Kersfees agter tralies vir Klerksdorp-paar wat glo mishandel

Klerksdorp Kindermishandeling

Hope vuil klere in die huis. (Foto: Verskaf)

ʼn Ma (21) en pa (38) van Klerksdorp in Noordwes, wat van kindermishandeling en verkragting beskuldig word, sal Kersfees agter tralies deurbring.

Die ouerpaar se borgtogaansoek is Dinsdag in die landdroshof in Klerksdorp aangehoor en van die hand gewys.

Albei het aangevoer dit sal in die belang van reg en geregtigheid wees om op borgtog vrygelaat te word en het aangedui dat hulle R1 000 vir borgtog kan bekostig.

Die hof het hul aansoek geweier weens die ernstige aard van verwaarlosing waarin hul drie kinders aangetref is.

Henry Mamothame, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, sê die ouers sal weer volgende jaar in die hof verskyn. “Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.”

Unchain Our Children, die liefdadigheidsorganisasie wat gehelp het om die drie sibbe te red, het die hof se besluit verwelkom. Vrywilligers van die organisasie het van die kinders se beweerde omstandighede te hore gekom en die owerhede ontbied.

Die kinders, twee sussies van onderskeidelik nege maande en drie jaar oud, en hul tweejarige boetie, is in ʼn plek van veiligheid geplaas. Die huis, in die Dawkinsville-woongebied, was glo vuil en vervalle met weinig kos vir die kinders. Hulle was na bewering onversorg en bedek in hul eie ontlasting.

Klagte word ook ondersoek of die twee sussies moontlik verkrag is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.