Roodeplaatdam nou ‘een groot slikdam’

Foto: Verskaf

Munisipaliteite wie se rioolwerke die land se riviere en damme besoedel, gaan binnekort hulle sokkies moet optrek.

Die departement van water, sanitasie en menslike nedersettings gaan ʼn taakspan op die been bring wat vinnig kan ingryp waar en wanneer ’n krisis met besoedeling ontstaan.

“Ons was tot dusver meestal reaktief, nou gaan ons proaktief raak,” sê Marius Keet, die hoofdirekteur van watergehalte-bestuur by die departement. Hy sê ʼn geïntegreerde bestuurstrategie vir watergehalte is reeds in 2017 goedgekeur en gaan nou geïmplementeer word. “Die span gaan op die knelpunte fokus, streng optree en aan die parlement terugvoering gee.”

Dis goeie nuus vir mense wat langs erg besoedelde riviere en damme woon, maar baie sê dis ʼn geval van sien is glo, want daar is al té veel leë beloftes aan hulle gemaak.

Foto: Verskaf

Die gemeenskap langs die erg besoedelde Pienaarsrivier en Roodeplaatdam in Gauteng het selfs onlangs die Menseregtekommissie (MRK) gevra om te help. Hulle beweer die rivier en die dam is deur die Baviaanspoort-watersuiweringsaanleg van die Tshwane-metro in ʼn dooie watermassa omskep.

“Ons hoop dat die MRK die staatsdepartemente wat verantwoordelikheid moet neem, sal dwing om aktief betrokke te raak,” sê advokaat Hendrik van Staden, voorsitter van die Roodewag‑ en Pienaarsrivier‑forum.

Die forum sê in hulle voorlegging aan die MRK verskeie internasionale voorskrifte word deur Baviaanspoort oortree en dat die regering sowel as die provinsiale en plaaslike owerhede nie hulle grondwetlike pligte nakom nie.

Die Baviaanspoort-aanleg word nie behoorlik in stand gehou of bestuur nie, maar niemand wil aanspreeklikheid aanvaar nie. Dit wil voorkom of die gesagsowerhede nie die nodige wil het om bestaande wette en regulasies af te dwing nie.

Foto: Verskaf

Onverwerkte riool, rioolslik en onbehandelde afvalwater word byna daagliks in die Pienaarsrivier vrygelaat. Dit beland stroomaf in die Roodeplaatdam waar dit teen hoë koste by die Magalies-waterwerke gesuiwer word. Daarna word dit as drinkwater aan die stad se inwoners verskaf.

Buiten vir die gesondheidsgevare wat Roodeplaat se water vir die mens inhou, is die vislewe in dele van die dam byna uitgeroei. Die dam se inloop is volgens die amptelike soneringsplan ʼn verbode gebied juis omdat visse en voëls daar broei, maar die inheemse visspesies kan nie in die besoedelde water lewe nie.

“Wat eens ʼn voël- en visparadys was, is nou een groot slikdam vir die Stad Tshwane,” sê Kobus Fell wat ʼn oord by die dam bedryf.

Die enigste manier om die slik te verwyder is om die dam te bagger. Die Tshwane Metro het reeds meer as ‘n jaar gelede onderneem om die baggerwerk te laat doen maar daar is steeds nie ‘n kontrakteur aangestel nie.

Foto: Verskaf

Daar is al etlike jare probleme by die Baviaanspoort-aanleg wat ontwerp is om sowat 40 miljoen kubieke meters riool per dag te verwerk, maar by tye byna dubbeld soveel ontvang.

Kenners met wie Maroela Media gesels het, is dit eens dat grootskaalse verstedeliking daartoe gelei het dat rioolstelsels feitlik oral permanent onder druk is.

In die laaste twintig jaar het baie eiendomsontwikkeling suid van die Baviaanspoort-aanleg plaasgevind. “Mens kan net wonder wie teken al die ontwikkelings af sonder om na die langtermyngevolge te kyk,” sê Deon Esterhuizen, ʼn onafhanklike watergehalte-konsultant. “Ons almal wil skoon drinkwater hê, maar ons kyk nie waar ons riool heen gaan nie.”

Die besoedeling van die Pienaarsrivier word boonop vererger omdat afval van nywerhede, ʼn varkplaas, ʼn hospitaal en heelwat informele nedersettings stroomop in die spruite beland wat die rivier en uiteindelik die Roodeplaatdam voed.

