur. Dit is ook die tegnologie waarvan Pick ‘n Pay nou gebruik maak om Bitcoin betalings te aanvaar.

Sterling ·

Dollar se dae dalk getel, tensy ons met die eerste land in die mens se geskiedenis te doen het wat nie ‘n landelike of fisies ryk gestig het nie, maar ‘n ideologiese ryk itv ekonomie. Soos wat die antieke Grieke se filosofie die grondslag van die moderne regstelsel gevorm het, kan kapitalisme die grondslag vorm van die ekonomie van die toekoms. Dan, nes Engels die Lingua Franca geword het vir internationale besigheid, vermaak en kommunikasie, het die Amerikaanse Dollar die wêreld se ‘reserwe geldeenheid’ geword of anders gestel, die verwysingspunt waarteen ander geldeenhede gemeet word. Nie net omdat dit deur baie lande gebruik word nie, maar op ‘n hoër vlak, omdat die Amerikaanse ekonomie stabiel is. Bestendigheid, of dan voorspelbaarheid in iets so wisselvalig soos ekonomie, is die 1e prys wat enige bestaande of ontwikkelende ekonomie nodig het om ‘n sukses te maak.

Steeds, puik geskryf met uitstekende bronne. Laat die grysstof werk

Renier ·

Nie in ons leeftyd.te veel welvarende mense se geld is in dollars

LANA is ELANè ·

In korte, ons tree elke dag nader aan ñ drakoniese NWO wat deur die elite bestuur gaan word.

Yolandie ·

Dis reg Lana, iemand gaan alles besit en iemand gaan kripeer van ellende. En die wat praat van so wereld van kamstige gelykheid en een geld eenheid of die sentralisering daarvan, dis die mense wat alles gaan beheer ten koste van ons.

Alexander ·

Ons is al eeu lank in die “nuwe orde” so waarvoor worry julle nou? :D

Etienne ·

Crypto is my oplossing. Jy sal nooit daardie rente by enige finansiele instelling in SA verdien nie. In Europa kan jy bitcoin by die ATM ontrek. Daar is ook uitstekende tegnologie in crypto soos die BAT token of brave browse. Verwyder alle advertensies op enige site of youtube. Vechain sal supply chain verander

Jacobus ·

Jy sal ook nooit by enige finansiele instelling soveel geld verloor soos die afgelope jaar op Bitcoin nie.

George ·

en net so baie verloor. Dit sal nog baie jare vat, 30-40 jaar, en dis AS bitcoin dit oorleef.

OW ·

Papiergeld gekoppel aan ‘n sentrale bank sal nog baie lank met ons wees,veral die derde wêreld lande met baie arm mense.Digitale geld beteken niks vir armes nie.Met papiergeld kan hulle wel oorleef,en so ‘n bestaan voer.Die Amerikaanse dollar sal nie in ons leeftyd tot ‘n einde kom nie,en self’s die Britse pond bestaan nog na 100 jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.