Nuuskommentaar: Zuma en die gevalle soldate

President Jacob Zuma tydens Dinsdag se roudiens. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die fiasko van die Suid-Afrikaanse betrokkenheid in die Sentraal-Afrikaanse Republiek kring net verder uit, en selfs die gedenkdiens ter ere van die gevalle soldate is misbruik om verdeeldheid oor die kwessie aan te blaas. Byna oombliklik na pres. Jacob Zuma se toespraak het hy op die sosiale netwerke erg deurgeloop.

Onderliggend hieraan is die vraag: “Weet die president dan nie wat die woord ‘regering’ beteken nie?”

Zuma se opmerking dat “die probleem met Suid-Afrika is dat almal in beheer van die land wil wees” dui op onrusbarende onkunde, wat ook deur vroeëre uitlatings gerugsteun word. Hierop twiet Frans Cronjé van die SAIRR: “Zuma: what does he mean that ‘the problem’ with SA is that everyone wants to run the country? Isnt that the point of being a democracy?”

Sy opmerking dat “sommiges” die oorledenes onteer deur ongegronde bewerings te maak, is ook kommerwekkend.

Die ou staatsdienswet onder ‘n vorige bedeling het die term “regering” goed saamgevat – al die partye in die parlement en senaat verteenwoordig, die regspraak en die staatsdiens.

In politiek-wetenskaplike terme word verwys na die drie bene van die regering, naamlik die wetgewende, die uitvoerende en die regterlike, terwyl die politici in Europa graag die media as die vierde, nie-amptelike been noem en daardeur impliseer dat daar perke is tot hoe ver ‘n regering sy burgery van hul deelname aan die regering se besluite kan weerhou deur hulle in die duister te hou. Kortom magsmisbruik in die wiele te ry.

Ook in die politieke wetenskap word onderskei tussen ‘n regering, en die regering van die dag. Dit is ‘n meer informele onderskeid, soos die ou gebruik om na die staatkundige term regering as Regering (met ‘n hoofletter) te verwys teenoor die regering van die dag as bloot regering (met ‘n klein lettertjie).

Die implikasie is eenvoudig dat besluite wat in Luthuli-huis geneem word, eers Regeringsbeleid kan word indien dit deur die parlement gevoer is, soos ‘n groenskrif wat eers ‘n witskrif moet word voor dit Regeringsbeleid kan word en staatsfondse daarvoor ingespan kan word. En dan is dit nog onderhewig daaraan dat dit grondwetlik moet wees, en kan die regterlike gesag dit omkeer as dit nie is nie. En solank iets nie deur al hierdie prosesse is nie, mag die staatsdiens, waaronder die weermag, dit nie uitvoer nie.

Die gedagte is, soos Piet Retief gesê het na hy tot president van die Voortrekkers verkies is, dat hy nou dienaar is, want die volk is koning.

En solank die opposisie (nie net die amptelike opposisie nie) binne die grondwet bly, is hulle nie die vyand nie, maar die volk se verteenwoordigers om die regerende party op hul tone te hou en seker te maak dat nie skeefgetrap word nie. Die Watergate-skandaal is ‘n goeie voorbeeld van wat gebeur as hierdie beginsel misken word.

Adv. Pikkie Greef van die Suid-Afrikaanse Weermagunie som die kwessie baie akkuraat op: “SANDU rejects the suggestion by the President that civil society should refrain from questioning military matters as this would be contrary to the national security and interests of South Africa. The SA constitution specifically provides for civilian oversight and accountability of the employment and deployment of SA’s armed forces for the very reason that such accountability was non existent under apartheid and thus open to abuse. To suggest that as civil society we should simply forfeit this constitutional guarantee is tantamount to telling SA to tear up the constitution. The President should not and can not hide behind sinister terms such as national security and national interests, or even peddle the idea that democracy has limits in its accountability. That rather sounds like the kind of nominal democracy practiced by Beijing.”

Suid-Afrika se grondwet is ook op ‘n nasionale akkoord geskoei – die vredesverdrag tussen twee strydende partye. Met die NNP wat formeel by die ANC gaan aansluit het, het die status van die akkoord nie verdwyn nie, ook omdat dit baie duidelik is dat die NNP nie sy eertydse ondersteuners saamgeneem het nie. Die FW de Klerkstigting wys al ‘n geruime tyd op ‘n groeiende houding binne die ANC dat die akkoord nie meer bestaan nie of dat dit in effek uitgefaseer kan en gaan word. Dit stuur op ‘n toets af vir die kwaliteit van grondwetskrywing.

Deur bloot iets ‘n demokrasie te noem, beteken nie dis nie ‘n demokrasie nie. Die ou “Vrye Duitse Demokratiese Republiek” moes die Berlynse muur bou om te keer dat sy burgers hierdie “vrye demokrasie” ontsnap deur na die Weste te vlug.

Dat Cromwell ‘n koning met despotiese neigings wat die parlement wou miskien afgesit het, het van Cromwell as “Lord Protector” nie ‘n toonbeeld van demokrasie gemaak nie. Die Franse rewolusie sou eers deur ‘n guillotinegedrewe skrikbewind gaan voor die land uiteindelik werklik by ‘n gevestigde demokrasie sou uitkom.

Die opposisie en die publiek wil geloofwaardige antwoorde hê dat die bewerings onwaar is dat die troepe ontplooi is om instansies met ANC-bande, soos Chancellor House (die ANC se beleggingsarm) se belange in die SAR te beskerm. Alle ander verduidelikings klink so ver na ‘n ongeloofwaardige bontpratery.

Met oud-president Nelson Mandela se gesondheid nou baie swak, is dit miskien gepas om te kyk na die ampseed wat hy op 10 Mei 1994 afgelê het, en dit met Zuma se jongste uitlatings te vergelyk: In the presence of those assembled here and in full realisation of the high calling I assume as Executive President in the service of the Republic of South Africa I, Nelson Rolihlahla Mandela, do hereby swear to be faithful to the Republic of South Africa, and do solemnly and sincerely promise at all times to promote that which will advance and to oppose all that may harm the Republic; to obey, observe, uphold and maintain the Constitution and all other Laws of the Republic; to discharge my duties with all my strength and talents to the best of my knowledge and ability and true to the dictates of my conscience; to do justice to all; and to devote myself to the well-being of the Republic and all its people. So help me God.”

Zuma het ‘n soortgelyke eed afgelê, en as hy nie die letter en gees van die grondwet nakom nie, staan hy, nie die opposisie of die publiek of die twietende gemeenskap agter die deur nie. Dan word ‘n hele stel nuwe vrae gevra oor wie die nagedagtenis van die gevalle soldate onteer.

Beeld, in ‘n ander konteks, vra vandag ook in sy hoofartikel harde vrae oor Zuma se verstaan van sy presidentskap, as onderskeidend van indoena wees:  “As president is Zuma die een wat die Grondwet moet beskerm. Hy is nie ’n Zoeloe-indoena wat ons vanmelewe se praktyke moet leer nie.
Hy moet die waardes en inhoud van die Grondwet aan almal uitdra, ook in afgeleë dele van die land.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

marlene ·

Reg en geregtigheid – Dis waarvoor hul gestaan het – Trots en self respek.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.