Nuuskommentaar: Hoe kan ons polariserende politieke debat versag en verdraagsaamheid bevorder?

Argieffoto

Lesersreaksies dui gereeld op die groot kloof tussen die konvensionele denkers, en diegene wat neig om samesweringsteorieë te glo en bewese werklikhede te ontken. Ongelukkig lei vitrioel, asook die smerige aard, swak spelling en taalgebruik van “deelnemers” aan die diskoers daartoe dat stereotipes oor die ander gevorm word wat die kloof wyer oopdwing.

Tot vandag toe woel dit oor die kwessie van ja-stemmers teenoor nee-stemmers in 1992. Dis ’n komplekse situasie, maar tot op die been vereenvoudig kan gesê word optimiste en die sinikuste het teen mekaar gestem.

Moontlik die jongste toets is of die publiek gaan toelaat dat hul pensioengeld (staats- en privaat pensioen) beskikbaar gestel gaan word om Eskom uit die bodemlose put te verlos. Beloftes dat geen ruimte vir korrupsie gelaat gaan word nie, word moontlik net deur die mees naïewe “beleggers” geglo.

Die feit bly dat verskillende mense geneig is om verskillende dinge te glo, en in die proses ander dinge, al is dit ook al oor en oor bewys, verwerp – en dit kan ook tot ’n geesteseienskap herlei word. Met die 50-jarige herdenking van die eerste bemande maanlanding verlede jaar sou baie mense waarskynlik verbaas gewees het oor hoeveel mense daar is wat absoluut oortuig is dat die maanlandings nooit plaasgevind het nie. Nog meer verbasend, waarskynlik, was hoeveel plataarde-aanhangers daar in die Suid-Afrikaanse diskoerse hieroor na vore getree het.

Al hoe meer navorsers vanuit verskillende dissiplines tree ook nou na vore wat aanspraak maak daarop dat daar gemeenskaplike eienskappe kleef aan diegene wat verkondig dat die wetenskap ’n groot bedrogspul is, wat glo die maselsinentings veroorsaak outisme en ander probleme (in weerwil van twee wetenskaplike eksperimente wat die teendeel bewys), dat die aarde net 6 000 of 7 000 jaar oud is en dat alle ouderdomstoetse bedrieglike resultate oplewer, dat die Bybelse argeologie wat by kweekskole gedoseer word dus verkeerd is betreffende stede soos Jerigo, Damaskus en Aleppo wat in die orde van 13 000 jaar oud is, dat klimaatverandering ’n “hoax” is, en dat die aanhangers van die samesweringsteorieë en ontkenners altyd reg is.

Ontleders wys ook daarop dat ondersteuners en teenstanders van pres. Donald Trump alle werklikheid oorboord gooi en oor ’n wye spektrum dieselfde dinge glo of verwerp.

Die “gemeenskaplikhede” word in die biologie, sielkunde en sosiologie gevind. ’n Australiese studie het byvoorbeeld bevind (of dalk nie bevind nie) dat ontkenners en samesweringsaanhangers dieselfde genetiese mutasie deel. Dié studie was moeilik te bekom – die uwe het dit reeds erg virusbesmet van die internet afgelaai, en dit is daarna skynbaar verwyder en is nou blykbaar onopspoorbaar. Ander skryf dit toe aan sielkundige en sosiologiese faktore wat nou eie aan die hedendaagse lewe is. Nog mense skryf dit toe aan die invloed van kuber-kommunikasie, en meer bepaald die invloed van fopnuus en regeringspropaganda.

Die gevolge is dat die verskillende groepe mekaar uiters vyandiggesind is. Ou vriendskappe bly oornag in die slag, en familiebande word boos geknip. In die VSA is veel geskryf oor politieke teenstanders wat verbete vyande geword het. Bure van verskillende partye se gereelde kuiertjies en ’n vleisie op die kole gooi, het in ysige vyandskap ontaard.

