(M)ooi so, (B)okkaptein (A)driaan

Voormalige Springbok-kaptein Adriaan Strauss spog met ’n MBA. (Foto: Verskaf)

Vir baie oudspelers kan die lewe ná rugby ʼn moeilike pad wees, maar Adriaan Strauss is ongetwyfeld op die regte koers.

Die voormalige Springbok-kaptein het Donderdag sy meestersgraad in besigheidsadministrasie (MBA) met onderskeiding aan die Noordwes-Universiteit (NWU) ontvang.

Strauss het in sy speeldae 66 keer vir die Bokke uitgedraf, terwyl hy ook die no. 2-trui vir die Blou Bulle en die Cheetahs in sy loopbaan gedra het.

Tussendeur was daar die Wêreldbeker-toernooi van 2015, terwyl hy ook aan die stuur van die laaste Springbok-span was wat met Ierland kon afreken.

Strauss-hulle het in 2016 die Ierland-toetse in Johannesburg en Gqeberha onderskeidelik met 32 – 26 en 19 – 13 gewen nadat hulle die eerste wedstryd op Nuweland met 26 – 20 verloor het.

Sy jongste hoogtepunt, dié een van akademiese aard, sal hy nie sommer vir enigiets anders verruil nie.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring; ek het elke oomblik geniet en ek het myself soveel verbeter. Dit is die beste ding wat ek kon gedoen het,” het Strauss in ʼn onderhoud met die NWU gesê.

“Dit verg weliswaar baie toewyding en werk. My raad is om vir die twee jaar wat die kursus loop álles in te neem wat aangebied word. Jy moet voorbereid wees en weet wat op jou wag.”

Adriaan Strauss in sy speeldae. (Foto: GB Jordaan)

Hy het in 2022, ongeveer ses jaar ná sy laaste Springbok-toets, by die NWU op Potchefstroom se Sakeskool ingeskryf.

“Daar is ʼn groot verskil tussen studies en om op die speelveld te wees. Maar as ʼn professionele rugbyspeler moet jy daagliks oefen en jy moet deurentyd aan jou fisieke kondisionering werk. Ek dink juis dat daardie werksetiek met my studies gehelp het.”

Hy reken dat sy mededingendheid ook ʼn rol in sy graadvangsukses gespeel het.

“Met my MBA het ek gereeld met myself gekompeteer om seker te maak dat ek trots is op elke liewe opdrag wat ek ingee. Ja, dit is baie werk en ʼn mens is onder druk, maar ek wou nie substandaardwerk lewer nie.”

Die onderskeiding is egter ʼn lekker meevallertjie.

“My doel was net om deur te kom, om met ʼn onderskeiding te slaag is dus  ʼn aangename verrassing.”

Rugby is ʼn spansport en die MBA was ongetwyfeld ook ʼn spanpoging.

“As dit nie vir my vrou, Carmen, was nie, sou ek dit nie kon doen nie. Ons het drie kinders waarvan die jongste so sewe maande oud was toe ek begin het, dus was daar baie hooi op haar vurk.”

Wat sou hy dan sê is moeiliker – om jou MBA te voltooi of om ʼn All Blacks-span wat op alle suiers vuur aan te durf?

“ ʼn MBA neem ʼn bietjie langer as ʼn toets teen Nieu-Seeland, maar die All Blacks is glad nie ʼn man se maat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Santie Gildenhuys ·

Dubbele gelukwense: aan Adriaan met sy puik kwalifikasie en aan Johann met sy slim, kreatiewe opskrif!

Ronél ·

Rugbyspeler met “brains” en “ball sense”!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.