Nuuskommentaar: Madiba en die reg op privaatheid

‘n Groot groep media kamp sedert Saterdag by Mandela se huis asook hospitaal waar hy behandel word. Foto:eNCA

Wêreldwyd is daar weens twee verskillende gebeurtenisse opnuut ‘n fokus op die reg op privaatheid.

In Pretoria kamp die media uit voor die hospitaal waar oudpresident Nelson Mandela heel waarskynlik opgeneem is om opnuut vir ‘n ernstige longkwaal behandel te word, en waaroor die media daagliks rapporteer. Die media berig ook nou wêreldwyd oor die Amerikaanse veiligheidsdienste wat op groot skaal weens veiligheidsoorwegings op private kommunikasie van sy burgers inbreuk maak.

In Suid-Afrika word gereeld afkeurend verwys na die mediasirkus wat hom afspeel. Die fokus is verskerp oor die media-aandag wat die Oscar Pistorius-saak kry. Die publiek, of dan lede van die publiek, is gereeld gebelg oor video-materiaal wat onder meer wys hoe joernaliste onwaardig soos vlakhase hardloop om by enigiets uit te kom wat dalk nuuswaardig kan wees, of kameras wat tydens onderbrekings in die verhore omtrent teen Pistorius se gesig gedruk word.

Die einste kritici is egter ook gereeld diegene wat elke korreltjie nuus rondom so ‘n saak opraap. Dis soos om kwaad te wees vir ta’ San wat op die plaastelefoon inluister, maar dan tog die ene ore te wees as sy die ingeluisterde geheimpies deel.

Oor Madiba se siekte het dit oorsee selfs ‘n nuuswaardigheid op sy eie geword dat aanvanklik berig is dat Mandela se familie besoeke aan hom geweier het wat nié nabye familie is nie, insluitend ANC-ampsbekleërs, terwyl die ANC self dié verbod ontken het.

Dié kwessie is nuuswaardig na die ANC onlangs erge kritiek op die lyf geloop het toe die media misbruik is om ‘n beeld te probeer oordra dat Mandela op en wakker en baie in sy skik met die ANC en veral pres. Jacob Zuma is. Die TV-beelde het maar te duidelik getoon dat dit nie die geval is nie.

Die kort antwoord is dat openbare figure ‘n groot deel van hul privaatheid opsê juis om openbare figure te wees. In die geval van Mandela is dit egter duidelik dat ‘n groot deel van die ophef – nie net by die media nie – deeglik te make het met mensverheerliking wat ‘n Christen teen die bors stuit.

Die nuus oor die Amerikaanse veiligheidsdienste wat lustig meeluister het gekom te midde van ander skandale, soos dat die Amerikaanse Inkomstediens ‘n skerper oog oor behoudendes, onder meer die Tea Party-lede, gehou het. Toe kom die nuus dat die veiligheidsdienste ook lasbriewe gekry het om kommunikasierekords van mediamense na te gaan. Daar is onder meer ‘n veldtog om aan te dring op die afdanking van die VSA se prokureur-generaal, terwyl peilings toon dat pres. Barack Obama se gewildheid met enkele persentasiepunte in die slag gebly het.

‘n Nederlandse rubriekskrywer vra hieroor die vraag: “Hoekom die ophef oor iets waarvan almal nog altyd geweet het?”

Hieroor is geen klinkklare antwoord nie, behalwe dat die publiek waarskynlik onbewus was daarvan tot hoe ‘n mate hul “private” kommunikasie in die slag gebly het. Ta’ San se inluister op die plaaslyn was skynbaar ‘n vulletjie.

Pres. Obama self het hieroor gesê: “Jy kan nie 100% privaatheid en 100% veiligheid hê nie.”

‘n Pew-peiling toon dat 56% van die Amerikaners meen dat die meeluister van telefoongesprekke aanvaarbaar is in die stryd teen terreur. Net 41% meen dis onaanvaarbaar. In ‘n Rasmussen-peiling is aangedui dat 68% Amerikaners glo die regering luister hul telefoongesprekke af, in weerwil van Obama se versekering dat dit nie sonder behoorlike regsprosesse gebeur nie.

Enkele jare gelede het Nederland self ‘n klein Watergate beleef toe dit aan die lig gekom het dat die veiligheidsdienste meegeluister het na die kommunikasie van  ‘n koerant waar ‘n joernalis oor die besoek van die Dalai Lama berig het. Die veiligheidsdiens het die hofsaak verloor, maar aangevoer dit kan weens die sensitiewe inligting homself nie na behore in ‘n ope hof verweer nie.

In Suid-Afrika kom dit telkemale in hofsake uit dat die veiligheidsdienste oor aansienlike selfoonrekords beskik van verdagtes, waaronder ook mense wat van regse terreur, of beplande regse terreur verdink word.

Die kernaspek is dat elke lid van die publiek ‘n deel van sy vryheid prysgee om veilig te kan wees. Dit persepsie word vererger wanneer vermoed word dat daardie inligting deur die regering vir politieke doeleindes misbruik word. Verskeie opposisie-parlementslede het juis reeds die veiligheidsdienste daarvan beskuldig dat daar op hul telefoongesprekke meegeluister is. In ‘n stadium wou die Vrystaatse Wetgewer verhinder dat die opposisiepartye bykomend tot die amptelike internetgeriewe, wat weens ‘n te klein kapasiteit ontoereikend was, ook hul eie losstaande internetkommunikasie bekom omdat dit nie gemonitor kon word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Trudie ·

Wonder net hoekom mag party mense privaatheid he en ander het nie privaatheid in hul eie huise nie!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.