Maar is hierdie uiteenlopendhede onoorkombaar, en indien nie, wat kan daaraan gedoen word? ’n Amerikaanse emeritus hoogleraar in die sielkunde, Beverly B Palmer, stel vier “wetenskap-gebaseerde” stappe voor in ’n artikel wat in The Conversation verskyn het.

Hierdie stappe behels kortweg:

  1. Waag om met dié mense wat van jou verskil in verbinding te tree en fokus op die terreine waar julle idees ooreenstem.
  2. Vind gemeenskaplike gronde.
  3. Kommunikeer, wat luister en praat insluit.
  4. Leer om die media krities te ontleed. Hierdie aspek is in gister se nuuskommentaar se laaste deel ook ontleed, en wel aan die hand van Elisabeth Stoycheff se voorstelle.

Elkeen sal sy of haar eie ervaring hê of die verskille onoorkombaar is. As iemand eers onder die uiterste oordele en vitrioel van ander deurgeloop het, sal dit as onoorkomelik en prof. Palmer se voorstelle as onsinnig ervaar word. In die artikel word veel meer vleis egter by die voorgestelde stappe gevoeg, en maak dit reeds sin, maar uiteindelik sal fisieke ervarings die deurslag gee.

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Dink eerder die dagdromers het teen die realiste gestem met die ja stemmers wat die dromers was wat ons in elende gedompel het en vir die wat nou weer gaan se FW het ons van n oorlog gered droom nog steeds want ons was nog nooit uit een nie

JC Venter

Werner, en daar verskil ek weer van jou oor jou persepsie van die ja-stemmers wat die geleentheid ontneem was toe ‘n 2de referendum gesystap is, wie sal FW se, ‘ek het ‘n mandaad …. ek het ‘n mandaad …’ -uitroep vergeet terwyl hy die uitlag van die eerste referendum oral waar hy gaan omhoog gehou het. Gaats ek is nou maar die tweede ou wat hier na jou kommentaar lewer en daar verskil ons van mekaar. Maar ek stem dat met die realistiese mens en daardie mens se ingesteldheid kan ‘n mens ‘n ver pad mee stap, ook verkil en… Lees meer »

Wessel

Daterings metodes is herhaaldelik bewys as verdag. Dit skep wel die persepsie van “Wetenskaplik” te wees, maar die praktyk het teendeel telkemale bewys. Hierdie sogenaamde “wetenskaplike” metodes word eintlik misbruik, om aan te haak aan die evolusie teorie en dit te ondersteun.

AJ

Oor ‘mooi’ en ‘lekker’ …’ goed’ en ‘sleg’ kan almal altyd “reg” wees. Want dit is subjektiewe, onbewysbare standpunte. Maar ‘wragtag- … oor wetenskaplik bewysde “feite” kan elke JAN RAP en sy MAAT nie ‘n ‘opinie’ huldig nie. As jy ernstig opgeneem wil word … BEWYS jou standpunt! …. met wetenskaplik nagevorsde feite. Of hou jou ‘opinie’ vir jouself! In alle respek teenoor gelowige mense … as iets geskryf staan in die Bybel (Quran) ens. beteken dit nie noodwendig dat dit as FEITE, wetenskaplik korrek, aanvaar kan word nie. (‘Wetenskaplik’ beteken dat die feite oral op die planeet bewys kan… Lees meer »

jinny jualinda

Los ou koeie in die sloot, kyk die werklikheid vierkantig in die oe. Die land is aan die brand, die wit Afrikaner se kultuur en geskiedenis is herskryf deur mense wat hulle as intellektuele beskou. Wit Afrikaners is verdeeld punt. Dit is asof hulle in twee verskillende waarhede woon. Een is positief en verkies om geen onheil te sien in die opstande, onverdraagsaamheid en agteruitgang van die eens vooruitstrewende land nie. Die ander leef in angs, vrees die toekoms en besef dat dit waarvoor hulle gewerk het, vertrap word. Hulle sien die rewolusie groei en gevaarliker raak en dat alles… Lees meer »