Só raak nuwe pensioenreëls jou sak

geld-finansies-ekonomie

(Foto: Steve PB/Pixabay)

In ’n poging om Suid-Afrikaners aan te moedig om vir hul oudag te spaar, nie hul pensioengeld voortydig te verkwis en op die staat vir ’n ouderdomspensioen te moet steun nie, is die pensioenfonds-speelveld sedert 1 Maart vanjaar gelyk gemaak.

Die harmonisering van die pensioenfondsbedryf, waar alle pensioenfondsopsies oor dieselfde regulasiekam geskeer word, sou reeds op 1 Maart 2016 in werking getree het, maar is met vyf jaar vertraag weens ’n uitgerekte konsultasieproses met rolspelers in die bedryf. Dit kom nadat die belastingvrye belegging wat mense in ’n pensioenfonds kan maak, reeds in 2016 van 15% van jou belasbare inkomste tot 27,5% (tot ’n maksimum van R350 000 per jaar) opgestoot is.

Volgens Jaco Mostert, finansiële adviseur by Solidariteit Finansiële Dienste (SFD), kom die hervorming van die bedryf, oftewel T-dag, op ’n baie goeie tyd.

“Navorsing toon dat so min soos vyf uit elke 100 professionele beroepslui genoegsaam vir hul oudag voorsiening maak.

“Die jongste stappe deur die nasionale tesourie is enersyds om die pensioenfondsbeleggingsvoorskrifte te vereenvoudig en andersyds om mense teen hulself te beskerm. Te veel mense laat hul pensioengeld op 55-jarige ouderdom in kontant uitbetaal, belê dit nie weer in ’n pensioenplan nie en raak dan in die knyp as dié geld opraak.”

Shaun Duddy, senior bestuurder van produkontwikkeling by Allan Gray, het op dié beleggingsgroep se webtuiste gesê die jongste wysigings is beslis ’n stap in die regte rigting. “Die belyning van die aftreefondsvereistes, in kombinasie met die verhoogde besparings in aftreefondse, aansienlik beter belastingvoordele, en die toenemende gebruik van annuïteite om ’n inkomste ná aftrede te verseker, behoort die vlak en volhoubaarheid van mense se pensioengeld ’n broodnodige hupstoot te gee.”

Hoe het sake verander?

  • Voor 1 Maart 2021 kon voorsorgfondslede hul aftreevoordeel ten volle as ’n kontantbedrag laat uitkeer en hoef hulle nie ’n pensioen by ’n geregistreerde versekeraar te koop wanneer hulle afgetree het nie. Hierteenoor moes pensioenfondslede minstens twee derdes van hul aftreevoordeel gebruik om ’n pensioen te koop, tensy die totale voordeel minder as R247 500 was.
  • Vanaf 1 Maart 2021 word aftreevoordele uit voorsorgfondse oor dieselfde kam as pensioenfondse geskeer. Die veranderings beteken dat jy minstens twee derdes van jou aftreevoordeel moet gebruik om ’n pensioen by ’n geregistreerde versekeraar te koop, tensy die totale voordeel R247 500 of minder is.

Hoe raak dit my sak?

Volgens Herb Lewis, ’n finansiële adviseur van Investing for Tomorrow in Parktown, Johannesburg word daar onderskei tussen ’n gevestigde belang (“vested benefits” of “vested rights”) en ’n niegevestigde belang of voordeel.

“Die gevestigde belang is enige geld wat voor 1 Maart 2021 in die pensioenfonds belê is, asook die rente daarop. Die gevestigde belang is van die nuwe reëls vrygestel en kan steeds by aftreeouderdom in kontant geneem word. Die niegevestigde belang is enige geld en rente wat ná 1 Maart 2021 in jou pensioenspaarvarkie gesit word.”

Die reëls verskil vir mense wat ouer of jonger as 55 jaar is:

  • 55 jaar of ouer – Jy word nie deur enige van die nuwe reëls geraak nie, mits jy by dieselfde voorsorg- of voorsorgbewaringsfonds bly. As jy egter van pensioenopsie verander (van een fonds na ’n ander skuif), kan jy jou gevestigde belang in kontant laat uitkeer, maar jy moet twee derdes van die niegevestigde belang (as dit meer as R247 500 is) gebruik om ’n pensioen te koop.
  • Jonger as 55 jaar – Jy kan die gevestigde belang by aftrede in kontant neem, maar jy moet twee derdes van die niegevestigde belang (as dit meer as R247 500 is) gebruik om ’n pensioen te koop.

