Nuuskommentaar: Beskou enigeen in SA nog nie-rassige politiek as wenslik?

nuwe SA-vlagDie onlangse stemming oor ‘n rasgebaseerde wetswysiging in die parlement en die bohaai daarna oor die DA se aanvanklike steun daaroor, het die kwessie van rassepolitiek sterk op die voorgrond geplaas. Met slegs een party wat teen die wetsontwerp gestem het, en die DA wat na sy bolmakiesie steeds SEB volmondig steun, lyk dit of almal op die uitsondering van die Vryheidsfront Plus na aktief rassepolitiek bedryf. Die vraag moet dus noodwendig gevra word: Is rassepolitiek dan verkeerd as “almal”, hetsy liberaal of links of Christen-demokraties dit steun?

Sowat 22 jaar gelede, toe die vorige regering wat weens die beleid van afsonderlike ontwikkeling internasionaal verguis is, die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder het, het min mense seker kon dink dat rassepolitiek vandag nog so in die land (en elders in die wêreld) ingebed sal wees.

Maar dit ís, en dit word seker nie maklik meer omvattend beskryf nie as in ‘n rubriek van Tim du Plessis in Rapport.

In die rubriek, ‘DA het ge-‘reset’ na ‘vliegramp’ word die partye in die parlement op enkele uitsonderings soos die Vryheidsfront Plus na, aan die bod geplaas oor hul standpunt rondom rassepolitiek.

Die artikel was waarskynlik geskryf voor die DA-leier, Helen Zille, haar party se onomwonde steun vir SEB op TV verklaar het “solank dit nie net ‘n paar bevoordeel nie”. Die Mail & Guardian het breedvoerig oor die rol van die DA se swart koukus berig, wat aldus die koerant periodiek vergadering hou.

Die probleem wat Tim uitwys is dat swart kommentators en analiste voor die voet gemeen het die DA het gefouteer deur sy steun aan die wysigingswetsontwerp op rasbegunstigde bevordering te onttrek.

Ras, ras, alles ras.

Wat die, stellig vir baie die vreemde situasie oplewer dat die Vryheidsfront Plus formeel die enigste parlementêre party is wat van rassepolitiek wegstaan. Dié stelling is iets waarmee baie gewone Vryheidsfront Plus-lede nie baie gemaklik sal wees nie, geoordeel aan die baie pro-VF+-kommentare veral op die sosiale netwerke waar die rassetamboer soms bitter hard gelooi word.

Maar die feit is dat belangepolitiek wat op die internasionale reg se beginsels van minderheidsregte en selfs selfbeskikking geskoei is, het niks met ras te make nie en alles met kultuur, taal en gedeelde geskiedenis. Dit word ook in die Suid-Afrikaanse grondwet weerspieël.

Om maar net na ‘n paar alledaagse verskynsels te verwys: Kan iets soos die Black Lawyers Association homself nie-rassig noem?

Kan die African Farmers’ Union werklik op nie-rassigheid aanspraak maak?

En indien wel, hoekom sou dieselfde nie vir ‘n hipotetiese Wit Belangebeweging en die werklike Bruin Belangebeweging geld nie?

Ten spyte van die ooglopende kaf, en rassistiese strekking van die redenasie dat ‘n swart persoon per definisie nie ‘n rassis kan wees nie, word dié mening tog wyd gekoester en gepropageer.

‘n Tweede rassistiese manifestasie is dié van die negrofilis. In Suid-Afrika het ons hulle leer ken as die Reids, Van der Kemps en Phillipse, met verskeie eietydse manifestasies. Dit is wit mense wat die indruk skep dat swart mense slegs gelyk sal wees as hulle meer gelyk as die ander is. Die opsigtelike hinderlike is egter dit daar gewoonlik nie besef word hoe paternalisties hulle optree nie, en in wese vir en namens swart mense besluit wat die swart mense pla, behoort te pla, en hoe om daarop behoort te reageer.

‘n Interessante aspek van die vliegramp en diskoers was hoe die term liberaal gebruik is. Tony Leon het die stof van sy politieke jas afgeskud en gesê met die DA se steun aan die wysigingswetsontwerp het die DA sy liberale wortels versaak. Hier is liberaal met nie-rassig gelyk gestel. Dit is nog nie duidelik hoe die omswaai van steun aan die wetsontwerp ‘n terugkeer na liberale waardes is as die steun vir SEB in die proses herbevestig word nie. Is daar iewers ‘n magiese grens van waar rasse-ingenieurswese nog nie-rassig en liberaal is, en waar dit nie meer is nie?

Op die oog af lyk dit of die DA die slagoffer geword het van die persepsie dat “liberaal” en “links” sinonieme is, of minstens sterk oorvleuel. Dit sou meer korrek wees om die term liberaal te beskou in die woorde van Patric van Schie, direkteur van die liberale Telder-stigting: “De kern van het liberalisme ligt in de geestesvrijheid, in vrijheid van ieder individu te kunnen denken wat hij wil en daaraan uiting te mogen geven. De vrijheid van doen ligt in het verlengde, en niet aan de basis, van deze vrijheid van denken. En die vrijheid van doen kan vervolgens wel een materiële maar even goed een immateriële richting uit gaan.

