Nuuskommentaar: Dis neusie verby as hoofstede se ligte gedoof word

(Foto: pixabay)

Opsomming: Eskom dreig om Bloemfontein en ander Vrystaatse dorpe se ligte van volgende week af bedags te doof, terwyl Bloemwater se hande jeuk om die stad se watertoevoer te beperk – weens wanbetaling. Maar dis simptomaties van groter politiek-ekonomiese probleme wat selfverterend van aard is en dreig om hande uit te ruk. Uit ’n lesing deur pres. Cyril Ramaphosa blyk dit dat hy weet waar die probleme lê, maar steeds probeer om transformasie vinniger as ekonomiese groei te bevorder, wat die land enorme skade berokken.

Die laaste persoon wat die gebou verlaat skakel ook die ligte af. Nie soos gewoonlik by die ligskakelaar by die voordeur nie, maar die hoofskakelaar in die gang, en gebruik daarvandaan sy selfoon se liggie om buite by sy kollegas aan te sluit. Hulle groet emosioneel want baie van hulle gaan mekaar nie weer sien nie, maar die kommer oor waar ’n volgende geldjie vir die gesin vandaan gaan kom lê swaar op die gemoed. Nog ’n sake-onderneming het wit pens bo gedraai.

Baie Suid-Afrikaners het dit al ervaar. Al het jy hóé hard gewerk, as die ligte finaal afgeskakel word, is die fisieke en sielkundige kers gesnuit . Dan is dit verby. Boonop is die ekonomie so gedemp – die Internasionale Monitêre Fonds (IMF) sê self so – dat daar menslik gesproke nie sommer ’n geleentheid vir weer opstaan in die vooruitsig is nie.

Al kom daar niks van Eskom se planne om volgende week Bloemfontein se munisipale struktuur, Mangaung, en nog twee Vrystaatse munisipaliteite se krag van 06:00 tot 20:00 te doof nie, is die gevolge van die aankondiging alleen ekonomies verwoestend.

Dit werp ’n donker skadu oor Ramaphosa se jongste nuusbrief. Sy oproep dat daar teen geen ras in Suid-Afrika gediskrimineer mag word nie omdat die Grondwet aan almal gelyke regte bied (of dit was minstens tot die US-uitspraak oor gelyke taalregte die veronderstelling) was wel baie laat, maar liewer laat as nooit. Of Jessie Duarte se uitsprake wat in gister se nuuskommentaar onder die loep geneem is daarmee verband hou, is nie duidelik nie. Maar terselfdertyd kritiseer Ramaphosa die privaatsektor wat by die owerheidsektor agtergebly het met “die program van transformasie”.

Maar – het die ouditeur-generaal se jongste verslae oor hoe dit in die owerheidsektor gaan die president ontgaan? Was hy onbewus daarvan dat Eskom nog dieselfde dag as sy nuusbrief sou aankondig hy gaan die Vrystaatse hoofstad en ander se ligte doof? Ja, daar sal saans ná 20:00 krag wees, maar bykans elke ekonomiese aktiwiteit vind bedags plaas. Die wette van ekonomiese geografie bepaal dat dit nie net die Vrystaat is wat gaan skade ly nie, maar Gauteng gaan in bruto terme groter skade ly. Volgens hierdie modelle oefen Gauteng ’n groter ekonomiese invloed op Philippolis uit as wat Bloemfontein daar uitoefen.

Die probleem is nie transformasie nie, in elk geval nie in teorie nie, maar dat daar nie rekening gehou word met die tempo van ekonomiese groei wat die tempo waarteen transformasie kan plaasvind dikteer nie. Gekwalifiseerdheid is maar een aspek, maar om ander aspekte te noem sonder groot omsigtigheid wat baie ruimte opeis, kan so maklik na rasstereotipering ruik. Dit sluit faktore soos korrupsie en werketiek in, een waarvan die staatskaping van die Zuptas ’n uitstekende voorbeeld is. Lees gerus die getuienis van Mo Shaik voor die Zondo-kommissie om te sien hóé toepaslik hierdie voorbeeld is. Shaik, eens Suid-Afrika se spioenasiebaas, het in wese getuig die land het die (ekonomiese) prys betaal daarvoor dat Zuma besluit het die Guptas mag nie deur die land se spioenasiedienste ondersoek word nie. Bloot vir die interessantheid, hoogverraad is wanneer iemand verraad teen die staat self pleeg. As oorsaak en gevolg (kousale verband) bewysbaar in konteks geplaas kan word, staan morele verraad waarskynlik agter die deur. Kriminele ontrou staan ook in die tou om sy relevansie te laat toets.

As die ekonomie krimp, soos noodwendig die gevolg van onteiening sonder vergoedingspraatjies, word kundiges ter wille van transformasie met waarskynlik minder gekwalifiseerdes vervang. Waar moontlik sal familie en vriende hierdie gekwalifiseerde mense in die privaatsektor opneem, wat transformasie in die privaatsektor nog verder in die wiele ry.

