Nuuskommentaar: Lesse vir Suid-Afrika uit Kenia

Uhuru Kenyatta. Foto: thelondoneveningpost.com

Pres. Jacob Zuma se herverkiesing as leier van die ANC verlede jaar, en die verkiesing van Uhuru Kenyatta tot president van Kenia het een ding in gemeen: Die Westerse wêreld kan nie verstaan hoe die twee lande sulke omstrede mense tot hul leiers kan verkies nie.

Die Nederlandse koerant, Trouw, het die afkeer in Zuma se herverkiesing waarskynlik die beste in ‘n spesiale hoofartikel saamgevat, en onder meer geskryf: “Zuid-Afrika verdient een stevige oppositie om de verstrengeling tussen ANC, staat en economie aan de kaak te stellen en te doorbreken. Na achttien jaar is de alleenheerschappij van het ANC niet gezond meer.”

Om te verstaan hoe ’n omstrede persoon soos Zuma selfs oorweldigend herverkies is, moet ’n mens die baie komplekse Suid-Afrikaanse samelewing verstaan. Boonop het die SAUK-TV as ’n openlik kampvegter vir Zuma ingetree, en vir baie van Zuma se aanhangers is die SAUK effektief die enigste nuusmedium.

Nou byt die Weste langtand aan die verkiesing van Uhuru Kenyatta as president van Kenia. Kenyatta, seun van die land se eerste president, moet teen die middel van die jaar saam met ander beskuldigdes voor die internasionale strafhof teregstaan weens die doodslag en ander geweld na Kenia se vorige verkiesing.

Hoewel die rolspelers destyds op die oog af die president, Mwai Kibaki, en die sy opponent Raila Odinga was, was Kenyatta ‘n sleutelfiguur. Kibaki het volgens die meeste waarnemers die verkiesing gesteel om herverkies te word. Na bemiddeling het Kibaki baie van sy mag ingeboet, en het Odinga in ‘n skikking die eerste minister geword, en in baie opsigte die regeerder van die land geword. Kibaki het algaande van die toneel verdwyn. Kenyatta het die adjunk-premier geword.

Kenia, soos Suid-Afrika, is ‘n besonder heterogene land. Meer as 40 tale word gepraat, en die land het ook na die vorige verkiesing ‘n nuwe grondwet gekry wat die land in meer as veertig provinsies verdeel, elk met sy eie goewerneur en ‘n mate van selfbestuur.

Die talle taalgroepe word in drie hoofgroepe verdeel, wat breedweg ook drie baie uiteenlopende kulture verteenwoordig. Die grootste groep is die swart mense wat etnies met Suid-Afrika se swart volke ooreenstem, en oorspronklik uit die Kongo-Nigergebied gekom het. In die internasionale literatuur staan hulle as die Bantoe-sprekende groep bekend – ‘n term wat in Suid-Afrika as politiek uiters inkorrek beskou word.  Hulle maak sowat 67 persent van die bevolking van byna 50 miljoen uit. Die Kikoejoe, waartoe Kenyatta behoort, maak 17 persent van die totale bevolking uit, en is ook die grootste stam in Kenia.

Die tweede grootste groep is die Nylvolke, ‘n groep wat oorspronklik uit die Sub-Shara via Suid-Soedan na Kenia migreer het. Hulle maak 30 persent van die bevolking uit. Die Luo, waartoe Odinga behoort, maak sowat tien persent van die totale bevolking uit.

Die derde groep is die Kussiete, wat Somali’s en Omoro’s insluit, en wat hoofsaaklik met Ethiopië en Somalië as lande van herkoms geassosieer word. Al maak hulle ‘n klein minderheid uit, het dit na onafhanklikheid tot die sogenaamde Shifta-oorlog gelei toe Brittanje sy onderneming verbreek het om hul gebied by Somalië in te lyf.

Histories het die kusgebiede sterk onder Persiese en Arabiese invloed gestaan, en verskeie bekende stede soos Mombassa en Malinde dateer uit hierdie era. Kenia het ook ‘n klein, maar invloedryke Indiërbevolking, terwyl die blankes – dikwels van Britse adel-herkoms, baie invloedryk by die politici is – in skrille kontras met die era van die skrikwekkende bloedige Mau-Mau-opstande.

Bloot demografies geoordeel, het Kenyatta ‘n sterk voorsprong gehad, hoewel die blote feit van soveel stamme en die komplekse geskiedenis ook verseker dat die Kikoejoestam op sy eie nie die mag sal kan oorneem nie.

Anders as in Suid-Afrika, is dit baie maklik om vas te stel tot watter stamme Kenia se politieke leiers behoort. “Tribalism” is nie so ‘n vloekwoord nie, terwyl ‘n taal wat inheems gevorm het, Swahili, naas Engels ‘n amptelike taal is en ook die lingua franca is. Trouens, in Tanzanië, waar Swahili ook die amptelike taal is, is Engels as amptelike taal amptelik, maar nie in die praktyk nie, afgeskaf.

