Mediakenner ondersoek geleenthede, uitdagings in Afrikaanse media

Prof. Johannes Froneman (Foto: Akademia/Facebook)

Oorlewing, ideologie en geld. Dit is van die grootste uitdagings wat die Afrikaanse media in die verlede moes oorkom, en wat vandag steeds die bedryf se voortbestaan beproef.

Hierdie uitdagings, sowel as geleenthede in ʼn digitale omgewing, is die spilpunt van Johannes Froneman se jongste boek, Ter wille van oorlewing, ideologie en geld, wat Donderdag tydens ʼn joernalistiek-simposium by Akademia bekendgestel is.

Die simposium is deur Akademia se Departement Tale en Kultuurwetenskappe aangebied en Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum, het die gesprek met Froneman gelei.

Wyngaard het Froneman met die bekendstelling van sy boek gelukgewens. “Die werk wat jy doen – ons neem kennis daarvan en waardeer dit.”

Hoewel Ter wille van oorlewing, ideologie en geld ʼn oorsig oor die ontwikkeling van Afrikaanse media bied, is dit nie bedoel om ʼn omvattende geskiedskrywing van die massamedia weer te gee nie.

“Die perspektiewe was altyd die bedoeling – nie ʼn volledige geskiedenis nie. Dit is my perspektiewe, maar ek hoop daar is ander perspektiewe ook in die boek raak te sien – deur my verwysing na baie bronne. Ek skryf oor verskeie publikasies van baie mediagroepe, so as ek praat van die Afrikaanse media sluit dit verskeie rolspelers in,” verduidelik Froneman.

Ander aspekte van die boek wat ook onder bespreking gekom het, was die oorweging vir inhoud, watter onderwerpe in- of uitgesluit word, in hoe ʼn mate die rol van die media oor die jare verander het, diversifisering van die bedryf, en die belangrike rol van gemeenskapsmedia.

Wyngaard het Froneman ook gepols oor aktuele onderwerpe soos die verskynsel van fopnuus, vroue in die media, die voortbestaan van koerante, en veranderinge wat weens die Covid-19-pandemie plaasgevind het.

Prof. Johannes Froneman se jongste boek, ‘Ter wille van oorlewing, ideologie en geld’ is pas bekendgestel. (Foto: Akademia/Facebook)

Froneman is sowat drie jaar gelede deur Akademia genader om ʼn boek oor die ontwikkeling van die Afrikaanse media te skryf. Volgens dr. Alé Steyn, departementshoof van Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia, is daar nie ʼn beter persoon as Froneman om hierdie groot taak te verrig nie.

“Hy het meer as 45 jaar se ervaring en navorsing in hierdie boek ingeploeg. Die boek bevat nie bolangse kennis nie – dit is ʼn diep en fyn waarneming van wat in die Afrikaanse media gebeur het.”

Froneman was voor sy aftrede vir 25 jaar aan die Noordwes-Universiteit verbonde. Hy is tans ʼn buitengewone professor aan dié instelling en hy is die stigter van die digitalemediamuseum Mediamense.com. Hy tree nog gereeld op as kommentator op RSG en Pretoria FM, en sy artikels en rubrieke word op Maroela Media, Beeld, Die Burger, Rapport, eKerk en verskeie ander publikasies gepubliseer.

Ter wille van oorlewing, ideologie en geld word deur Akademia Uitgewery uitgegee. Die boek kos R780 (prys onderworpe aan verandering) en dit kan aanlyn op Akademia se webwerf bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.