Hy laat hom soos volg oor “links” uit: “De meeste linkse groeperingen zijn of openlijk socialistisch of op het socialisme terug te voeren; de veruit invloedrijkste vorm van socialisme baseert zich op het historisch-materialisme. Volgens Marx was de sociaal-economische ‘onderbouw’ albepalend.

Van Schie se volledige artikel kan hier gelees word.

Hieruit, so wil dit voorkom, het die hele kwessie van SEB en arbeidsmanipulasie eerder uit die linkse as die liberale hoek ingeval. Dit is by verre nie heeltemal so eenvoudig nie, maar eenvoudig genoeg om te weet dat dit vir ‘n party altyd moeilik sal wees om hom volkome tot liberale (fokus op die individu en dus geen ruimte vir groepering volgens ras) en die linkse (fokus juis op klasse, hetsy met ras as kriterium, of sosio-ekonomiese status as kriterium) karakter te kan aanspraak maak. Met swart kiesers, wat aldus peilings en verwoord deur Tim du Plessis, die rasbegronding opeis, bly ras noodwendig ‘n kragtige instrument.

Dit is egter nie net die partye wat in die liberale en linkse dampkring is wat nou met die raspolitiek kleitrap nie. Die ACDP, wat daarop aanspraak maak dat dit Christen-demokraties is, het die wetsontwerp ook ondersteun, terwyl nog ‘n verteenwoordiger van die Christen-demokrasie, die Christen-Demokratiese Party (CDP) sterk daarteen standpunt ingeneem het.

Neo-apartheid, so lyk dit, het gekom om te bly en heel pikant word die nie-rassigheid genoem.

Wat die internasionale grondwetlik-wetenskaplike denke betref, skuif die fokus nou in ‘n mate weg van liberale denke na ‘n fokus van groepsdenke, wat ‘n beklemtoning van minderheidsregte insluit. Dit volgende internasionale staatsregkonferensie wat binnekort in Skandinawië plaasvind fokus selfs grootliks hierop. Maar dit het niks met ras, of rassedenke te make nie, maar die internasionaal-aanvaarde definisies van minderhede.

Dit manifesteer ook kort-kort iewers, Onlangs het die leier van die Duitssprekende entiteit in België aangedui dat hierdie groep hul outonomie tot dieselfde status as dié van Vlaandere en die Franssprekende Wallonië wil uitbrei, eerder as ‘n laer status as deel van Wallonië te behou. Intussen het die tans grootste Vlaamse party sy beleid oor die toekoms van Vlaandere van ‘n federale na ‘n konfederale aangepas.

Maar terselfdertyd het ras ook internasionaal ‘n belangrike bepaler gebly. In die VSA word nou in die Supreme Court besin oor die grondwetlikheid van twee deelstate se verbod op “affirmative action” by universiteitstoelating. In Nederland het Sinterklaas, wat elke jaar per boot vanuit Spanje kom, pas in die Nederlandse stad Groningen aangekom. Na die groot bohaai oor die “rassisme” verbonde aan sy helper, Zwarte Piet, het Zwarte Piet saamgekom en is hulle deur die burgemeester verwelkom, en deur duisende kinders, wit en swart, geniet.

Presies dieselfde doelwitte met die uitskakeling van sosio-ekonomiese agterstande sou bereik kon word – of dalk nog meer doeltreffend bereik kon word – as ras uit die prentjie gehaal word en die werklike agterstande – ongeag die ras van die mense – aangespreek word. So word iemand wat reeds “reggestel” is, ongeag verkleur, nie weer en weer “reggestel” bloot omdat hy of sy swart is nie. Dit is so maklik om te verstaan soos van die bed afval.

As daar dan so ‘n maklike uitweg is, hoekom is daar dan so ‘n enorme aandrang op ‘n rasbeheptheid? Weerwraak? Dit wil tog voorkom of daar ‘n element hiervan betrokke is, soos mnr. Cyril Ramaphosa se gewraakte stelling oor die “Bhuru” wat sal kom oorvat as swart kiesers van die stembus wegbly (geen ernstige analis koop sy verduideliking nie).

Dit lyk of rasse-polarisasie aktief aangeblaas word.

En dit wat nou hier gebeur druis lynreg teen die verskerpte internasionale fokus van (kleurblinde) minderheidsregte.

Inderdaad, soos die kapteins van inkomende vlugte uit die buiteland by die OR Tambo-lughawe vir die passasiers sê: “Ons gaan binnekort op die OR Tambo-lughawe in Suid-Afrika land. Draai u horlosies dertig jaar terug.”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Johann ·

Rassepolarisasie is reeds, alhoewel met krismisversierings toegedraai, in ons huidige grondwet ingebou. Hoekom is almal verbaas dat ‘kleur’-nasionalisme sterker word? Dit gaan erger word.

Dewald ·

Die anc het nou al 20 jaar affirmative action laat seevier ten koste van talle talentvolle blankes wat die land moes verlaat om ‘n lewe in die buiteland te gaan maak.
Wat hulle nou nog nie met AA reggekry het nie, sal hulle nooit regkry nie!…dis tyd om daai boot te laat vaar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.