Kommer oor Afrikaans as geloofstaal

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk. (Foto: Maroela Media)

Die toenemende afskaffing en verskraling van Afrikaans in kerkverband is hoogs problematies vir Afrikaanse geloofsgemeenskappe.

Dit was die gevoel onder akademici, filosowe, rolspelers uit verskeie geloofsgemeenskappe en belangstellendes wat verlede week aan die Afrikaanse Taalraad (ATR) se geloofstaalsimposium in Wellington deelgeneem het. Daar is uiteenlopende perspektiewe geopper in reaksie op die ATR se uitnodiging om saam oor Afrikaans as geloofstaal te beraadslaag.

“As jy iets sê wat uit jou hart uit kom, is dit geweldig moeilik om dit in ʼn ander taal te probeer verwoord. Hoe kommunikeer jy met jou Skepper in ʼn tweede taal?” het dr. Hendrik Theys, verbonde aan die ATR, gevra.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, is van mening dat Afrikaans seggenskap as geloofstaal kan verloor as dit nie meer ʼn aktiewe rol in die gemeenskap vervul nie.

“As Afrikaans nie die taal van mense se harte gaan wees nie, as die taal nie metafore gaan vind om te sê daar is ʼn alternatiewe, beter lewe nodig as wat ons tans in Suid-Afrika het nie, en as Afrikaans as kerk- en geloofstaal nie ʼn taal gaan wees wat uitdaag nie, sal dit sy sêkrag verloor.”

Dr. Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis, en Carel Boshoff, die hoof van die Vryheidstigting, het daarop gewys dat dit wel nie die kerk se plek is om hom met taalkwessies te bemoei nie.

“Ons eerste taak is die verkondiging van ʼn evangelie, nie ʼn taal nie,” meen Hanekom, terwyl Boshoff gesê het dat “dit nie ʼn geloofsgemeenskap se werk is om taalaktivisties te wees nie”.

Theys het aangevoer dat godsdiens ʼn integrale deel van taal en menswees is. “Dit is ʼn voertuig om waardes en kultuur oor te dra. Daarom is dit veral belangrik om te kyk hoe ons kan help dat kinders van kleins af waardes leer, in ʼn taal wat hulle verstaan.”

Hy voer aan dat daar dikwels kommunikasiegapings in geloofsverband ontstaan wanneer kerke gerieflikheidsonthalwe op eentaligheid ter wille van ʼn klein minderheid besluit. Dit is ook dan dikwels ten koste van die groot meerderheid Afrikaanssprekers.

Dit is onder meer die geval by die AGS Eersterust, Pretoria. Hoewel dié gemeenskap hoofsaaklik Afrikaans is, het die gemeente ter wille van ʼn minderheidsgroep van meertaligheid na Engels-eentaligheid geskuif.

Theys het ook na ʼn Afrikaanse gemeente in Eersterivier verwys waar ondeurdagte taalbesluite ʼn groot impak op gemeentelede se bywoning het omdat hulle gewoon nie die prediking in Engels verstaan nie.

Net so het die NG Kerk Andrew Murray in Johannesburg besluit dat Engels ʼn samebindende bron is en daarom het dié gemeente ook verengels. “Ons weet nie of dit wel samebindend is nie, want geen proses is gevolg om te bepaal wat die gemeente se behoefte is nie,” sê Theys.

Simposiumgangers wat die Afrikaanse Taalraad en Hugenote Kollege se geloofstaalsimposium in Wellington bygewoon het. (Foto: Maroela Media)

Dié simposium is in samewerking met Hugenote Kollege by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit aangebied en dit vorm deel van die ATR se fasilitering van ʼn uitgebreide navorsingsprojek oor die huidige stand van Afrikaans as geloofstaal.

Prof. Wannie Carstens, buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en navorsingsgenoot van die ATR, het ook die noue verband tussen Afrikaanssprekendes se taal en hulle geloof benadruk.

“Afrikaanssprekendes en hulle geloof is nou versoen. Dit sien ons in die manier waarop jy uiting gee en jouself uitdruk. Geloof bepaal ook die maniere waarop ons leef, en die besluite wat jy neem word hierdeur gerig.”

Hy verduidelik dat die simposium ten doel het om verskillende Afrikaanse geloofsgemeenskappe bymekaar te bring. Dit is dus ʼn vertrekpunt vir ʼn wye spektrum gelowe om saam oor die behoeftes, uitdagings en toekoms van Afrikaans binne die geloofsdomein te begin gesels.

