Luister: Akademia se Taalsentrum wil Afrikaans as hoëfunksietaal bevorder

Karien Brits is die taalpraktisyn by Akademia met ʼn liefde vir tale en die stories wat die tale oordra. (Foto verskaf)

“Ons sien wêreldwyd dat tale wat onder druk is, juis dié is wat nie meer ʼn plek in universiteite het nie, en waar daar nie op ʼn akademiese vlak met die taal omgegaan word nie. Daarom is ʼn taalsentrum nodig om seker te maak dat die taal wat ons gebruik op die hoogste vlak bevorder word.”

Só sê Karien Brits, taalpraktisyn by Akademia, oor dié onafhanklike hoër onderwysinstelling se splinternuwe Taalsentrum. Die sentrum is Donderdag tydens ʼn dubbeldoorviering saam met Akademia se BA Taalstudies-graad by Kleinkaap-boetiekhotel in Centurion bekendgestel.

Die taalsentrum se doel is drieledig: Om Afrikaans as akademiese taal uit te bou, akademiese taalvaardighede onder alle studente van Akademia te ontwikkel, en Afrikaans as vreemde taal te bevorder.

Dr. Alé Steyn, departementshoof van tale en kultuurstudies, tree as koördineerder van die taalsentrum op, terwyl Brits die projek vir vreemde tale koördineer, en dr. Annelise de Vries, dosent in professionele studies, die taalvaardigheidsprojek bestuur.

Brits verduidelik in ʼn onderhoud met Maroela Media hoe die taalsentrum beoog om ʼn diens aan die plaaslike en internasionale gemeenskap te lewer deur aanlyn kursusse, taalbevoegdheidseksamens en opleiding.

“ʼn Mens dink nie noodwendig altyd aan Afrikaans as ʼn vreemde taal nie. Mense wat Afrikaans as vreemde taal aanleer, is tipies iemand in die buiteland of sprekers wat nie die taal magtig is nie. Akademia se taalsentrum bied vir sprekers die geleentheid om Afrikaans as vreemde taal aan te leer en taalbevoegdheidseksamens in Afrikaans af te lê.

“Die proses om taalbevoegdheid te bepaal, is op ʼn Europese model gegrond wat evalueer hoe goed ʼn persoon die betrokke taal kan lees, skryf of praat. Hoewel dié projek nog in ontwikkeling is, is ons opgewonde oor die bydrae wat dit gaan lewer.”

Brits verwys na die Europese Raamwerk vir Tale (oftewel die Common European Framework of Reference for Languages) wat van kommunikasievlak (A1 en A2) tot by akademiese vlak (C1 en C2) strek. Bekende instellings wat taalvaardigheidsertifikate uitreik wat op hierdie raamwerk geskoei is, is onder meer die Alliance Française en die Goethe-instituut.

Akademia se Taalsentrum spits hom verder daarop toe om akademiese geletterdheid onder alle studente wat vir ʼn kwalifikasie by Akademia ingeskryf is, te bevorder.

Die instelling werk van die begin van die jaar af saam met die Inter-institusionele Sentrum vir Taalontwikkeling en Assessering (ICELDA) om alle eerstejaarstudente se akademiese taalvaardigheid te toets. Volgens De Vries het meer as 1 200 eerstejaars reeds dié toetse afgelê.

Annelise de Vries is onder meer ʼn dosent in Afrikaans by die private Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia. (Foto: Verskaf)

“Taalbevoegdheid is een van die drie grootste bepalers wat akademiese sukses beïnvloed. Dit behels nie net basiese lees- en skryfvaardighede nie, maar ook kritiese denke, navorsingsvaardighede en die vermoë om met komplekse akademiese tekste om te gaan.

“Op ʼn mikrovlak wil die taalsentrum studente en personeel van Akademia met vaardighede toerus om Afrikaans as hoëfunksietaal te gebruik, en ons hoop om studente, alumni en personeel van die instelling te bemagtig om suksesvol in meertalige werksomgewings te funksioneer.”

Hoewel die taalsentrum sterk op individue se bemeestering en gebruik van Afrikaans fokus, lewer dit ʼn onlosmaaklike bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans as wetenskaptaal.

“Dit vorm deel van ʼn groter taalbeplanningsprojek. Wanneer ons studente oplei en bemagtig om Afrikaans op die hoogste vlak te besig, dan het dit natuurlik ʼn invloed op die uitbreiding van Afrikaans as akademiese taal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Papsak ·

Afrikaans is n mooi taal dankie vir julle wat aan afrikaans dink dit is geen swak of vreemde taal nie trots op my taal Afrikaans dankie !!!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.