Leon Wessels lig gordyn oor binnewerkinge van MRK

Leon Wessels (Foto verskaf)

Deur Elize Perrin

Menseregte is wêreldwyd in die kollig. In Suid-Afrika is Menseregtedag vir die eerste keer in 1995 gevier om die regte van mense te gedenk. Alhoewel die dag in die res van die wêreld op 10 Desember gedenk word, is 21 Maart plaaslik aangewys as Menseregtedag ter nagedagtenis van die gebeure by Sharpeville. Vir baie landsburgers is die dag egter niks meer as net nog ʼn vakansiedag nie.

In Oktober 1995 is ook die Menseregtekommissie (MRK) gestig as ʼn onafhanklike nasionale institusie, met die taak om vergrype te monitor: proaktief sowel as deur klagtes en regstelling vir sulke oortredinge te soek.

Suid-Afrikaners ervaar egter gemengde gevoelens oor die genoemde kommissie en die kommissie ontvang skerp kritiek.

Leon Wessels, tans ere-doktor in regte aan die Noordwes-Universiteit (NWU), is ʼn man wat na 22 jaar in die politiek, die uitdaging aanvaar het om op die Menseregtekommissie te dien. Alhoewel hy reeds in 2009 die Menseregtekommissie verlaat het, was hy bereid om die gordyn oor die kommissie se werksaamhede ʼn bietjie te lig en vrae daaroor te antwoord.

Jy is as ʼn voormalige NP-parlementslid tydens die apartheidsjare na die MRK. Hoe het u betrokke geraak by die MRK?

Na my politieke loopbaan (1996) wou ek verder in die regte studeer en as advokaat praktiseer. Ek was opgewonde toe ek in 1998 genomineer is as ʼn Menseregtekommissaris. Terwyl ek met doktorale studie in internasionale menseregte in Duitsland besig was, het ʼn parlementêre komitee ʼn telefoniese onderhoud met my gevoer om te besluit of ek ʼn geskikte kandidaat was om die vakature te vul.

Daar was veelparty ondersteuning vir my kandidatuur.

Die ANC was verdeeld: daar was ʼn faksie wat aangevoer het dat ek betrokke was by menseregteskendings en daarom bang was om voor die Waarheid- en Versoeningskommissie te getuig, totdat prof. Kader Asmal hulle oorreed het om hul valse deuntjie te verander. Die parlement het my toe laat weet dat hulle by president Mandela aanbeveel dat ek aangestel word.

Was dit vir jou ʼn maklike en natuurlike besluit om by die MRK betrokke te raak?

Dit was my tuisveld. Regte was my eerste liefde en politiek was ʼn jaloerse minnares. As LLB-student (1972) het prof. Johan van der Vyver, die eerste persoon wat ʼn doktorale tesis in Afrikaans oor menseregte geskryf het en ook die eerste dosent om menseregte as vak aan ʼn Suid-Afrikaanse universiteit aan te bied, my belangstelling in menseregte geprikkel.

Jy het destyds onder sommiges nogal bekend gestaan as ʼn verligte lid van die NP. Het u betrokkenheid by die MRK enige noemenswaardige reaksie uitgelok?

Almal was saam met my bly, maar het hulle harte vasgehou want die MRK was toe reeds in omstredenheid gehul. Ek was verheug oor my kollegas by die Johannesburgse Balie se ondersteuning. Hulle het verstaan dat die MRK ʼn gulde geleentheid bied om nuwe grond te betree.

Hoe het jy hierdie taak benader?

Jy neem die persona aan van jou amp. Ek het gemaklik weggestaan van die politiek, gefokus op die feite voor my en gesoek na die toepaslike regsbeginsels.

Was daar spesifieke uitdagings by die MRK wat jou bybly?

Die MRK-boot vaar, destyds en ook nou, in uiters onstuimige waters. In die boot is daar mense met verskillende agtergronde en uiteenlopende ideologiese oortuigings wat moet saamroei of die boot sink. Die samelewing was, en is steeds, diep verdeeld oor die sake wat voor die MRK dien.

Die grootste uitdaging was hoe bereik jy ʼn ooreenkoms binne die MRK (harmonie binne die boot) en hoe bring die MRK dan redelikheid en kalmte in die samelewing (word die boot veilig aan wal gebring)?

Nog ʼn grootste uitdaging was om verhoudings te bou met skeptiese kollegas en ondersteuningspersoneel wat verwag het ek sou soos ʼn beterweterige “baas” optree. Die vriendskapsbande wat destyds gesmee is, duur voort.