“Hierdie verskeidenheid denominasies wat aan die gesprek deelneem illustreer geloofsdiversiteit, en dit wys dat geloof op verskillende maniere aangepak word.

Van links na regs: Marius Nel (AGS) en Bernard Combrinck, projekleier van die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans. (Foto: Maroela Media)

“As gevolg van geloofsverskeidenheid is daar nie eenduidigheid in die benadering tot geloof nie. Ons beleef dit op verskillende maniere en daarom verskil die wyse waarop geloofsbeoefening plaasvind.”

Carstens het ʼn paar voorstelle gemaak oor hoe die pad vorentoe lyk om te bepaal wat die huidige stand van Afrikaans in die geloofsdomein is.

Moontlike temas wat hy geïdentifiseer het, is die rol van taal in die kerk, taal in die uitleef van geloof, hoe geloof en Afrikaans as geloofstaal in ʼn meertalige samelewing hanteer word, variëteite van Afrikaans in geloofsbeoefening, en Afrikaans se rol as versoenings- en vredestaal.

Indien jy aan die navorsingsprojek wil deel neem of enige navrae het, kan jy ʼn e-pos aan die Afrikaanse Taalraad stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Diepoppie ·

As die predikante nie hulle kerke meer wil “modiniseer” nie dan gaan hulle uitsterf. Ons NG kerk is vir jonger en ouer mense. As jonger mense orrel musiek hoor dan hol hulle die vlaktes in want dan weet jy dit gaan verveelig wees. Ek was so maand terug by n begrafnis wat nog die ou manier van preuk gebruik, ekt amper aan die slaap geraak. Tyd om bietjie daaroor te dink..

Cherokee ·

Poppie, jy kan gerus ook bietjie dink oor ‘modiniseer’ ‘verveelig’ ‘preuk’ ;orrel musiek’ en dies meer. Die gesprek gaan juis oor Afrikaans. As ons nie meer ons eie taal kan praat en skryf, wat sal word van die taal. Om jouself aan te haal ‘tyd om bietjie daaroor te dink’.

De Bok ·

My kerk sing op orrel musiek, en die predikant preek op die ou manier. Tog is die kerk elke week stampvol met ou- en jongmense. Jongmense hardloop nie weg van “vervelige” dienste nie, hulle hardloop weg van kerke wat niks anders bied as die wereld nie. As predikante weer begin praat oor die “moeilike” gedeeltes van die Bybel, sal jongmense (van alle ouderdomme) die kerk binnestroom.

2SentSarie ·

Ons ondervind dieselfde by ons gemeente. Mense is opsoek na ware Heilige Gees geinspireerde Woord bediening. Minder van die Wereld. Vandag se kerke is net “skinny jeans & smoke machines” lok mense maar gee hulle geen “vaste spys” nie! Mense woon die kerke by maar ontvang nie kos van ewigheidswaarde nie. Ons moet die kerk na die wereld neem, nie die wereld na die kerk nie.

Jaco ·

Waarom kla die NG Kerk? Hulle het die regerende nasionale party in die 1980’s en vroeg 1990’d nagepraat met toegewings en hervormings en onderhandeling. Waarskuwings dat ‘n ANC oorname sou lei tot ALLES wat nou in SA skeefloop, insluitend diskriminasie teen Afrikaans, is begroet met “jy is rassisties”, jy is verkramp” en selfs “jy is nie ‘n ware Christen nie”.

Cherokee ·

Jaco, vandat alles anders verloop as wat die ja-stemmer voorspel het, is die neiging om ander mense en instellings te beskuldig, vir dom besluite waaroor die kieser self besluit het, te midde van genoeg inligting om ‘n slimmer besluit te kon maak.

Tewis ·

Julle karring weer aan its wat nie juk nie!!!
Bepaal jul by dit wat gedoen moet word en die om die woord uit tedra.

annie ·

Gaan kerk toe en kry ‘n regte predikant met ‘n Afrikaanse Bybel. Ons Afrikaners val kwaai oor na dieselfde spul wat ons uit te Kaap laat trek het en ons praat Ingels dat dit klap want dan is ons mos grênd. Stem vir die DA as jy nooit weer ‘n Afrikaner in ‘n toppos in ons land wil sien nie.

Alexander ·

Stem vir die VF+ as jy jou stem wil mors en vir die AC(D?)P as jy onnosel is

Alexander ·

Jinne… die (stereo)tipiese Afrikaner het seker erge insomnia soos hul hulself komkommer oor elke liewe ding en nog wat (maar snaaks genoeg… nooit komkommer hul hulself oor kwessies soos klimaatsverandering, diere regte, ens.?)

