Nuuskommentaar: Geen entstof teen onbevoegdheid

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Amper die enigste ding waarvan Suid-Afrikaners seker kan wees in dié onsekere tyd is die regering se onbevoegdheid. Dit is seker die een ding waarop ʼn mens met sekerheid kan staatmaak. Kyk maar net na die span se uiters powere hantering van die pandemie.

Nou moes ons 2021 afskop met die regering se verlammende burokratiese gesloer met die verkryging van ʼn entstof wat die einde van die pandemie net nog verder uitstel. Entstowwe is só belangrik juis omdat dit die mees ingrypende manier is om die voortslepende inperkings en ekonomiese skade te stuit. Die ontwikkeling van verskeie Covid-19-entstowwe was nie net ʼn ongelooflike prestasie van die eietydse wêreld nie, maar ook deurslaggewend vir die volledige voortsetting van daardie selfde eietydse wêreld se suksesse.

Juis daarom het die hele wêreld in spanning gewag vir die entstowwe om vervaardig te word. Verskeie regerings het in goeie geloof en beplanning reeds in die middel van verlede jaar kontrakte met vervaardigers aangegaan om entstowwe vir hul onderskeie lande te verseker. Reeds op 8 Desember 2020 het die eerste inentings begin en talle lande sal binne die volgende paar maande kudde-immuniteit deur entstowwe kan bereik.

Suid-Afrika is egter nie een van dié lande nie. Die regering kan sy agterstand nie eens toeskryf aan ʼn tekort aan finansies nie. Lande soos Belarus, Meksiko en Argentinië, wat dit ook nie baie breed het nie, het óók reeds in Desember begin om hul bevolkings in te ent. Dit blyk dus nie uitsluitlik ʼn saak van finansiële toegang tot entstowwe te wees nie, maar eerder een van bevoegdheid. Ons regering het meer as genoeg tyd gehad om met die geskikte erns te reageer – die spanlede het bloot nie.

Ons regering het nie net met voortreflike onbevoegdheid gereageer nie, maar ook aktief verskeie geleenthede van die hand gewys om entstowwe vir Suid-Afrikaners te verseker. Dit het Woensdag aan die lig gekom dat Pfizer, een van die bekendste entstofvervaardigers, verlede jaar maande lank met die regering probeer onderhandel het ten einde Suid-Afrika toegang tot die Pfizer-entstof te bied, maar sonder enige reaksie van die regering se kant. Dié inligting komende van ʼn uitgelekte telefoonoproep met ʼn senior Pfizer-beampte.

Ook was die regering verlede jaar baie bang om ooreenkomste met vervaardigers aan te gaan voordat ʼn suksesvolle entstof vervaardig is. Lede het self erken dat hulle om finansiële redes nie die kans wou waag om betalings te maak vir entstowwe wat nog nie van sukses verseker is nie. Dit terwyl hulle meer as bereid was om in die middel van ʼn pandemie weereens miljarde rande op te dok ten einde die Suid-Afrikaanse Lugdiens te red. Hierdie politieke dwaasheid en selfsug is werklik elke keer verbysterend.

Die regering dring boonop daarop aan om ʼn monopolie op hierdie entstowwe te hê en sal nie toelaat dat ander instansies of groepe die entstof aanskaf en versprei nie. Dit is dieselfde regering wat nie eens skoolhandboeke behoorlik kan versprei nie. Sodoende spoel sy traagheid oor na miljoene uitgelewerde mense – nou het ons nie eens die opsie om in die regering se leemtes en afwesigheid na onsself om te sien nie. Elke liewe mens in die land behoort woedend vir die regering te wees.

Die een ding wat die pandemie ons beslis geleer het, is dat die regering dit deur en deur misbruik het om die diepte en reikwydte van sy invloed te vergroot – selfs ten koste van die welstand en lewe van elke liewe mens in die land.

Al wat die regering ken, is sentrale beheer en nuttelose interministeriële taakspanne wat deur korrupte politici gelei word. Dit is eintlik lagwekkend dat David Mabuza nou aangestel is as voorsitter van die komitee wat die vaartbelyning en doeltreffendheid van die entstofprogram moet verseker. David Mabuza was vir alle praktiese doeleindes vir groot dele van verlede jaar afwesig. Die veronderstelde adjunkpresident van die land het vir byna ʼn jaar doodeenvoudig van die politieke landskap verdwyn. Dit is eintlik ʼn grap dat iemand wat só afwesig vir die duur van die pandemie was, nou dié belangrike fase moet lei.

Die een ding wat ons ongelukkig weereens leer, is dat daar nie ʼn entstof teen onbevoegdheid is nie. So min as wat Suid-Afrikaners iets van die regering verwag, so dikwels stel hy ʼn mens steeds elke keer teleur. Ongeag die situasie sal ons regering ʼn manier vind om te misluk.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, beskryf dit goed deur die regering te vergelyk met ʼn dronk bestuurder op die snelweg. ʼn Mens mag kwaad word vir die bestuurder, maar dit gaan nie die feit verander dat hy ʼn gevaar op die pad is nie. Die antwoord is eerder om die regering sover moontlik te vermy. Dit verander nie die gevaar nie, maar verminder die kanse dat sy roekeloosheid jou gaan benadeel.

