Nuuskommentaar: Die rasolifant in die kleinhuisie

Foto: wvu.edu

Onlangs het ‘n e-pos die rondte gedoen waarin die spot met pres. Jacob Zuma gedryf is. Die president sou glo in sy openingsrede van die Afcon-toernooi gesê het hy hoop dat ‘n Afrikaland die Afrikabeker-toernooi wen.

Reeds met die wêreldbeker-eindtoernooi in Suid-Afrika was dit opvallend dat Suid-Afrikaners deur die regering in wese voorgesê is om die spanne van swart Afrikalande te steun, terwyl Arabiese lande van die kontinent nie as ondersteunbare spanne genoem is nie.

Om ook nou vir ‘n African Afrikaland duim vas te hou sou dus nie so vreemd wees nie, maar of dit nie maar doodgewoon rassisme is nie, is ‘n ander vraag.

Een van die lande wat nou deelneem is Mali, wat in ‘n burgeroorlog tussen African Moslems uit die suide, en fundamentalistiese Moslems uit die noorde gewikkel is. Maar dit is kwalik die volle verhaal. Die suide word bewoon deur Africans wat ook die grootste deel van die bevolking uitmaak. Hierdie Africans is histories baie lank deur die ligter Arabiere / More en die Berbers veral Toaregs in die noorde “ontgin” vir slawehandel, en is self ook as slawe aangehou.

Die teenwoordige Mali is ‘n samevoeging van dele van drie antieke ryke, naamlik Mali, Ghana en Songhai. Die oorspronklike Mali was die gevolg van Arabiese besetting uit die noorde en het ‘n antieke ryk opgelewer wat tot aan die see gestrek het, enorme welvaart beleef het, en naatloos ingeskakel het met die Arabiese wêreld. Dit het ook die beroemde universiteit van Timboektoe opgelewer waar Moslemstudente van oor die hele bekende wêreld kom studeer het, in ‘n tyd toe Europa nog deeglik in die Donker Eeue vasgegryp is. Volgens ‘n dokument wat in Egipte gekry is, het die koning van Mali in 1311 geabdikeer en met ‘n vloot van ‘n duisend skepe na die weste gevaar, en nooit weer teruggekeer nie.

Die Franse koloniste kon eers teen die middel van die 20ste eeu die praktyk om swart slawe aan te hou breek, hoewel sommige bronne meen dat die praktyk stilweg, maar op kleiner skaal voortduur. Waaroor die bronne dit eens is, is dat rassisme tussen noord en suid diep gesetel is, en dat die slawepraktyke van die verlede ‘n reuse aandeel speel. Swart en nie-swart beskuldig mekaar van rassisme teenoor die ander.

Dit is nou bronne van nie-Suid-Afrikaanse herkoms. In Suid-Afrika is die hardop noem van ras wat elders ‘n rol speel nog baie sensitief en politiek-inkorrek. In Suid-Afrika word die beeld geskep van fundamentalistiese Moslems wat teen nie-fundamentalistiese Moslems oorlog maak.

In Mali is 90 persent van die bevolking Moslems, en net vyf persent Christene, en nog vyf persent animisties. Die gewapende stryd tussen noord en suid kan dus kwalik as ‘n godsdiensoorlog beskryf word, soos die dekadeslange burgeroorlog tussen Suid-Soedan en Noordelike Soedan, hoewel die konflik daar “toevallig” ook tussen Arabiere en Africans gevoer is. Mali kan eerder met die Darfur-slagting vergelyk word waar die inwoners van Darfur ook Moslems is, maar nie Arabiere nie.

Die rebellie in die noorde was aanvanklik ‘n Toeareg-opstand, wat gelei het tot die afstigting van die “land” Azawad. Die Toearegs, ‘n Berbervolk wat verspreid oor verskeie Afrikalande woon waar hulle oral die minderheid uitmaak, het ‘n baie lang geskiedenis van stryd teen die Arabiere, en het in ‘n stadium Timboektoe by die Arabiere afgeneem.  Hoewel ook Moslems, verskil hul uitleef daarvan heelwat van die Arabiere s’n, en staan baie ver verwyderd van die fundamentalistiese rebelle met wie hulle in ‘n soort alliansie beland het, en wat eintlik die opstand gekaap het. Waar die Toaregs in wese tevrede sou wees met die afstigting van Azawad, wil die fundamentaliste die hele Mali verower en ook die African-deel waar die Islam steeds sterk animistiese kenmerke het, tot die neo-Salifistiese weergawe bekeer. Dit is uit hierdie vorm van fundamentalistiese Islam wat baie van die Moslem-terreurgroepe put, waaronder Al Kaïda, Al Shabaab (Somalië) en die Boko Haram (Nigerië).

En dit is iets wat die Weste bitter graag wil stuit.

Franse ingryping in die Malinese burgeroorlog het kwalik die weermag (van die suide) in staat gestel om gebiede te begin herower, of berigte oor oorlogsmisdade deur die weermag haal die internasionale pers. Ook Human Rights Watch is ontstoke oor die beweerde menseregtevergrype – noordelikes, waaronder Toaregs,  wat sonder verhoor tereggestel word en vroue wat verkrag word.