Foto: Verskaf

ʼn Verdere bydraende faktor tot die probleem is kabeldiefstal. Die reeds benarde situasie het verder vererger toe elektriese kabels in Junie 2017 by die Baviaanspoort-aanleg gesteel is. Dit was vir drie dae buite werking, maar die nuwe kabels is binne ʼn dag weer deur diewe weggedra. Volgens ʼn interne skrywe van die Tshwane-metro wat Maroela Media onder oë gehad het, het die aanleg daarna vir tien dae gestaan en tonne rou riool het in die Pienaarsrivier beland.

Fell het die besoedeling die afgelope twee jaar herhaaldelik tot op die hoogste vlak rapporteer. ʼn Lid van die Gautengse provinsiale wetgewer, Adriana Randall, het die omgewing as ʼn rampgebied beskryf nadat sy persoonlik gaan ondersoek instel het.

Die Tshwane-metro se omgewingsbestuurspan het ook besoek afgelê en in Desember 2017 het die departementshoof, Mthobeli Kolisa, ʼn sogenaamde direktief aan sy eie werkgewer uitgereik. Dis op Tshwane se destydse stadsbestuurder, dr. Moeketsi Masola, bestel.

In die direktief bevestig Kolisa dat die Baviaanspoort-aanleg nie ontwerp is vir die toenemende hoeveelheid riool wat daagliks verwerk moet word nie. Hy beskryf ook die gebrek aan instandhouding by die aanleg: daar is nie genoeg werkende toerusting nie, verskeie moniteringskontrakte het verval, riool-oorvloei het reeds die grondwater besoedel, slik het in ʼn openbare pad afgeloop en rou riool het in die stormwaterpype beland.

Foto: Verskaf

“Baviaanspoort-waterwerke, en dus by implikasie ook die Tshwane-metro, het die nasionale Waterwet, die Grondwet en die Handves van Menseregte oortree,” was Kolisa se slotsom.

Eers twee maande na die direktief uitgereik is, het die departement water en sanitasie (nou water, sanitasie en menslike nedersettings) uiteindelik ingegryp. Die waarnemende provinsiale hoof van die departement, dr. Tseliso Ntili, het toe ʼn tweede direktief aan Tshwane uitgereik.

Die opskrif het dit duidelik gestel dat die munisipaliteit versuim het om redelike stappe te doen om besoedeling in die Pienaarsrivier te voorkom of te stop. ʼn Lang lys van oortredings was ingesluit en daaruit blyk dit dat die departement reeds lank voor die 2017‑rioolstorting druk op Tshwane geplaas het om dringend aandag aan die probleme by Baviaanspoort te gee.

Volgens die tweede direktief het Tshwane die departement om die bos gelei deur voor te gee dat alles onder beheer is en ʼn plan van aksie ingestel was. Dit was nie waar nie en die departement het die metro aangesê om binne sewe dae hulle planne met die Baviaanspoort-aanleg aan die departement te verskaf en op te hou om riool te stort.

Foto: Verskaf

Indien die direktief nie nagekom word nie, sou verdere stappe teen hulle gedoen word. Tshwane het niks daadwerkliks gedoen nie en die departement het ook nie hulle dreigement uitgevoer nie.

Nogtans sê die departement se woordvoerder, Sputnik Ratau, daar is ernstige kommer oor die besoedeling. “Die departement hoop dat die taakspan wat in die vooruitsig gestel word ons werk sal versterk.”

ʼn Tshwane-amptenaar wat anoniem wil bly, sê die departement moes lankal gesorg het dat die munisipaliteit sy werk doen. “Hulle moes die munisipaliteit beboet het, want Tshwane voldoen nie aan voorwaardes van hulle waterlisensie nie.”

Die amptenaar sê verder dat die enigste oplossing is om Baviaanspoort op te gradeer. “Dit is ʼn noodtoestand en dit gaan minstens R50 miljoen kos om die aanleg te herstel.”

In antwoord op navrae het Lindela Mashigo, die Tshwane-metro se woordvoerder, gesê twee van die ouer eenhede by Baviaanspoort is nie in ʼn werkende toestand nie. ʼn Kontrakteur is glo reeds besig om een op te gradeer en dit sal die kapasiteit met sowat 16 miljoen kubieke meters verhoog. Die opgradering sal in die huidige finansiële jaar voltooi word.