Intussen is die privaatsektor ook onder druk – die staat is veronderstel om’n klimaat bevorderlik vir werkskepping en ekonomiese groei te verseker, eerder as om self werkgeleenthede te skep. Ook hierin misluk die staat met lof.

Dit klink soms of Ramaphosa met die vinger presies op die vrot kolle kan druk, soos uit sy OR Tambo-gedenklesing blyk. Ongelukkig werk ekonomiese wette en beleggers verswarend wanneer ’n regering weet waar die probleme lê, en uitspraak lewer dat dit aandag sal kry, maar in die praktyk word die voornemens deur faksies en radikale vakbondaspirasies die nek ingeslaan.

Die uwe is op rekord dat hy al in 2011 geskryf het (indien nie ook al vroeër nie) dat transformasie by hom die persepsie van ’n vloekwoord gevorm het. By terugskoue dateer dit van ’n tyd toe die uitdrukking “radikale ekonomiese transformasie” by ANC en ander politici gewild geword het, en nog niks het verander om daardie persepsie binne daardie konteks te wysig nie. Om ekonomies haalbare transformasie toe te wil pas, maar dit deur ’n radikale weergawe te probeer implementeer is soos om ’n span wilde veldlopende Brahmaanbulle voor ’n ploeg in te span.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Arak ·

Deel van die kommunistiese manier is om nooit die fout by jouself te soek nie. Dit is altyd iemand anders se skuld en jy is ook altyd die slagoffer. Nogal interessant as jy dit vergelyk met die Christenlike wêreldbeskouing wat weer by jouself begin (haal eers die balk uit jou eie oog).

Die land wat in sy kanon bestuur is, die totale gebrek aan vermoeë, die korrupsie orals om ons, maar Cyril het die oplossing; ons moet meer transformeer. Die enigste verskil tussen Cyril en Lesufi is dat Cyril sy haat vir die Afrikaner beter weg steek, verder is hulle voëls van enerse vere en ewe onbevoeg.

My wens is dat mense wat so graag vir ander wil besluit, soos Cyril met transformasie en Lesufi met die skole net by hulself sal begin. Lesufi se kinders moet almal in staatskole in die plakkerskampe gaan soos hy vir die Afrikaners wil reël en Cyril, kan maar begin om al die besighede waarin hy soveel aandele het totaal te transformeer. Ek sal ook aandring dat die President en ministers se vlieëniers van nou af aan alle transformasie teikens moet voldoen, selfde met hulle dokters en alle gespesialiseerde dienste wat hulle benodig.

Moet nie vir ons vertel van transformasie nie, geagte menere, wys ons op alle vlakke rondom julle, dan voeg julle ten minste daad by die woord.

Leon ·

Die ANC gebruik die tipiese kommunistiese aanslag. As ek sê ek doen ‘n ding dan glo die wereld my en hulle dink ek is wonderlik en hulle gee vir my beleggings.
Ongelukkig het die wereld matriek gemaak en bietjie vêrder gestudeer, so hulle lag vir hierdie dom Afrikane wat hier aan die Suidpunt van Afrika sulke komiese uitlatings maak en dink almal glo dit. Hulle het mooi by Oom Bob geleer hoe om ‘n land totaal te vernietig. nog net ‘n paar jaar dan steek ons Zim verby op pad ondertoe.

Klaar Neusie Verby ·

Die land is reeds neusie verby. Vir diegene wat kan is dit beste om so gou as moontlik te vertrek terwyl die skip kantel.

Verlore ·

Die moleste gaan nou begin as mense se krag en water afgesny word. Die armstes gaan nou voel wat korrupsie doen, maar sal nie verstaan dat dit hul eie skuld is nie omdat hulle korrupte politici glo en vir hulle gestem het!

humor ·

Ag Maroela Herman gebruik so n bietjie humor rakende die wilde veldrondloop Brahman bulle, Laat my so n bietjie voortbou daarop. Ek glo van die Brahmanboere sal dit geniet. As die voortrekker hierdie vryloop Brahman bulle gehad het dan sou ons nou IN die Konko ,Kenia en Tanzanie regeer het. Miskien n ossewa op KiloMenjaro

Johan ·

Dit was neusie verby vir SA die dag toe mandela uit die tronk gestap het, sy vuis omhoog gehou het en saam met die kommuniste gesing het “maak dood die witman, maak dood die Boer”…

EO ·

Ai, ou Cyriltjie, as jy regtig weet waar die probleme lê, doen dan iets daar omtrent. Jy weet niks wat aangaan in onse land nie my ou maat.

André-Chris ·

Cyril Ramaphosa leef in ‘n droomwêreld ver weg van ons realiteit en dan probeer hy ‘n vodde skoen poets wat hy op die ashoop opgetel het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.