Is jy van mening dat die MRK in sy doel slaag?

Net ten dele. Die werkslading is groot en die vraagstukke ingewikkeld: dit is nie maklik om botsende menseregte-aansprake te balanseer nie.

Op grondvlak is daar dikwels murmurering dat die MRK nie alle sake ewe vinnig en konsekwent hanteer nie. Wat is jou mening?

Ek stem saam. Die emosionele sake trek aandag terwyl ander belangriker sake, wat nie noodwendig op die voorblaaie van koerante pryk nie en wat deeglike navorsing en ernstige oorweging dra, na die agterplaat geskuif word.

Inkonsekwentheid tree in wanneer nuwe insigte ontwikkel word of ʼn ander siening tydens interne debatte die bo-toon voer.

Vir Jan Publiek voel dit soms asof sekere aangeklaagdes, soos byvoorbeeld Julius Malema, se sake te lank sloer en nie tot die punt kom nie. Baie burgers is van mening dat die MRK, en selfs die hof, bang is vir die leier van die EFF en sy party. Is die persepsies gegrond?

Dat sake dikwels te lank sloer, is gewis. Nie alle voorsitters (verskillende generasies in die MRK) hanteer sake dieselfde nie. Barney Pityana, later rektor van Unisa en voorsitter van die Nasionale Lotery-kommissie, en Jody Kollapen, tans regter in die Konstitusionele hof, was hoë profiel voorsitters wat verstaan het wanneer ʼn saak, ongeag politieke ongemaklikheid, dringende aandag verg en dit dan deurgevoer het.

Dieselfde kan nie altyd van al hulle opvolgers gesê word nie. Party het sonder om ʼn merk te maak die toneel verlaat.

Ek kan nie dink dat die MRK of howe bang is vir Julius Malema en die EFF nie; dat hulle versigtig is om foute te maak en later in die Konstitusionele hof gekritiseer te word, is sekerlik waar.

Die MRK se slaankrag is min in die sin dat dit meer aanbevelingsmagte het. Is jy van mening dat die MRK se aanbevelings genoegsame gewig dra?

Die krag van ʼn aanbeveling setel in die gehalte-navorsing van die ondersoek en regsgrondslag waarop die aanbeveling rus. Indien dit swak is, sal die aanbeveling nie ernstig opgeneem word nie. Die MRK het die bevoegdheid om hul aanbevelings in die howe verder te voer. Dit gebeur te min, meestal omdat die proses uitgerek en duur is.

Jy is al ʼn tydjie nie meer betrokke by die MRK nie. Kyk jy nou met ʼn ander perspektief na sake wat voor die MRK dien?

Die afgelope dertien jaar het ek in die kringe van akademici en nie-regeringsorganisasies beweeg en besef hoe hulle die luuksheid het om rustig en diepsinnig sake na te vors. Dié voorreg is die MRK nie beskore nie.

My verwysingsraamwerk is nog dieselfde, maar ek kyk nou met ʼn sagter blik na die slagoffers van menseregteskendings en is meer ongeduldig met die skender van ander se regte. Arrogante en oneerlike politici en staatsamptenare vryf my nou, meer as ooit tevore, verkeerd op.

Wat beskou jy as die grootste uitdagings van die MRK ten opsigte van hul werksaamhede?

Hoe help hulle om rassevooroordele te versag en ook die regering te kasty omdat dié sy plig teenoor die burgery versaak met treurige dienslewering.

Dink jy die MRK het ʼn genoegsame suksessyfer ten opsigte van die sake wat hulle hanteer?

Glad nie, ʼn beter suksessyfer is moeilik omdat die MRK, anders as NRO’s, nie hulle sake kan kies nie en mank gaan aan voldoende bronne.

Lees ʼn mens die kommentaar in koerante, lyk dit asof die publiek nie almal baie vertroue in die MRK het nie. Waaraan sal jy dit toeskryf?

Ek dink die kommunikasie met die publiek is nie altyd na wense nie en soms word daar ook onnodige knievalle voor politici gedoen.

Misbruik die publiek nie soms die MRK met vals klagtes en persoonlike vetes nie?

Dit gebeur. Politici maak ook misbruik van die MRK om politieke punte aan te teken.

Indien jy nou terugkyk op jou tyd by die MRK, is daar iets wat jy dalk nog sou wou doen of anders sou wou doen?

Dit was ʼn vervullende tyd in my professionele lewe: om met landvraagstukke te worstel sonder ʼn politieke bril, was heerlik. Met terugskouing voel dit asof ek die taak eers werklik bemeester het aan die einde van my termyn.

