Nuuskommentaar: Jaaroorsig (Deel 4)

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die Life Esidimeni-skandaal, wat volgens sommige kommentators op die massamoord van kwesbare psigiatriese pasiënte neerkom, sal lank as skandvlek oor die land bly hang. Ongelukkig is dit nie al skandaal nie, en al hoe meer vrae word gevra oor hoe lank pres. Jacob Zuma ná sy vervanging as ANC-president as staatspresident sal kan bly vasklou.

Seker een van die grootste skandes wat die land vanjaar getref het, en wat Media24 vandag in sy gedeelde hoofartikel as “taamlik rampspoedig” beskryf, is die Life Esidimeni-skandaal wat tot die sterftes van sowat 140 psigiatriese pasiënte gelei het. Nog ’n aantal kon ná hul uitplasing nie opgespoor word nie.

Tydens die Sharpeville-skietery in 1960 is 69 mense dood, en tydens die Marikana-skietery in 2012 is 34 mense doodgeskiet. Beide voorvalle het internasionaal opslae gemaak.

Dit is nie net die feit dat so baie hulpelose mense dood is wat skok nie, maar die wyses waarop hulle gesterf het – ontbering, honger en dors. Sommige kommentators draai nie doekies om nie en noem dit moord.

Met die ondersoek voor regter Dikgang Moseneke was dit ’n naarheid om te aanskou hoe verantwoordelikheid hiervoor ontduik word. Moseneke is egter duidelik van plan om agter die kap van die byl te kom, en niemand wat ’n aandeel hierin gehad het gaan sake vryspring nie.

’n Aspek wat nie media-aandag kry nie, is familie van oorledenes wat nou na vore kom en ’n groot tranedal uitpak, jare ná hulle die familie laas gesien het. Dit ruik na opportunisme om ’n kompensasie los te slaan nadat die psigiatriese familielid “weggegooi” is.

Nog ’n vet skandaal is die #GuptaLeaks-onthulling dat R30 miljoen staatsgeld wat bedoel was vir die abortiewe melkplaasprojek by Vrede – met ’n ompad deur die buiteland – glo gebruik is om vir die omstrede Gupta-troue te betaal. Hoewel dit ’n “klein bedraggie” is in vergelyking met ander bedrae wat in die staatskaping genoem word, skreeu dit ten hemele weens die verregaande aard daarvan.

Selfs te midde van die “taamlik rampspoedige jaar” het Suid-Afrikaners oor ’n wye spektrum presteer. Die hartspan van Groote Schuur het byvoorbeeld ’n revolusionêre hartklep ontwikkel, terwyl sportlui soos Wayde van Niekerk op die sportveld sukses behaal het. Terwyl die Protea-krieketspan goed daarin slaag om pikkies te boelie, geluk dit ongelukkig nie altyd die Springbokke nie. Die Blitsbokke hou darem die fort.

Hier teen die einde van 2017 word kliphard bespiegel oor wat nou van pres. Jacob Zuma gaan word. Hy het tot dusver die ergste storms oorleef en soos ’n neet aan die presidentskap bly kleef. Hy is egter nou nie meer president van die ANC nie en bespiegelinge dat hy op die een of ander wyse die trekpas kan kry, neem by die dag toe. Die moontlikheid van die een of ander vorm van amnestie teen vervolging word ook weer al meer gehoor, en net so fel in opposisiekringe teengestaan.

Na verwagting kom daar egter vandag ’n keerpunt wanneer die konstitusionele hof in wese beslis oor die vraag of Zuma in ’n staat van beskuldiging geplaas moet word. Opposisiepartye voel die speaker, Baleka Mbete, het nie genoeg gedoen ná die konstitusionele hof bevind het Zuma het die grondwet oortree nie.

Hoe spoedig iets rondom Zuma gaan gebeur, hang grootliks af van in hoe ’n mate die Ramaphosa-kamp geduld sal hê met die enorme skade wat Zuma aan die ANC en die land aanrig.

Maandag word in meer detail gekyk na die land se vooruitsigte in 2018 – iets wat klaar ’n meer positiewe klankie gekry het (soos weerspieël in ekonomiese aanduidings ten spyte van die Steinhoff-debakel) nadat Ramaphosa tot ANC-president verkies is, en die staatskapingstentakels klaarblyklik ’n knou weg het ná dr. Nkosazana Dlamini-Zuma nie die paal gehaal het nie.

 

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Eish ·

Ek dink u slaan die spyker op die kop met die Esidimeni skandaal betreffende die familie van pasiënte wat gesterf het. Dit het hul ook maar besonder lank geneem om die rooi vlag te hys.
Mens kan jou nie indink dat die helhool se wielietjies so in reëlmaat deur die jaar bly afval het nie.

fanie ·

Die plaasmoorde word so gering geag dat nie eens plek kry nie maar die marikana ding word meer geag alowel daar minder sterftes was as die plaas moorde en moorde op blanke suid afrikaaners

Frankie ·

Fanie…hierdie skrywe is no 4 ….lees no 2 …die plaasaanvalle word daar in detail na verwys.

jaco ·

Sharpeville 21 maart 1960: wit apartheidspolisie skiet 167 swart mense dood. EEN dag later is Suid-Afrika die swart skaap van die wereld. ANC se gewapende stryd verskerp en daars ekonomiese sanksies teen SA deur n groot deel van die res v.d. wereld.
Marikana en Esidimeni skandale meer as 50 jaar later: swart amptenare van SA se swart regering maak swart mense dood. die res van die wereld is stil en in SA volg die een ondersoek, kommmissie en komitee na die ander vir n paar jaar om te kyk wat het dan nou regtig gebeur en wie is dan nou regtig skuldig en wie nie.
Die ANC moet asseblief BITTER vinnig besef: dis MOEILIK om n derde wereld land te regeer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.