Milpark-hospitaal verwelkom nuwe robotiese kollega

Milpark

Dokters gebruik die nuwe robotiese stelsel op ‘n pasiënt in die Milpark-hospitaal. (Foto: Netcare).

Dokters verbonde aan die Milpark Netcare-hospitaal in Johannesburg sal voortaan met robotiese “hande” haarfyn operasies kan uitvoer.

Dit is danksy die splinternuwe en gesofistikeerde Da Vinci Xi- chirurgiese robotstelsel wat dié hospitaal onlangs aangeskaf het.

Hierdie spesifieke robot stel dokters in staat om delikate kolon- en rektumverwante operasies met groter presisie uit te voer. Die robot word deur ʼn chirurgiese span beheer en kan ook bykomende veiligheidstoetste uitvoer wat die span se vaardighede aanvul.

Operasies uitgevoer met dié robot sal ook minder ingrypend as ʼn laparoskopie wees.

Volgens dr. Daniel Surridge, kolorektale chirurg wat spesialiseer in chirurgie met geringe snywerk, is die Da Vinci-stelsel ʼn drastiese verbetering op laparoskopiese chirurgie.

“Die vlak van noukeurigheid wat die robotstelsel bied in vergelyking met laparoskopiese chirurgie is ongelooflik. Daar is nou soveel meer prosedures wat ons met ongelooflike presisie kan uitvoer,” sê Surridge.

Surridge het onlangs bykomende kursusse met betrekking tot die behandeling van rektale en kolonkanker voltooi, insluitend die verwydering van limfkliere met die robotstelsel.

“Die impak van hierdie tegnologie in ons veld is verbasend en word op ʼn tasbare wyse gesien in die statistieke van pasiënte wat gouer ná ʼn operasie kan opstaan en beweeg.”

Pasiënte het ook minder pyn en ongemak ná hul operasies.

“Daar is ook minder bloedverlies en komplikasies wat beteken dat pasiënte minder tyd in die hospitaal deurbring nadat hulle ʼn prosedure ondergaan het.”

Die robot se “arms” is so tenger dat dit net klein openinge in die vel laat ná operasies. Volgens Surridge is die “arms” ook ratser as ʼn chirurg se hand wat beteken daar kan met groter veiligheid op moeiliker plekke geopereer kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.