Nici ·

Die mensdom het nie die vermoe om klimaat te beheer nie. Dis een groot klug om ons bang te praat.

Fluisterwind ·

Dit is omdat taal nie net ‘n instrument vir kommunikasie is nie; dit is ook ingewikkeld gekoppel aan ons kulturele agtergrond, ervarings en emosionele verbintenisse.

Wanneer dit kom by kommunikasie met jou Skepper kan die gebruik van ‘n tweede taal inderdaad ‘n dilemma bied. Geestelike verbindings behels dikwels ‘n gevoel van intimiteit en kwesbaarheid, wat belemmer kan word wanneer jy probeer om daardie sentimente oor te dra in ‘n taal wat dalk nie die nuanses en diepte van jou gevoelens vasvang nie.

Papsak ·

Ag asb begin die dominees noual kla oor afrikaans bou n brug en kom oor julle self asb los afrikaans nou n slag uit lewer julle preke hou mense op die regte paaie en vergeet om oor afrikaans te val ek is jammer ek gaan nie meer kerk toe nie julle gaan julle kerke almal verloor julle krap waar dit nie jeuk nie luister

Pieter ·

Goeie more . Ek reken jy het ook nie die hele berig gelees nie. Dit gaan oor pastore en AGS kerke wat alreed oor eng toe is. Selfd op die foto se onderskrif verwys hulle daarna.
Ek sal maar in afrikaans bly kerk gaan.

Jakkie ·

Ai, jinne…Afrikaans sal net ophou as ons dit ophou praat….Terwyl ons dit praat sal daar aanslae wees maar sal net ophou as ons dit ophou gebruik. Gemeentes en gemeenskappe verander en moet kerke en veral predikante wat hul sout werd is pro-aktief wees. Net so is hier Engelse kerke by ons wat leeg staan want die Engelse mense het gesterf of weg getrek en aanbid hulle nou saam ons in Afrikaans…

Pasop vir veralgemenings en bobbejaan agter die bult gaan haal

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek hoop daai Engelse sal ook baklei vir Afrikaanse skole.

Jakkie ·

Ek stem nie saam nie. Kinders is gemaklik in hul moedertaal en word daardie sinopse in die brein vasgelê in die taal waarmee hul moeders met hul praat.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dalk vandag. Maar oor 30 jaar gaan sake anders lyk. Vandag se kinders is reeds baie gemaklik in Engels. Hulle sal met hul kinders meestal in Engels kommunikeer.

kragaap ·

Taal is die minste van die Afrikaanse kerke se probleme. Die verval is van binne waar die woke agenda meer en meer plek gegee word en die ware evangelie deur die mensgemaakte idees en leringe vervang word. Pad na verdoemenis. In Afrikaans.

Nici ·

Alby kwessies wat jy noem is belangrik. Dis nie die een of die ander nie. Taal laat mense welkom en tuis voel en dis belangrik. Waarheid hou ons op die regte pad.

Marthinus W ·

Arabies en Hebreeus is nie amptelike tale nie. Hoe kry hulle gelowiges dit reg om voort te leef en hul aanbidding te doen?

Petrus Albertus ·

Nee, dit is wel HEILIGE tale binne die Islam en die Judaisme (dus godsdienstrome) , soos Latyn was binne die ou Roomse kerk, maklik om voort tebestan as die gelowiges die taal MOET aanleer ter wille van die godsdiens.

Andre77 ·

Hoeveel Afrikaanse denominasies is daar net in Suid Afrika. Die woord word verkrag deur sekere vertaalings daarom gebruik sekere kerke die KJV om die uitleg te verstaan en better kennis te kan op doen omtrent die woord. Daar is net een woord en dit is God se woord maar deesdae is die vertaalings so verdraai dat dit eerder gesien word as ‘n storie boek.

houopkruip ·

By ander kerke (“daardie” groot kerk ?) miskien, maar dis glad nie waar by ons kerk nie.
Ons predikante word net in Afrikaans opgelei.
En oumense en kinders woon en ervaar eredienste op die tradisionele konserwatiewe manier – in Afrikaans (nie net enkele gemeentes nie).
Gelukkig hou ons kerk hom nie op met snert nie.

Petrus Albertus ·

Ek het baie respek vir Carel Boshoff maar aarde, wat het oor die man se lewer geloop? Jy kan nie geloofsoortuiging en beoefening van die kultuurgemeenskappe waarin dit leef skei nie. Dink hy vir een oomblik die 1933 vertaling van die Bybel was NIE ‘n taalaktivistiese gebeurtenis nie? En dat dit GEEN uitwerking het op jou taalgemeenskap as hulle in ‘n taal anders as hul moedertaal aanbid nie? Nie eintlik ‘n baie protestants/evangeliese uitgangspunt nie.