Die rassekwessie is nie tot Mali beperk nie. Ook in Mauritanië word die African deel van die bevolking swakker behandel en beskuldigings van voortgesette slawerny word steeds  gemaak. Onlangs het ‘n regter gespog dat hy 25 slawe aanhou. Slawerny in dié land is eers in 1981 finaal wetlik afgeskaf.

Etnisiteit en die manifestasies daarvan handel nie altyd oor velkleur nie. Die Mapuche-Indiane van Chili wat nou na eeue se agitasie groter grondwetlike erkenning beloof is, is wat velkleur betref kwalik te onderskei van ander Chilene. Dit handel dikwels eerder oor kultuurgoedere soos taal en gebruike.

In Afrika is met die trek van koloniale grense dikwels ander norme as die menslike dinamika gebruik. Ten spyte van die beginsel van onskendbaarheid van koloniale grense was dit nie oral houdbaar nie, en het Eritrea van Etiopië afgestig, en is Soedan verdeel. Walvisbaai is aan Namibië “teruggegee”. Ethiopië en Nigerië het etniese federasies geword, terwyl sake steeds in die Ogaden woel, en die Kongo oorspoel word van etniese konflikte. Daar was selfs volksmoorde soos met die kortstondige Biafra, en die Tutsi-Hutu-stryd wat eeue oud is. Om maar ‘n paar te noem.

Die olifant in die kleinhuisie trompetter luid, maar politiek-korrek word die ore toegedruk.

Met die bepaling van provinsiale grense in Suid-Afrika was die etniese samestelling een van die oorwegings. Sommige provinsies kon wat die African deel van die bevolking betref, betreklik homogeen saamgestel word, soos Noordwes, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Vrystaat.

Dieselfde sensitiwiteit word egter nie aan die dag gelê wanneer munisipale grense vasgestel word nie. Die feit dat etniese saamvoegings ‘n konflik-potensiaal het, word politiek-korrek verswyg, maar onder die bevolking is die sentimente, gekoppel aan wantroue van voortrekkery, selde afwesig. Die beoogde samesmelting van munisipaliteite wat tot die Sasolburg-anargie gelei het, is ten diepste ook hierin gesetel, maar dié kwessie swyg die media dawerend.

Tribalism is so goed soos ‘n vloekwoord, hoewel daar ook gevalle is waar die olifant sy kop uitsteek, soos toe pres. Jacob Zuma met sy aanvanklike aanslag op die presidentskap sy “hundred percent Zulu boy”-vlag laat wapper het.

Kort na dr. Nkosazana Dlamini-Zuma tot voorsitter van die Afrika-kommissie verkies is, het sy die Afrikaner tydens ‘n “versoeningsberaad” verwyt vir ‘n strewe na die behoud van ‘n eie identiteit, maar kort daarna in die konteks van haar nuwe aanstelling, trots haar Zoeloe-vlag geswaai.

Oor hoe om tribalism aan te spreek kan debat gevoer word tot die perde horings kry, of die olifant in die kleinhuisie van ouderdom dood is – die onder die mat inveëry daarvan is nie een van die oplossings nie.

Om tribalism met ‘n trots African–identiteit te probeer vervang en daardeur ander etnisiteite  te benadeel en van regte te stroop, is ook nie ‘n oplossing nie. Trouens, dit gaan maar broekskeur om ‘n gerekende verklarende woordeboek te kry waarin dit nie as rassisme beskryf word nie. Selfs al word die woord “transformasie” kliphard ingespan om die dryf van ‘n rasse-agenda te probeer verdoel. Om vermanings hieroor as “regs” af te maak is ‘n oorvereenvoudigde stereotipering, en dikwels kwaadwillig vals.

Rhoda Kadalie het by geleentheid politieke korrektheid as die diktatuur van die liberalis beskryf.

Dit beteken nie dat mense van Afrika, ongeag ras, nie trots op ‘n gedeelde Afrika-erfenis kan wees nie. Maar waar was die koor van protes uit Afrika toe die Wêreldmuseum in Rotterdam planne bekend gemaak het om sy Afrika-versameling te verkoop?  Die doel is enersyds om die museum so finansieel sterk te maak dat dit uit rente nie meer van subsidies afhanklik sal wees nie, maar ook om meer op sy Asiatiese versameling te fokus. Die munisipale raad van Rotterdam het voorlopig eers ‘n stokkie voor die planne gesteek.

Maar om een ras as meer African as ‘n ander voor te trek, en in die proses onderlinge verskille tussen die verskillende Africans weg te stroop is nie realisties nie.

In die internasionale politiek word die fiksie dat state gelyk is, so uitgedruk: “State is gelyk en ongelyk tegelyk.”

Om rassisme onder watter naam ook al te probeer verdoesel kom neer op: “Ek is ‘n rassis en daarom nie ‘n rassis nie.”  Om te sê alle rassiste is per definisie wit, is per definisie die toppunt van rassisties wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.