Dit is ʼn metafoor wat reeds herhaaldelik in ons land vergestalting gevind het. Privaat hospitale, skole, sekuriteit en infrastruktuur wat onderhou word deur gemeenskapsorganisasies spreek hiervan. Eerder as om die regering se gedrag te probeer verander, moet ons onsself toenemend teen sy onbevoegdheid bestand maak. Hiervoor moet egter ruimte geskep word waarbinne dié alternatiewe moontlik kan wees.

Dit is belangrik om met hierdie entstowwe ook al die moontlike middele uit te put om vir onsself beweegruimte te skep. Alle betrokke rolspelers moet genadeloos op die regering druk uitoefen om daardie monopolie te keer. Dit gaan nooit van die regering ʼn nugter bestuurder maak nie. Dit gaan ons bloot die alternatiewe ruimte gun om onsself te beveilig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Wielspore ·

Na my mening moet ons hier staatmaak op die privaat sektor en werkgewers wat bereid is om sy werknemers se kostes en die inenting teen Covid19 self te behartig.

Wilhelm ·

Goed gestel! Vermy die regering, en maak eerder jouself bestand teen die regering.

Petrus ·

Nee wat, dit help nie om eers om jou tyd te mors deur dit te debateer nie! Mens kan maar net jou Kop in ongeloof skud.

Fritz ·

Ek het in 1992 al geweet die ANC sal onbevoeg wees. Ongelukkig het die meerdergeid destyds gedink die ANC is sommer n klomp bakgat ouens.

Piet ·

Wel, ons kan altyd op hou kla om die braaivleis vuur en die strate in vaar? Ons as wittes betaal meeste van die belasting en het dus baie meer politiese kapitaal wat verandering kan dryf. Ons is baie goed in moan en niks doen, baie sleg in organiseer en protesteer. Niks gaan verander as ons niks doen nie

Fritz ·

Ek het al aan 2 vreedsame optogte deelgeneem. Mors van tyd gewees. Ek sal weer aan n optog deelneem, mits daar n bietjie “wanorde” betrokke gaan wees. Dis nie n gegewe dat mense wat amok maak wel hulle sin gaan kry nie. Dis egter n gegewe dat vreedsame optogte GEEN indruk maak op regerings nie. Ongeag in watter land jy bly. Regerings wêreldwyd verstaan net een taal.

Bosveldbul73 ·

Jou verwysing van “Ons as wittes” is juis die rede dat ons met ‘n onbevoegde regering sit… Solank ons nie as Een Nasie kan saamstaan nie, en daar deurgaans verdeeldheid is, sal die Onbevoegdes ons aanhou regeer…

Die Wolf ·

Het klaar uitgelek dat die sloerdery van beamptes die groot oorsaak is van die aankope .

Aikie ·

Natuurlik lees die grootste gros van SAners wat dit nodig het nié Maroela nie. Ek dink ons sal maar moet maak soos Solidariteit en aandring: “ONS SAL SELF”. Moet nie vergeet om dankie te sê nie.

Pieter ·

En nog steeds stem die meeste brein dood mense vir die ANC sirkus.

Piet ·

Ek het die afgelope tyd so baie gelees hoe swak die regering is en dat ons self iets moet doen, dat ek besluit het om op te hou lees.

Dup ·

Hierdie land is besig om op ñ Kommunistiese/Marxistiese regeringstelsel af te stuur.Die regering gebruik ñ sentrale beheerstelsel om alle besluite “namens die mense” te neem en dan af te dwing.Dit gaan gepaard met ñ militaristiese optrede soos daagliks deur die polisie en weermag getoon word.Dit is waarom SA groot vriende is met lande soos Kuba,Rusland,China en ook Indië.

Herman ·

Ek weet nie waarom is almal so geskok oor die lamsakkigheid vd regering om entstof te verkry nie.Die regering se “track record” kom al van ’94 af met die huiwering om hiv medikasie beskikbaar te stel.NDZ en haar opvolger Manto het vir meer as 10jr die medijasie terug gehou omdat dit glo giftig was en sodoende die dood van ongeveer 500 000 hiv pasiënte veroorsaak het…so wat is nuus hieraan….?

Deon ·

Die hele entstof ding is ‘n geldmaak klug. Ek volg nie net Maroela-nuus nie maar ook internasionaal. Gister het ek gelees van mense in Duitsland wat dood is nadat hulle ‘n bekende handelsnaam inenting ontvang het (lieg ek nou lieg uit media monde en ek glo en vertrou dat hulle ten minste die waarheid sal praat want die ANC word almal voorsien met kleurpotlode om ‘n leun soos ‘n sprokies verhaal te laat lyk)

Riaan ·

Het hierdie artikel geniet en dit sê maar net wat ons almal dink.

John ·

As Ivermectin werk waarom ‘n in-enting? Of is hulle weer vies omdat hulle dit nie eerste ondek het nie…..?

Hermie ·

Daar moet genoeg tyd gegee word om te onderhandel vir die beste “diensfooie” vir die onderhandelaars.

domheks ·

Hoe weet mens nou of die entstof R10 of R20 miljard gaan kos. Is die R10 miljard vir die kaders se sakke bedoel? Gaan die medikasie by regte temperature geberg word? Kan jy die mense wat jou moet inspuit vertrou, of kom hulle sommer van die strate af?
Dankie, maar NEE DANKIE! niemand sal my inspuit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.