Michiel ·

Afrikaans is: naasteliefde, orde, wysheid, daadkrag, vriendshap, hulpvaardigheid, vergewing, troots, leierskap..

of

My eie kinders: “Ag, ons praat maar Engels want alles is Engels.”

Chris ·

Ek leer en hoor elke dag iets nuuts. Is die NGK nie reeds te ver in die WOKE slaggat /indoktrinasuie/leerstellings nie? Vra maar net. Ek dink baie keer dat ons Skepper Homself seker al afgevra, dat dit die moeite werd was om te gedoen het wat Hy gedoen het. Die mens is die oorsaak van sy eie ondergang. Ek is bevrees die kerk waarin en gedoop, beleidenis van geloof efgele het se skrif is aan die muur agv die rigting waarin dit inslaan. Die NGK “bestuur” moet lig loop. Een van die dae is saar nie meer beleidende lidmate oor nie.

Pieter ·

Hi Chris, soos menigte ander reken ek het jy seker ook nie die berig deurgelees nie. Hulle verwys na AGS en selfs op die foto opskrif verwys hulle na n AGS kerk wat eng aangeneem het met dienste.

Ek’s nie seker waaroor van julle se debat gaan nie, maar ek sal maar afrikaans bly kerk gaan.

skurweberg ·

Taal het ook alles te doen met ons gedagtes en skryftaal “Afrikaans”

Pieter ·

Ek is al jare uit die land uit, nie omdat ek wou nie, omdat die Here deure oopgemaak het en teken gegee het. Dit gese, hier aangekom moes ons noodgedwonge eng kerk toe gaan. Dis regtig nie maklik as dit gepaart gaan met n ander kultuur nie. Taal word geskep deur kultuur, ek hinker gereeld na afrikaanse kerk dienste. Ek reken julle het geen idee waaroor die bespreking gaan nie, wag tot jy dit verloor het dan sien mens eers die waarde in n moedertaal geloof. Ons is geseend die laaste jaar waar n groot stads afrikaanse kerk, die moeite doen om 600km te ry om 1 keer in 3 maande ons te bedien. Selfs die klomp wat gekla het oor kerk orrels en wat engelse kerke bygwoon het in SA , skielik nou hunker hulle na die ou gereformeerde dienste en sang. Dis nou mense wat van klomp verskillende kerke in SA afkomstig is. Snaaks hoe mense oordeel oor iets wat hulle nog nie beleef het nie. Ek sal nooit afr as n geloofstaal in my lewe afstaan nie. Eng bybels veskil ook hopeloos te veel van mekaar.

Adriana ·

Gaan taal nou bepaal of jy ñ christen is of nie. Die NG kerk moet miskien hul bepaal by dit waaroor kerk gaan, die woord te verkondig en ophou om aan te pas by die sondige samelewing. Mense het nie meer bybelse waardes, almal aanvaar dit wat verkeerd is volgens die bybel deesdae as normaal.

Pieter ·

Hallo Adriana. Ek neem aan jy het ook nie die hele berig of foto opskrifte gelees nie. Dis oor AGS kerke ook wat al reed eng aangeneem het en n foto van hulle met n onderskrif. So ek verwonder my aan waaroor die debat eintelik gaan

AmY ·

Byna al die liedjies in ons kerk is deesdae Engels.
Geen probleem daarmee, maar ek aanbid net makliker in Afrikaans.
Gelukkig is die woord nog in Afrikaans.

trotsNAMSA ·

Ek het grootgeword met die Hollandse BYBEL gelees deur my Oupa. Daarna het ek my eie Afrikaanse BYBEL gekry. As Afrikaanse Kerke nou al stry oor Afrikaans as bedienings taal in ‘n Afrikaanse omgewing, dan bly ek weg van enige voormalige Afrikaanse Kerk. Ek wil in my taal die boodskap hoor, sing, ek wil die Kerk bediening volg soos toe predikante en hul raadslede netjies en in die voorbanke gesit het. Die orrel bring rustigheid. Ek wil op ‘n Sondag na alledaagse gemors luister nie, soos ‘n orkes ! Waar is ons Gesange Boek ? Die liedere wat volksvreemd is, word nou gesien. Niemand bring meer die BYBEL/Gesange Boek saam nie. Gee my ‘n gewyde Kerk in my taal. AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.