Foto: Verskaf

ʼn Bedrag van R40 miljoen vir die opgradering van die aanleg is in Tshwane se konsepbegroting vir 2019‑’20 ingesluit.

Intussen het die departement van omgewingsake skielik opgehou om gif aan die oewerbewoners te verskaf waarmee hulle die waterhiasinte op die dam op eie koste in toom gehou het. Die plante floreer in Baviaanspoort se afvalwater wat ryk aan nitrate en fosfate is en die dam kan binne dae met hiasinte oortrek word, veral in warmer weersomstandighede. As die dam onbegaanbaar is, kan watersport nie meer plaasvind nie en ontspanningsoorde en hotelle op die oewer verloor dan besigheid of moet selfs hulle deure sluit.

Foto: Verskaf

Die Roodewag‑ en Pienaarsrivier‑forum het vroeër hierdie week ʼn prokureursbrief aan die departement gestuur waarin hulle vra wie die voorsiening van die gif gestop het en waarom dit gedoen is. Die brief verwys na die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne waarvolgens waterhiasinte as ʼn verbode onkruid verklaar is wat, waar dit moontlik is, uitgewis moet word.

“Die verantwoordelikheid rus op beide die eienaar sowel as die staat,” lui die brief. “Met die somerseisoen op hande gaan die waterhiasinte vinnig vermeerder en al ons vorige pogings om die plante onder beheer te bring sal dan verniet wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Ditsem ·

Die regering gaan niks doen nie. Hulle het niks daaraan gedoen nie en hulle wil niks daaraan doen nie. Alles waar hulle in beheer is val uit mekaar. Want Klaas kan nie vir Klaas bestuur nie en al die Klase wil net Base met vet blink pense wees. Dis bewys oor en oor.

Disselboom ·

Stem saam die huidige regering gaan dit nie opruim en reg bestuur nie – die volgende vraag is dan: hoe gaan dit regkom?

marous ·

Skep emmers vol en gaan gooi dit in hul ontvangs lokale en raadsale uit !

Skoon Water ·

Die munisipaliteite kan baie werk skep deur by alle dorpe naby riviere, rioolaanlegte te bou en op te knap. Daar is egter breinkrag nodig om die voordele daarvan in te sien!

Arina ·

Die DA het belowe om beter as die ANC te regeer in Pretoria, maar hul bestuur stink lettterlik. Dankie vir Kobus Fell en sy span wat die staatsorgane aanspreeklik wil hou vir hul wetlike pligte, wat hul nie aan wil voldoen nie.

Penellope Jones ·

Dalk weet munisipaliteite nie hoe kosbaar water is, waar dit vandaan kom en hoe om dit skoon te hou, vir selfs hulself nie. . . .

Gert van Wierdapark ·

“Nog ‘n bietjie Slaap, nog’ n bietjie Sluimer”, dan sien die DA sy watsenaam in Tshwane!!!

Pieter ·

Ag die regerings amptenare is doodgelukkig met die omstandighede want daar is nog baie skoon water by Checkers. Hulle weet nie eers daar is ‘n verskil tussen vuil en skoon water nie.

Dolf ·

Die departement van waterwese word vir jare al wanbestuur en is nou bankrot. Die metros en munisipaliteite dieselfde. Daar is nie juis hoop nie.

lewies ·

Stel ook iemand aan wat die kostes kan bereken wat agv onverantwoordelikheid en onbevoegdheid in munisipaliteite is, wathierdie chaos veroorsaak het.

Ralize Luus ·

Gister Hartebeespoortdam gesien. Net so ‘n ramp. Mens sien amper geen water met d hiasinte nie. Dit is ‘n absolute skande dat ons waterbronne so lyk. Skande skande skande.

Sleep voort ·

Raak maar gewoond aan die gemors as jy in Afrika (wil) bly.

Akademi Buktu ·

Binnekort? Sou dit enigiets vroeër as nooit beteken?

Attie. ·

Straatname en die OuVlag is baie belangrikker as water. Daar val mos binnekort weer baie water gratis in die vorm van reen, nou waarom kla almal. Die riool hou gelukkig ook ons damme vol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.