Nuuskommentaar: Belangrikheid van Nederlandse parlementêre mosie oor grondgryp in SA

(Foto: pixabay)

Hoewel die mosie in die Tweede Kamer van die Nederlandse parlement wat grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika afkeur, deur baie Suid-Afrikaners verwelkom word, lyk dit asof die verwikkeling vir baie as te min, te laat ervaar word.

Die versugting om die land te verlaat is by baie reeds te groot, en hulle hoop is min of meer beperk tot die hoop dat die Nederlandse verwikkeling dit makliker, en vir baie, hoegenaamd moontlik sal maak om die land te verlaat. ’n Tweede begin, noem een leser dit. Baie se koppe staan duidelik Nederland se kant toe – moontlik as ’n strooihalm-dankbaarheid vir ’n simpatieke oor.

(Lees hier en hier wat die mosie behels, en die erkenning wat die Solidariteit Beweging daarvoor kry.)

Dié verwikkelinge volg kort op heelwat nuusdekking wat op ’n breër afkeer in sekere Europese lande teen plaasaanvalle en plaasmoorde in Suid-Afrika aan die ontwikkel is, en die regering, en by name pres. Cyril Ramaphosa, se gebrek aan belangstelling hieroor – eufemisties gestel. Lees gerus hier.

Presies wat is aan die gebeur?

Selfs net ’n oorsig van die hoof-elemente gaan ’n ellelange bespreking afgee, en daarom word net baie kortliks na ’n deel hiervan verwys:

  • Die vervreemding wat tussen Afrikaanssprekendes en Nederland ontwikkel het, veral in die jare wat deur die regering van Joop den Uyl oorheers is, het met tyd begin genees. Die rol van verskeie akademici, en bewegings soos die Nederland-Suid-Afrika-bewegings se harde en opofferende werk het oor die jare gesuurdeeg. Afrikaans het selfs ’n plekkie in die son by Nederlandse en Vlaamse universiteite begin kry. Suid-Afrika se rol binne die Nederlandse Taalunie het gegroei.
  • Partye wat meer objektief na die situasie in Suid-Afrika gekyk het, het die politieke toneel begin oorheers. Die jongste verwikkelinge is juis deur ’n lid van die CDA in Nederland gegenereer. Die CDA behoort tot dieselfde groepering van Christen-Demokratiese Partye as Angela Merkel se CDU in Duitsland, en die CD & V in Vlaandere. Dis partye wat gewoond is om deel van, en dikwels leidende partye, in regerende koalisies te wees.

Die Nederlandse parlementslid, Martijn van Helvert. (Foto: Facebook)

Die leier van die Vlaams Belang, Tom van Grieken, het juis aan ’n Maroela‑leser gesê dat hy die kwessie van plaasaanvalle in Suid-Afrika onder die aandag van die Belgiese parlement gaan bring. Sy party het eensklaps van bykans nêrens nie tot die tweede grootste Vlaamse party gegroei.

  • Die Solidariteit Beweging se pogings om die hele kwessie te internasionaliseer lewer bepaald resultate.
  • Die ANC se deurlopende droogmakery as regerende party tel mettertyd al swaarder teen die party.
  • In België ontwikkel die etniese federasie al nader aan totale onafhanklikheid vir Vlaandere, al gaan dit eers via ’n konfederasie. Die Vlaminge, die dominante ekonomiese mag in België wat die Franstaliges jaarliks met miljarde euro’s moet subsidieer, ervaar dat hulle, anders as met die Nederlanders, nie volwaardig aan die internasionale verkeer kan deelneem nie.  In Nederland het die nie-Nederlandssprekende Friese meer selfstandigheid verwerf, en die Brabanders (’n taal met eienskappe van Nederlands, Duits en selfs Afrikaans) het onlangs hul eerste eie Bybelvertaling gekry.

Die Suid-Afrikaanse regering met eietydse Milneriste, soos Panyaza Lesufi op die voorpunt, verseker dat die Afrikaner, Grondwet ten spyt, nie internasionaal selfs oor taalkwessies, locus standi kan verwerf nie. Die Afrikaanssprekendes moet, ironies, by sulke statutêre en semi-statutêre instellings deur die Suid-Afrikaanse regering verteenwoordig word. En die SA regering loop nie juis oor van entoesiasme om dit te laat realiseer nie.

Dit is moeilik om te bepaal hoe ’n groot rol die historiese verwantskap tussen die Dietse bevolkings van veral Nederland, België en Suid-Afrika ’n rol speel. Die kuberruim veroorsaak immers dat die Dietse wêreld “gekrimp” het, en dis heel moontlik om veel hegter bande met mense in Nederland en België te hê as met byvoorbeeld ’n Engelssprekende buurman hier in Suid-Afrika.

Kort na die totstandkoming van Radio Hoogland het dit geblyk dat veral musiekprogramme heelwat luisteraars in Nederland en België het. Die effense ouer musiekklank het klaarblyklik beter by baie Nederlanders afgegaan as die “moderne” musiek wat toe uitsaaiers in Europa se gunstelinge was. Van die luisteraars het aangedui dat die kanse beter was om musiek van Heino, Jacques Brel, Helmut Lotti, Stef Bos, die Claxtons en Dana Winner oor Radio Hoogland te hoor as in hul eie lande. Van hierdie luisteraars het selfs boodskappe vir ander Nederlanders en Vlaminge in hul eie lande laat voorlees – via Suid-Afrika.

Vir elke positiewe aspek kan ook ’n negatiewe genoem word. Die feit is dat die klimaat nou so gunstig soos lanklaas was om die lug in die Dietse familie te suiwer.

Maar baie harde en intelligente werk lê nog voor.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
piet piet

Dit is net so belangrik om druk op die regering te plaas oor diskriminerende wette teen wit minderhede,skrap daardie wette so gou moontlik.

Andreas

Mens kan tereg vra, of dan liewer net in ongeloof die kop skud oor waarheen die ANC regering met die land op pad is, dat hulle dit self nie kan insien nie, en hul raadgewers? Hulle moet verseker galonne van ‘n sekere ideologie in hê. Cyril Ramaphosa en die ANC-regering is vir Suid-Afrika soos wat Busisiwe Mkhwebane vir Cyril is.

humor

Ons lewe steeds voort met hoop. Waar daar lewe is ,is daar hoop. WAAR DAAR HOOP IS, IS DAAR LEWE.

Judge Dredd

….en tog is daar geen berrigte hieroor in hoofstroom media.

Vlakvark

Die waarheid en geregtigheid moet en sal seëvier! Die dae van die ANC is getel. Daar is hoop. Ons moet elkeen ligdraers en sout in hierdie chaotiese Suid-Afrika wees en naasteliefde bevorder.