Kyk: Chaos toe Pote Human klap op rugbyveld uitdeel

Pote Human het die afgelope naweek ‘n ander afrigter met die plathand bygekom. (Foto: Skermskoot uit die video)

Chaos het die afgelope naweek op ʼn rugbyveld in New York in die VSA uitgebreek toe die Suid-Afrikaanse rugbyafrigter Pote Human die ander afrigter met die plathand bygekom het.

Human is afrigter van die Houston SaberCats wat Sondag in die Major League Rugby-klubkompetisie teen die New York Ironworkers te staan gekom het.

Tydens rustyd het Human hom oënskynlik liederlik vervies toe die Ironworkers se afrigter, Ollie Richardson, glo een van die SaberCats se spelers berispe het, berig SA Rugby Mag.

Beeldmateriaal wat die uitsaaier FS1 gedeel het, wys hoe Human hard praat en vinger wys terwyl hy op die veld storm.

Die voormalige Bulls-afrigter gee Richardson ʼn klap terwyl dié op sy beurt ʼn vuishou probeer inkry. En toe is die gort behoorlik gaar terwyl verskeie ander spelers en beamptes ook inspring voor die stryery eindelik eindig.

News24 berig dat albei afrigters kort ná die voorval uit die Mount Vernon Memorial-stadion begelei is.

Human se SaberCats het die Ironworkers uiteindelik met ʼn telling van 34–27 geklop.

Ondersteuners van die SaberCats het intussen op sosiale media geskerts dat Human die werklike speler van die wedstryd is.

Human is in 2021 as hoofafrigter van die SaberCats aangestel nadat hy in 2020 by die Bulls weg is. Human het in sy laaste jaar as Bulls-afrigter ʼn nagmerrie op die veld beleef en toe die Superrugby-seisoen weens die Covid-19-pandemie afgelas is, het die Bulls in daardie stadium net een van hul ses wedstryde gewen.

Hulle was wel in 2019 die beste Suid-Afrikaanse span in die reeks.

Hy is in Desember 2018 as die Bulls se hoofafrigter aangewys nadat John Mitchell sy tasse gepak het om deel van Engeland se afrigterskorps te word.

Voor dit het hy in Kimberley en in Japan afgerig, terwyl hy ook die hulpafrigter was toe die Bulls hul eerste Superrugby-titel in 2007 gewen het.

Sy afrigterspad het reeds 15 jaar gelede in Pretoria begin, toe hy in 2005 as hulpafrigter van die Ligbloues se Curriebeker-span aangewys is.

As speler het Human meer as 100 wedstryde vir die Oostelike Provinsie gespeel, terwyl hy die Cheetahs in 62 van sy 84 wedstryde aangevoer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

marisa ·

Pote het niks daarmee te doen nie SA slaan sy eie naam met ‘n plank!!

Aai ·

Kom ons kyk of hy aangekla word dan besluit jy as jy die antwoorde het ?

Jean ·

Elkekeer wat die VSA teen die Bokke speel slaan die VSA hulself met ‘n plank.

ZeldA ·

Gaan lees die berig weer mooi stadig deur. Dit lyk nie of jy dit verstaan het nie. Hy is n afrigter vir die Houston SaberCats,

Manie ·

Daai klap is ‘n vulletjie, hy het destyds toe hy nog vir Vrystaat teen Noord-Transvaal gespeel het vir Naas baie harder geklap toe die hom probeer keer het.

Wielspore ·

Houston SaberCats het die wedstryd en die fight gewen… hie hie hie

Republikein in die Wes Kaap ·

Duidelik was daai Yank nog nooit in Despatch nie.

Hendrik ·

Regte Blou-Ossie styl. Pote, jy gooi ons Suid-Afrikaners se naam weg. Die “Red-nek” vryf af aan jou.

SjN ·

Wie onthou nog die Klappe Henning voorval, nou het ons n Pote wat skote uitdeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.