Die swak verhouding met die parlement, aan wie die MRK verslag moes doen, was teleurstellend. Die gevolg was dat ons selde die parlement se samewerking kon kry vir belangrike aktiwiteite. Sommige parlementslede was onvoorbereid en ander gretig om politieke vlieë af te vang wanneer ons voor hulle verskyn het. Die regering se fyngevoeligheid vir kritiek het by meer as een geleentheid gegrens aan kleinlikheid. Ek wens ons het meer sake voor die hof gebring wanneer die regering aanbevelings ligtelik opgeneem het.

Ek moes meer geskryf en gepubliseer het. My boek My Regte, jou regte- kom ons praat (2006) was ʼn druppel in die oseaan, gegewe die outokratiese verlede waaruit die menseregtebedeling gebore is.

Wat sou jou boodskap vir die mense van Suid-Afrika wees met betrekking tot verhoudinge in die land en ook die MRK se werksaamhede?

Daar is aldag en heeldag geleenthede om verhoudinge te bou. In die algemeen is verhoudings tussen mense positief ten spyte van uitspattige uitsprake deur kwaadstokers en politici wat uitsonderlike optredes misbruik vir politieke gewin.

Die MRK is nie bo kritiek verhewe nie, want hulle werk met die belastingbetalers se geld. Daarom moet hulle aktiwiteite, ook die parlement se oorsigrol, met arendsoë dopgehou word. Terselfdertyd behoort die MRK meer te doen om menseregtedebatte aan te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

christo ·

Die MRK is eensydig. Die MRK is vinnig om op sy perdjie te spring as dit diskriminasie plaasvind deur witmense maar as dit andersom is, is hulle traag om op te tree. Dit sal gaaf wees as die MRK ‘n lys saam kan stel wat hulle as “rasaanstootlike “benaming vir wit mense kan publiseer.

annie ·

‘n Menseregte debat? Waaroor nogal? Nog verontregtings aan net een deel van die bevolking? Leon Wessels ly aan totale ontkenning. Hy veg steeds dieselfde oorlog teen sy eie ou windmeul… As die wit mense net… En net geluister het /luister wat ek sê, sal dit beter gaan in die land? Miskien moet die MRK…

Paul ·

Lewe die man nog ? Kan hy nie help met die ” checks ” en “balances” wat hy meyer en de klerk ons belowe het nie ?

Republikein in die Wes Kaap ·

PW moes dié drietal al in die mid-1980s uit die kabinet geskop het. Hulle is verantwoordelik vir baie ellende wat ons nou ondervind.

My siening ·

Mrk is die grootste rassiste wat net ondersoek as wit mense betrokke is, voorbeeld malema kan openlik wit mense sleg sê maar laat ‘n witte ‘n opinie lewer dan word hy beboet buitensporig en gemeenskap diens, maar malema ignoreer alles en betaal niks en gaan net verder aan! Mense regte in die land bestaan nie vir wit mense nie!

Annamarie ·

Leon & Roelfie het lekker “geja & ge amen” op alles wat FW gese het.
.Die witte het Geen Mense Regte in die Nuwe SA.

Chrisp ·

Indien ek die argitek van die totale verval van ‘n eerste wereld land na ‘n hool was sou ek uit skaamte myself uit die openbare oog verwyder het. Nou is hy by die MRK wat die dood en diskriminasie teen witmense en Afrikaners in besonder minag terwyl hy en sy MRK elke moontlike saak teen witmense wat baie keer geen gronde het nie “ondersoek”.

Wessels reken die” vriendskapsbande wat destyds gesmee is duur voort” aan jou vriende sal jy geken word Leon!

Het die man geen skaamte nie?

gehasie ·

Dit is duidelik dat sekeres menseregte geniet, soos George Orwell in sy boek Animal Farm skryf “All animals are equal but some are more equal” en dit is geen wonder dat Lenin gesê het dat “liberals are useful idiots”. Kyk waar sit SA vandag nadat die liberaliste dit beetgepak het…..

houopkruip ·

Wessels, dink jy nou werlik ons mense gee om wat jy, Roelf Meyer, ens, kwytraak ?

Chris ·

Al wat van die “checks and balances” gekom het was, die hele lot van “onderhandelaars” beide kante van die tafel het hul bank “balances” begin “check” en soos mis voor die son verdwyn.

Bennie ·

Ek dink hy pas in by die kommissie. Dit was sy styl by Kodesa en veral sy “vriendskapsbande” verdof uiteraard jou oordeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.