Navorsers ontdek nuwe spesies luise, chigger-myte in SA

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) het twee nuwe luisspesies en ses nuwe chigger-mytspesies op verskeie plekke in Suid-Afrika ontdek.

Dié spesies is onlangs benoem en aan die wetenskapwêreld bekend gestel.

“Dit wys net hoe ryk die verskeidenheid van parasiete is wat ʼn mens in Suid-Afrika kry, en wat nog wag om ontdek te word,” sê prof. Sonja Matthee van US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie aan die Fakulteit AgriWetenskappe, wat die chigger-myte ingesamel en benoem het.

Die nuwe luisspesies

JC Bothma, ʼn nagraadse MSc-student in Dierkunde, het die twee nuwe luisspesies in die Fraserburg-omgewing ontdek.

Onder leiding van Matthee en prof. Conrad Matthee, molekulêre ekoloog van die Departement Plant- en Dierkunde aan die US fakulteit Natuurwetenskappe, het Bothma die evolusionêre verwantskap tussen parasiete en hul gashere bestudeer deur te kyk na die luise wat op vier Suid-Afrikaanse muisspesies gevind word.

JC Bothma het twee nuwe luisspesies naby Fraserburg ontdek het. (Foto: Verskaf)

Prof. Lance Durden, luiskenner van die Georgie Southern Universiteit in die VSA, het dié luise tydens sy besoek aan die US in 2018 ondersoek.

Twee onbekende luisspesies, skaars groter as 1 mm elk, is tydens Durden se ondersoek gevind. Hy het die tegniese ondersoek, ontleding en beskrywing van die nuwe spesie in die VSA gedoen.

Die spesies het die name Hoplopleura granti en Polyplax megacephalus gekry. Albei is bloedsuiende parasiete wat vir hul hele lewensduur hulself tuismaak op die lyf van ʼn Grant-klipmuis. Die Hoplopleura granti het juis hieroor sy naam gekry.

Die Polyplax megacephalus het sy naam gekry omdat die manlike lede van dié spesie ʼn groot (“mega” in Grieks) kop (“cephalus”) het in vergelyking met meeste van die ander 550 soorte luisspesies wat wêreldwyd gevind word.

Die nuwe chigger-mytspesies

Prof. Sonja Matthee van die Universiteit Stellenbosch het ses nuwe chigger-mytespesies ingesamel en help vernoem. (Foto: Verskaf)

In samewerking met prof. Alexandr Stekolnikov van die So֧ölogiese Instituut van die Russiese Akademie vir Wetenskap het Matthee ses nuwe chigger-myt-spesies geïdentifiseer.

Sy het die myte op veldmuise naby Hoedspruit in Limpopo gekry.

Chigger-myte is kleiner as ʼn millimeter en dus moeilik om met die blote oog raak te sien of uit te ken. Hulle maak hulself tydens die larwestadium op gashere tuis, en val daarna af om verder in die veld te ontwikkel.

Meeste van die 80 Suid-Afrikaanse chigger-myt-spesies waarvan kenners weet kom in KwaZulu-Natal voor, maar min opnames oor hulle is al elders in die land gedoen.

Twee van dié nuwe spesie is ná twee van Matthee se mentors vernoem. Die Ascoschoengastia ueckermanni is ná prof. Eddie Ueckermann, myt- en bosluiskenner van die Noordwes-Universiteit, genoem en die Schoutedenichia horaki het sy naam van prof. Ivan Horak van die Universiteit van Pretoria gekry, nog ʼn myt- en bosluiskenner. Albei het tans afgetree, maar is steeds besig met navorsing in hulle onderskeie velde.

ʼn Derde spesie, Trombicula walkerae, is genoem na wyle dr. Jane Walker wat ʼn kenner van die bosluisverskeidenheid in Afrika was en onder meer handleidings oor die spesies in Botswana en Kenia help skryf het.

Matthee reken dat meer moeite gedoen moet word met opnames oor die verspreiding van spesies en hul beskrywing, aangesien elkeen ʼn unieke rol speel in die behoud van ekostelsels.

“Parasiete verteenwoordig ʼn noemenswaardige deel van die biodiversiteit op aarde, want meer as 50% van alle dierelewe is parasiete of vertoon een of ander vorm van parasitisme tydens hul lewensiklus. Sommige kan ook siektes oordra na mense en diere, en daarom is dit nodig om te weet waar in die land verskillende spesies voorkom.”

“Parasietnavorsing is ʼn verwaarloosde studieveld in Suid-Afrika,” sê Matthee. “Daar is ʼn gebrek aan kundiges in die land en daarom maak ons gereeld van oorsese kollegas gebruik om ons te help om nuwe spesies te beskryf.”

Een van Matthee se voormalige doktorale studente, dr. Andrea Spickett van die Landbounavorsingsraad se Onderstepoort Veeartseny Instituut, het tydens haar opnames oor die inwendige parasiete wat in 13 soorte muisspesies regoor Suid-Afrika gevind word, minstens 13 onbekende soorte wurms gevind.

Hulle moet egter eers formeel bestudeer word om hul uniekheid te bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MARELIZE ·

Ek wens hulle kon hier op ons plaas kom ondersoek doen. Die myte eet ons honde (en onsself) op! Met goegeloer-“navorsing” het ons maar besluit dit moet “red harvest mites” wees, maar synde die berig van Hoedspruit en Botswana melding maak (beide Bosveldtipe omgewing) en ons hier op die Springbokvlakte ook in Bosveld-omgewing woon, kan hulle dalk verband hou met mekaar.

capie ·

Baie interressant. Ek dink dit kan na ‘n paar politici vernoem word.

PS. As Maroela Media my kommentaar wil plaas.

Pieter ·

Dit wys net hoe ryk die verskeidenheid van parasiete is wat ʼn mens in Suid-Afrika kry, en wat nog wag om ontdek te word,”

Stem volkome saam met die geleerde. Die politiek en hul stemvee is vol met parasiete. Die vraag wie is ekonomies-ekologies van waarde.

Andre ·

Daardie naam gaan ‘n paar komissies en stigtings erg op hul agterpote laat spring. En daai outjie van die skole ook!

Jackie ·

In ons staats departemente is meeste al ontdek, hulle moet net ‘ge-name, ge-shame en ge-orange suit’ word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.