Nuuskommentaar: Nkandla – Mag die president vir ewig lewe!

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Duidelike spanning is besig om tussen die ANC en die Openbare Beskermer op te bou oor die OB se Nkandla-verslag. Dit maak vandag selfs weer ‘n draai in die hof, al het die kabinet se veiligheidsgroepering die aansoek om ‘n interdik laat vaar.

Intussen het ‘n ander verslag se inhoud aan die lig gekom oor hoekom betrokkenes geoordeel het dit nodig was om meer as R200 miljoen aan die president se Nkandla-privaat woning te spandeer. Onder die redes wat gevind is om soveel op Nkandla te spandeer, is die gevaar van verkragting en die moontlikheid van ‘n aardbewing in Nkandla.

Die verkragtingsgevaar

Suid-Afrika is die wêreld se verkragtingshoofsetel. Dit dui enersyds op ernstige morele verval, veral omdat ‘n baie groot persentasie van die verkragtings bloedskendig van aard is, en dit is onder meer kommerwekkend oor die hoë voorkoms van MIV / Vigs in die land.

Dit dra daartoe by dat Suid-Afrika sy eie ystergordyn het – duisende kilometers duiwelsvurkheinings om private wonings, skole en selfs kerke. Min mense sou dus veel van ‘n oog geknip het as daar ‘n duiwelsvurk-omheining om die president se woning by Nkandla – watter deel nou ook al die president se woning is – opgerig gewees het.

Maar aardbewings?

Aardbewinggevaar

Die verslag wat die parlement se gesamentlike komitee oor intelligensie bekend gemaak het, meld na berig word die moontlikheid van ‘n aardbewing van tussen magnitude vyf en ses by Nkandla. ‘n Navorsingsverslag wat aardbewings van sterker as M5 sedert 1809 en 2006 in Suid-Afrika lys, dui wel meer as vyftig sulke aardbewings in Suid-Afrika aan, maar nie ‘n enkele in wat vandag KwaZulu-Natal is nie. Dit beteken nie dat daar nie was nie. Enkele jare gelede was daar ‘n aardbewing van M7 in die weste van Mosambiek, wat so sterk in Durban gevoel is dat mense uit hoë geboue ontruim is. Maar vroeg in die 1800’s is Kaapstad deur twee aardbewings getref van dieselfde sterkte as dié wat Tulbagh getref het, en redelike sterk aardbewings het in plekke so klein soos Koffiefontein tot so groot as Welkom en Johannesburg voorgekom.*

Die wetenskap beskik oor die kennis om voertuie op Mars neer te laat, en het toerusting waarmee hulle miljarde ligjare ver die ruimte kan inkyk. Maar die een groot leemte is om te kan voorspel wanneer ‘n groot aardbewing in ons eie moeder aarde gaan plaasvind. Daar word dus op waarskynlikhede gewerk.

Suid-Afrika, en Afrika self, is ‘n besonder stabiele kontinent omdat alle ander kontinente van Afrika af wegbeweeg. Die verskuiwingsvlakke waar die aardkorsplate weg van mekaar beweeg neig nie om sulke groot aardbewings op te lewer, soos waar die plate bots nie, soos by Japan, Alaska, Indonesië, die Andes en ander . Waar plate lang mekaar verbyskuur soos by Kalifornië kan groot aardbewings ook periodiek voorkom, maar sulke grotes soos wat Japan en Indonesië soms skud word nie sommer verwag nie.

Die verskuiwingsplate om Suid-Afrika is sowat 2 000 kilometer weg, en die aardbewings van in die orde van M 6 wat daar voorkom, word nie in Suid-Afrika gevoel nie.

In Suid-Afrika self is daar egter ook kleiner verskuiwingsvlakke, waarvan een nogal naby die Koeberg-kernkragsentrale verbyloop. Met die konstruksie van die Van der Kloofdam is ook in die ontwerp en bou rekening gehou met die gewoonlik ligte aardbewings wat in die omgewing voorkom.

Maar Nkandla? Die Andrew Bain-verskuiwingsvlaksone wat ongeveer by Port Shepstone begin, word met die verskuiwingsvlak geassosieer wat die Afrika-slenkdal veroorsaak het, en waar Oos-Afrika geleidelik van die res van die kontinent wegbeweeg. Die tempo van beweging word op ongeveer twee millimeter per jaar bereken, teenoor die meer as twee sentimeter per jaar wat die meeste verskuiwingsvlakke beweeg, en dit beweeg ook weg van mekaar.

Geen geoloog wat sy sout werd is sal sê dat daar nie moontlik vandag ‘n taamlike groot aardbewing Nkandla, of meer waarskynlik Durban gaan tref nie, maar op die waarskynlikheidsvlak is die kanse veel beter dat die president in ‘n bloulig-jaagtog kan omkom, of dat hy in die stort kan gly as dat Nkandla weens ‘n aardbewing in puin gelê kan word. Dit sal die president ook loon om uit ander vroue as sy eie se kooi te bly.

Kortom, die indruk word geskep dat verskonings gesoek is om enorme uitgawes aan te gaan.