Pres. Jacob Zuma het in sy aantog tot die presidentskap, ‘n politiek-korrekte skei gebreek en onder meer na homself as “100% Zulu boy” verwys. Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma het na haar verkiesing tot die hoë AU-pos ook na haarself as Zoeloe verwys – enkele maande nadat sy dr. Pieter Mulder by ‘n “versoeningsberaad” voor stok gekry het oor die Afrikaner se identiteitstrewe.

Verder is dit, veral uit die politieke leiers se CV’s, moeilik of selfs onmoontlik om vas te stel tot watter stam hulle behoort. Dit kan dikwels uit die gebied van herkoms afgelei word, maar as iemand in Johannesburg – Soweto- gebore en getoë is, is dit baie moeilik.

Breedweg kan dit egter gestel word dat die magsentrum van die ANC sedert die Lethuli-dae gedurende die Mandela-era van die Zoeloes na die Xhosa’s verskuif het. Met Zuma se opkoms het dit weer na die Zoeloes geskuif en die IVP is tot ‘n relatief klein party gereduseer.

Met die aftog wat Thabo Mbeki (Xhosa) moes blaas, het Cope tot stand gekom, met sterk verteenwoordiging van Xhosa’s en Suid-Sotho’s. Dit het effens uitgerafel met die leierskaptwis.

‘n Interessante verskynsel is die opkoms van die invloed van die Noord-Sotho’s. Met die nederlaag van Kgalema Mothlanthe teen Zuma het dr. Mamphele Ramphela met Agang na vore getree, en pas met ‘n besoek aan die voorvaders in Limpopo haar Noord-Soto-herkoms bevestig én beklemtoon. Dit lyk ook of Cyril Ramphosa, ‘n Venda, die leisels by Zuma sal oorneem.

Met die teenspoed wat Julius Malema (Noord-Sotho) by Zuma gekry het, het Malema se steun wat hy aanvanklik by die jeug in KwaZulu-Natal gekry het, na die Oos-Kaap verskuif.

Dit lyk of die stamverwantskap nou ‘n groter rol in die Suid-Afrikaanse politiek begin speel, maar die grondwet het nie werklik meganismes om dit staatkundig te hanteer nie – in elk geval nie soos die grondwet van Nigerië soos dit na die Biafra-oorlog aangepas is nie.

Die “waarborg” vir stabiliteit word dikwels gebou op swart eenheid. Hierin is egter ook ‘n paar probleme opgesluit – dit staan breed in die weg van nie-rassigheid, en kan veroorsaak dat die bedoelings van grondwetlike regstellende aksie as blywende rasbegunstigde bevoordeling verskans word.

Voorts, en hiervan word gereeld manifestasies gesien, word eie mislukkings te maklik die skuld van ander gemaak – en oorle apartheid geblameer. Nie alleen word die werklike oorsake soos korrupsie en onbevoegdheid weens kaderontplooiing misgekyk nie, maar swart mense se selfrespek wat nodig is om oplossings te vind word so ondermyn. Dit hou ook die gevaar in dat die koestering van anti-blanke, of anti-Afrikanersentimente, as die sement gebruik word om swart eenheid te handhaaf. Die ANC se aanvanklike laertrekkery rondom Malema se sangtalent en die feit dat Lulu Xingwana nie summier na haar opmerking oor Afrikanermans en hul Calvinistiese opvoeding afgedank is nie, is manifestasies hiervan.

En dit werk polarisasie in die hand.

Al hoe meer stemme gaan op wat die blindelingse stelling dat Suid-Afrika die beste grondwet ter wêreld het, bevraagteken – ook in uiters kundige geledere.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

H J Bester ·

‘n Vraag wat mens jouself kan afvra, is hoe demokraties en regverdig die verkiesing van afgevaardigdes na die ANC-kongresse geskied – in die besonder die Mangaung-kongres gedurende Desember 2012. Is dit nie maar ‘n geval dat baie van die verkiesings wel tot so ‘n mate gemanipuleer word dat dit hoofsaaklik Zuma-ondersteuners is wat gekies word nie. En die rede daarvoor is voor-die-hand-liggend, naamlik dat diegene wat verkies word en veral diegene wie openlike steun verleen aan Zuma, ‘n beter kans het om op een of ander wyse begunstig te word by oorweging van ‘n posisie in die party of die regeringsdiens. Die wyse waarop vele hulself tot dusver verryk het, is nogal ‘n groot aantrekking vir die gewone ANC-ondersteuner om ook elders ‘n pos te kry want dit verseker jou van ‘n inkomste en wanneer jy gulsig is, ook van die moontlikheid om jouself te verryk.

Die blote feit dat Zuma oorweldigend herkies is as leier van die ANC, laat mens nie te verbaas nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.