Nuuskommentaar: Elke dag in die gees van Kersfees

Argieffoto Foto: "Nativity tree 2011" deur Jeff Weese, Flickr via Wikimedia Commons

Argieffoto Foto: “Nativity tree 2011” deur Jeff Weese, Flickr via Wikimedia Commons

Ons weet nie op watter datum Jesus gebore is nie, en ook nie eens presies watter jaar nie. Maar die kosbaarste besitting het ons wel op ʼn ongelooflike wyse bereik – dit wat Jesus ons op aarde kom leer het voor Hy sy grootste werk volbring het – om vir ons sondes te sterf – en weer uit die dood op te staan.

Destyds was daar geen rekenaars waarop Jesus se leringe en handelinge opgeteken kon word nie. Koerante met hul argiewe het nie bestaan nie. Sy dissipels wat oor Jesus se lewe geskryf het was nie eerstehands deel van Sy geboorte en jongmenslewe nie.

Dokumente is deur die eeue oor en oor geskryf, en heelwat verskillende en die oudste beskikbare dokumente is opgespoor en met mekaar vergelyk om die suiwerste moontlike weergawe te kry. Met die saamstel van die Bybel is hard besin oor watter suiwer genoeg Jesus se leerstellinge korrek sou weergee. Die boek van Jakobus is eers in ʼn laat-stadium vir insluiting in die Bybel goedgekeur, onder andere omdat Jakobus, anders as Paulus, minder klem op geloof self as voldoende vir genade geplaas het, en geleer het dat geloof wat nie deur dade in geloof gevolg word nie, op gebrekkige geloof dui.

Beskikbare historiese bronne uit ander oorde werp ook nie werklik lig op die lewe van Jesus nie. Jesus se lewe het immers eerder ten doel gehad om ons geloofslewe as bloot ons geskiedenisboeke te vul.

Wat ons glo, bepaal tot ʼn groot mate ons doen en late in ons alledaagse lewe. Maar is daar in ons daaglikse lewe enige neerslag te bespeur van die blye aankondiging met Jesus se geboorte? Vrede op aarde en in die mens ʼn welbehae?

Bykans 90% van Suid-Afrikaners dui op sensusvorms aan dat hulle Christene is. Tog, word onder meer na die padslagting gekyk, is ʼn groot deel van die noodlottige ongelukke veroorsaak deur bestuurders met ʼn paar kappe agter die blad, of bestuurders wat nie net die wettige spoedgrens oorskry het nie, maar sommer die veilige spoed oorskry waarvoor die pad ontwerp en gebou is. Daar is bestuurders wat dubbelsperstrepe ignoreer en teen blinde hoogtes by ander verkeer verbyjaag. En hulle doen so oor Kerstyd.

Ja, Sondagoggende deur die jaar is dit ʼn aardigheid om te sien hoe motoriste op pad kerk toe voet in die hoek sit en al wat verkeersreël is ignoreer. Hoekom sal dit oor Kerstyd anders wees? Terwyl sommige politici hard probeer om in hul Kersboodskappe hulle te beperk tot ʼn werklike Kersboodskap, kan ander nie die versoeking weerstaan om ʼn gewigtige stuk politieke propaganda af te werk, en dan ewe vroom met “A Merry Christmas and Happy New Year” af te sluit nie. So “by the way”.

Terwyl min mense die moeite doen om ʼn Kersdiens by te woon.

Maar as ons ons eie optredes deur die jaar meet, het ons optredes die boodskap van vrede op aarde en in die mens ʼn welbehae gereflekteer? Hoeveel van daardie bitsige en selfs smerige kommentaar, deurspek met vloekwoorde of erg kwetsende woorde in die kuberruim, is in pas met die grootste oomblik van die mensdom?

Natuurlik mag ons nie swyg oor die onreg nie. Natuurlik kan ʼn mens nie korrupsie goedpraat nie. Maar ʼn sagte woord keer tog die grimmigheid weg. Natuurlik mag ons nie swyg as politici die Christene se heiligste oomblikke vir goedkoop (en leuenagtige) politieke gewin kaap nie.

Maar die wyse waarop Christenstryders die geloofswapens opneem en voorwaarts die stryd aanpak sal tog duidelik in onderskeiding staan van hoe die sekulêre magte van die wêreld  sake aanpak. Sal die ware Christen Sondag in die kerk een ding bely, en dan vir ʼn party stem wat die teenoorgestelde predik en doen?

Sal die ware Christen uit die kort kerkraadsvergadering na die diens stap (wat hy dalk nog met gebed afgesluit het), en by die motor sy wagtende gesin vloekend verskreeu? Tog is daar min predikante wat in hul bediening nog nie gehoor het hoe van hul voorste kerkraadslede hierdie voorbeeld stel nie.

Sal die ware Christen met sy eie en ander se lewens dobbel; deur ander verkeer teen ʼn blinde hoogte verby te jaag?

As ons Kersfees tot een dag beperk, as dit nie ons ganse lewe raak nie, dan is Kersfees vir ons soos die paashaas vir ons oor die Paastyd is. Dan is Menseregtedag, Versoeningsdag, Welwillendheidsdag, Vrouedag alles maar net datums op die kalender waar ons ons varkpakke kan aantrek en niks na die res van die jaar oordra nie.

Ons lesers word ʼn geseënde Christusfees toegebid.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.