Hoe gemaak as jy jou werk verloor? Volgens Lewis is die vereiste om ’n pensioen te koop slegs van toepassing wanneer jy aftree.

“As jy jou werk verlaat ná bedanking, aflegging of ontslag, hoef jy nie ’n pensioen te koop nie en behou jy die opsie om jou pensioengeld in kontant te neem, natuurlik onderworpe aan belasting.”

Wat emigrasie betref, het die nasionale tesourie ook begin om pensioenfondsregulasies te verslap. Volgens Mostert kon jy voorheen slegs geld uit jou pensioenfonds onttrek nadat jy deur die formele emigrasieproses gegaan het.

“Jy hoef voortaan net te bewys dat jy vir drie jaar nie meer in Suid-Afrika woon nie. Hoewel nuwe emigrante drie jaar sal moet wag, kan diegene wat reeds geëmigreer het en nie toegang tot hul geld kon kry nie, wel nou hul hande daarop lê.”

wins-finansies

(Foto: Nattanan23/Pixabay)

Pensioen (net) vir oudag bedoel

Met die koronaviruspandemie wat talle huishoudings in ’n finansiële knyptang geplaas het, is die versoeking groot om jou swaarverdiende pensioengeld te gebruik om die gelddruk te verlig. Ontleders is dit egter eens dat dit allermins ’n wyse besluit is.

Volgens Mostert behoort enige kontantuitkering van pensioengeld baie omsigtig oorweeg te word.

“Ofskoon dit dalk ’n reddingsboei op kort termyn is, verloor mense wat voor of op 55 jaar hul pensioen in kontant laat uitkeer, heelwat geld aan, onder meer, saamgestelde rente (rente óp rente) en ’n groot deel van dié koek word boonop deur belasting opgeslurp.

“Baie mense kan eintlik nie bekostig om op 55-jarige ouderdom af te tree nie. Op die koop toe is die wêreldneiging dat mense ’n baie produktiewe werkloopbaan tot diep in hul sestigs kan hê. Indien dit moontlik is om ná 55 jaar steeds aan te hou werk, jou geld in dieselfde fonds of ’n ander pensioenopsie te belê, is die beste keuse,” meen Mostert.

Lewis stem saam en sê dié “vinnige kontantinspuiting” is soos ’n sambreel as ’n reënbui uitsak, maar pensioen is ’n (permanente) dak oor jou kop in die lewensfase waar jy dit die nodigste het.

“Enige onttrekking meer as die belastingvrye bedrag, maak nie saak op watter ouderdom nie, is nooit slim nie. Pensioengeld behoort vir niks anders aangewend te word as om jou salaris ná aftrede te vervang nie.”

Vyf vinnige feite

  • Volgens BankservAfrica se data kry net ’n vyfde van Suid-Afrikaners ouer as 60 jaar (oftewel slegs 1 miljoen uit 5,3 miljoen mense ouer as 60) ’n pensioen uit ’n voorsorg-, voorsorgbewaringsfonds of pensioenfonds.
  • Die gemiddelde maandelikse pensioen wat mense uit dié fondse ontvang, is R5 531.
  • Hierteenoor is sowat 3,6 miljoen mense (wat minder as R6 510 per maand verdien of minder as dié bedrag uit ’n pensioenfonds ontvang) afhanklik van die staat se Sassa-ouderdomspensioen van R1 890 per maand (as jy ouer as 60 is en R1 910 vir diegene ouer as 75 jaar).
  • Volgens Alexander Forbes se Member Watch-ontleding tree ongeveer 50% van mense met minder as ’n vyfde van hul laaste salaris af. Hoewel die nuwe pensioenfondsregulasies nie hierdie probleem oplos nie, verseker dit wel dat mense minstens twee derdes van hul aftreefondsvoordele vir die beoogde doeleindes daarvan gebruik – om ’n lewenslange inkomste of annuïteit ná aftrede aan die pensioenaris te bied.
  • Batebestuurders kan pensioengeld tans, ingevolge regulasie 28 van die Pensioenfondswet, soos volg belê: 75% in aandele, 25% in genoteerde eiendom, 30% in buitelandse bates en 10% in verskansingsfondse.

Konsepwetwysigings wat onlangs vir openbare kommentaar gepubliseer is, maak voorsiening daarvoor dat tot 45% van pensioenfondsgeld in infrastruktuurprojekte in Suid-Afrika belê kan word, asook ’n bykomende 10% in infrastruktuur in Afrika. Regulasie 28 is daarop gemik om mense se aftreegeld te beskerm teen portefeuljes wat nie voldoende gediversifiseer is nie.