Die verslag van die Openbare Beskermer

Die interdikverhoor wat vandag sou plaasvind, sou hoofsaaklik handel daaroor dat die veiligheidsgroepering langer tyd wou hê om die verslag te bestudeer. Dié groepering is in ‘n ongewone stap deur die OB betrek sodat bepaal kon word of aspekte in die verslag, sou dit soos veronderstel uiteindelik bekend gemaak word, enige gevaar vir die president se veiligheid inhou. Die OB het ook uitstel gegee vir reaksie.

Met die verdere uitstel van die aanhoor van die interdik tot vandag het die veiligheidsgroepering weer bykomende tyd gekry, en het dié aspek verval. Nou blyk dit dat veral die minister van polisie, Nathie Mthethwa, ontevrede is met van die inhoudelike aspekte, en dit sal interessant wees om te sien hoe die saak verder gaan verloop.

Maar selfs al kom die vrystelling van die verslag nou op dreef en beland nou op die gewone spoor, sou die verslag nie nou reeds in die openbaar kom nie. Slegs die geïmpliseerdes en klaers sou oor sowat twee weke afskrifte van die voorlopige verslag ontvang, na die Openbare Beskermer geldige kwessies van die veiligheidsgroepering aangespreek het, indien dit nodig sou wees.

Na die betrokkenes se terugvoer ontvang is, sou die OB weer sowat twee weke nodig hê om die verslag te finaliseer voor dit bekend gemaak word. So uitgewerk sou die publiek teen ongeveer Kersfees ‘n ongewone Kersgeskenk kry. Maar dis voor die verkiesing, en geen regerende party wil graag kort voor ‘n verkiesing met eier in die gesig sit nie.

Kyk maar hoe lank, indien ooit, neem sit om die wapenskandaal behoorlik te belig.

Die veiligheidsvyeblaar

Die indruk word geskep dat Zuma se veiligheid so belangrik is dat daar seker gemaak word, soos die 1853-Bybelvertaling dit stel, die koning vir altyd kan lewe. En hoewel Zuma en die ANC gereeld die hoofstroomkerke en Christene ontstoke laat oor godsdiensuitsprake, waarvan die jongste deur Gwede Mantashe deur onder meer die NG Kerk en die NH Kerk wat die NG Kerk se verklaring volmondig steun, as godslasterlik beskryf is, is dit so dat Christene glo dat God die alleenbeskikker oor lewe en dood is. Dit beteken nie dat die mens onverskillig is, en by wyse van spreke van die tempel se dak moet gaan afspring nie, maar wanneer die mens se tyd aanbreek sal selfs die beste voorsorg dit nie keer nie.

Die veiligheidsgroepering laat egter die indruk dat Zuma so ‘n groot bate vir die land is dat alles menslik, ongeag die koste, gedoen moet word om hierdie bate vir die land en sy mense ongeskonde te laat.

Verskoning vir uitgawes

As die president se veiligheid teen enige moontlike gebeure ‘n oorweging sou wees, sou aspekte soos stormsterk wind, veral teen die agtergrond van klimaatsverandering, ‘n groter oorweging moes wees.  Die somtotaal is dat die indruk geskep word dat bloot verskonings gesoek is om reuse uitgawes te probeer regverdig.

In teorie raak die kanse by die dag groter dat iemand deur vallende ruimterommel getref kan word, maar dit beteken nie almal moet nou ook dik staalsambrele  voltyds bo hul koppe hou nie.

Die kiesers kry volgende jaar die geleentheid om te oordeel of Zuma inderdaad so ‘n groot bate vir die land is. Daarvoor benodig hulle meer insae oor wat by Nkandla gebeur het, en sommer ook aspekte soos meeluisterbande wat aanklagte laat verdwyn het.  Juis daarom is dit kommerwekkend om te sien hoeveel mense op die sosiale media, na die DA-blaps, skryf dat hulle nou nie meer gaan em nie omdat politici nie vertrou kan word nie.

Ja, in die politieke wetenskap is daar ‘n gesegde dat demokrasie ‘n euwel is, maar ook dat dit die beste euwel is waaroor ons beskik. Grondwetlike gebreke en al, die verkiesing by belangrik en elke stem by belangrik. Elke stem tel.

  • Die skale waarmee aardbewings se sterkte gemeet word, hetsy die momentmagnitudeskaal wat nou wêreldwyd meestal gebruik word, die Richterskaal of die aangepaste Richterskaal wat in Suid-Afrika gebruik word, is almal logaritmiese skale. ‘n Aardbewing van M 5, wat nie veel skade behoort aan te rig nie, is tien keer swakker as ‘n aardbewing van M 6, en ‘n skudding van M 7 is dus tien keer sterker as ‘n skudding van M 7. Die skudding van M9 wat die groot tsunami in 2011 veroorsaak het, was dus byna ‘n duisend keer sterker as die skudding wat Tulbagh getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Johan Viljoen ·

Mag ons sy langlewendheid gespaar word, hierdieland kan hom nie eers vir die volgende jaar bekostig nie.

Trippie ·

Stem Johan – ek het hom en sy 2 voorgangers nog NOOIT geag my president te wees nie.

Alida Engelbrecht ·

President Zuma het sy hand in die land se geldkoffers, so ek glo dat hy toegang het tot alles wat geld kan koop. Ek moet hom en sy “kudde” egter verseker dat n ewige lewe nie te koop is nie. Alle lewende wesens op hierdie Aarde is sterflik en sal beslis sterwe. Ook Jacob Zuma.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.