  • Dawid Brand is ’n vryskutjoernalis van Kempton Park. Die inligting in hierdie artikel is nie bedoel as ’n persoonlike aanbeveling, raad of voorstel oor die geskiktheid van ’n finansiële produk of optrede soos omskryf in die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste (FATD) nie. Dit is baie belangrik om betroubare finansiële advies in te win voordat jy enige veranderings aan jou pensioenfondsbelegging aanbring. Solidariteit Finansiële Dienste (FSP 15556) bied onafhanklike finansiële advies. Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na [email protected]of besoek sfdienste.co.za. Kontak Herb Lewis van Investing for Tomorrow by [email protected] of besoek www.investingft.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Willem ·

Wat word van my staatspensioen? Volgens hulle kry my vrou 75%. As sy sterf is daar nie ń sent van my geld wat na kinders gaan. Kan iemand my antwoord asb

Francois Le Cochon ·

Willem, jy behoort aan ‘n vaste voordele fonds. Die staat befonds die GEPF en belaal jou ‘n gewaarborgde pensioen. Jou pensioen word nie bereken deur die hoeveelheid geld wat jy in die pensioenfonds het nie, aangesien jy geen geld in die GEPF het nie. Jou pensioen word bereken deur ‘n formule. Tans ontvang jy ‘n pensioen, en na jou dood jou vrou. As sy tot sterwe kom staak die pensioen en is daar geen geld wat na jou boedel gaan. Indien jy wou gehad het dat daar geld na jou en jou vrou se afsterwe moes gewees het, moes jy jou aktuariele bedrag uit die GEPF geneem het, en vir jou ‘n pensioen by Sanlam, Allan Grey of 10X gekoop het. Dan sou jy in die omgewing van R4000-00 per maand per miljoen rand belegging gekry het, met geen waarborge nie, maar afhangende van finansiele prestasies, wat ‘n groot risiko is. Jy is baie beter af by die GEPF.

Alet ·

Verduidelik asb vir my hoe mens moet spaar. Afgelope drie jaar al geen verhoging gekry nie. Eskom gaan mal elke jaar om krag te verhoog en al die ander goed se pryse gaan op. Daar was onlangs ‘n artikel dat volgens statistiek bewys is dat ‘n werkende persoon iets soos 20% minder fondse het as drie jaar gelede. Nou vertel vir my wat spaar jy. Brood en melk geld of jou petrol geld?

Chantel ·

Hoe belaglik is dit, so hulle wil my swaarverdienste geld gebruik om infrastruktuurprojekte te “fund” en as ek dan die geld benodig, waar de hel kry hulle daai geld wat hulle “leen” by die menste. Belaglik man

Objektief ·

Die probleem is dat die versekeringsbedryf mense uibuit omdat jy nou gedwing word om die geld te bele in n versekerings maatskappy. Ek het kwotasies gekry en ek kan beter doen ten opsigte van sekuriteit en opbrengste as wat hulle my kwoteer. Opbrengste op sogenaamde ” perpetual annuities is minimaal en jy sit na n paar jaar met geen kapitaal nie. En dit is al wat hulle aan jpou probeer smous. Onthou , hulle eerste prioriteit id hulle eie sak, nie joune nie

OW ·

Ek kan nie met jou saamstem nie.As jy ‘n lewende annuiteit uit neem kan jy jou ontrekkingskoers beheer en jy begin nie met maksimum ontrekking nie.Daar is reëls neergelê hoe jy ‘n annuiteit bestuur.Die geld word ook nie net belê nie.Dit word % gewys belê in spesifieke fondse wat insluit bv 20% op die beurs en 80% op stabiele fondse.Jy kan enige tyd verander as ‘n bateklas nie presteer nie,sonder enige kostes.Die instansies het cfp’s wat baie goeie raad gee teen minimale koste.Hulle het ook toegang tot fondse wat jy as enkeling nie toegang het nie.As toestande bv aanhoudend sou versleg dan kan jy jou annuiteit omskakel na ‘n vaste gewaarborgde pensioen.Die beurs bly oor ‘n lang tydperk die beste groei en dit is bewys.

Vrijburger ·

Drie hoof probleme / vraagstukke:
– Een, slegs 30% persent mag in buitelands bates bele word.
– Twee, 45% moet toekomstig in infrastruktuur projekte in SA bele word.
– Onstabiele / verswakkende Rand.
Ek is oud genoeg om te onthou wat met Rhodesie / Zimbabwe se pensioenfondse gebeur het. So dankie, maar nee dankie. Dit wat ons kon, is reeds in die buiteland bele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.