Nuuskommentaar: Julias M. Caesar en grondgryp

Julius Malema, leier van die EFF, op 21 Augustus 2014 buite die Nasionale Vergadering Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Julius Malema, leier van die EFF, op 21 Augustus 2014 buite die Nasionale Vergadering Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Volgens ’n artikel in die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal het Julius Caesar ’n “verskoning” gehad vir sy latere irrasionale en dikwels wrede optredes – hy het waarskynlik ʼn breingewas gehad, en het Brutus hom eintlik ’n guns bewys met die sluipmoord.

Daar is enorme verskille tussen Julius Caesar en onse eie Julius (volgens sy geboortesertifikaat eintlik Julias) Malema.

Daar is egter ook ’n hele rits ooreenkomste, soos dat beide nie juis ooghare vir ’n beskaafde demokrasie het nie. Reeds vroeg in Malema se politieke loopbaan het waarnemers daarop gewys dat hy wel (min of meer) die taal van sosialisme en rewolusie praat, maar veel meer met ander stelsels soos die Nazisme en Fascisme in gemeen het. Dié punt bly oop vir debat.

Wat wel duidelik is, is dat respek vir demokrasie bloot beperk word tot dit waar opportunisties munt uit geslaan kan word.

Wat verteer Malema se denke? Hy het in ’n omgewing grootgeword waar armoede en ontwikkelingsagterstande die reël was. Terselfdertyd het hy ander se groot huise en blink motors gesien, is hy blootgestel aan propaganda, en het konflikterende idees in sy kop posgevat – hy wil ook daardie blink goed besit, en hy wil die “onregte” wat hom in sy jeug daarvan weerhou het, verander (of dan vernietig). Oorkant die Limpopo het sy rolmodel, Robert Mugabe, juis dit gedoen (al het dit ook Zimbabwe se ekonomie ten gronde laat gaan).

Malema is in 1981 gebore, en was dus nog ’n politieke peuter toe die oorgang van 1994 plaasgevind het. Hy was maar nege of tien jaar oud toe hy by die ANC aangesluit het, en sy “taak” was om Nasionale Party-plakkate te verwyder. Sy jeugdigheid het hom egter tog “verneuk” om ’n groot “struggle-held” te wees (en niemand sal dus ook weet of hy dapper genoeg sou wees daarvoor nie), en moet hy sy “struggle credentials” dus nou op ander maniere verwerf. Daarvoor is hy besonder goed toegerus – met ’n baie groot mond. Hy is bes moontlik nie Mugabe se intellektuele gelyke nie (in elk geval voor ouderdom duidelik diep spore begin trap het nie), maar is skynbaar weer pres. Jacob Zuma, en sommer ’n rits van Zuma se adviseurs, se intellektuele meerdere.

Dat Malema aanvanklik vir Zuma as rytuig na bo beskou het, was nie onverwags nie. Sy “ons sal doodmaak vir Zuma”-uitlating in die teenwoordigheid van Zuma, het skokgolwe oor die land heen gestuur. Ironies was beide hy en Zuma (en sommer Zwelinzima Vavi ook) by hierdie geleentheid ongemagtigde sprekers by ’n formele staatsgeleentheid. Zuma was toe wel president van die ANC, maar nie van die land nie, Malema het geen regeringspos of staatsamp beklee nie, en so ook nie Vavi nie. Dat dit verkeerd was om hulle as sprekers te bekom, is skynbaar teensinnig deur die destydse Openbare Beskermer, Lawrence Mushwana, bevestig. Dit meer as net impliseer dat nie een, asook die Vrystaatse provinsiale regering wat die uitnodigings gerig het, die onderskeid tussen staat en politieke party geken het nie. En dis een van die hoekstene van demokrasie.

Hierna is Malema in effek as toekomstige president van die land “gesalf” toe Zuma by ʼn saamtrek in Malema se geboortedorp na die jongeling as toekomstige president verwys het.

Hierna het die verhoudinge tussen Zuma en Malema versuur. Malema het (al was dit hoofsaaklik in sy eie kop) te groot geword vir die pot waarin hy vir sy toekomstige leiersrol gereed gemaak is.

Toe hy uit die ANC geskop is, het verskeie van die land se bekendste kommentators ikabod oor Malema se toekomstige rol geskryf. Hulle het hulle liederlik misgis.

Skielik het Malema ’n groot kampvegter teen korrupsie geword, met Zuma as hoofteiken. Dis effe pikant teen die agtergrond van die hofsaak wat oor Malema se eie kop hang.

Meer as ’n miljoen mense het vanjaar in die algemene verkiesing vir Malema se EFF gestem. Dit het sy party weliswaar nie die amptelike opposisie in die parlement gemaak nie, maar daarvoor is “gekompenseer” met gedrag en optredes wat die DA amper as amptelike opposisie “uitgehaal” het – in elk geval in die media.

Met die aanvang van die EFF se parlementêre termyn, het die EFF sy stemme aangebied om die grondwet te wysig sodat vir die onteiening van grond sonder kompensasie voorsiening gemaak kan word.

Met die stigting van die EFF is dit duidelik gemaak dat dié party “minder klem op versoening en meer klem op rewolusie” sou plaas. Reeds as ANC-jeugligaleier was dit duidelik dat versoening nie deel van sy denke is nie toe Malema aan haatspraak skuldig bevind is, oor die volgehoue sing van die “skiet die Boer”-liedjie.

Nou het Malema mense opgevorder om grond te beset, en die EFF sal via ’n fonds wat hiervoor geskep word, diegene wat hieroor in hegtenis geneem word met regshulp bystaan. Dit het Malema ’n kriminele klag via AfriForum op die lyf laat loop.

Die EFF het nou sy nasionaliseringsplanne min of meer beperk tot eiendom soos plase en myne, en nie daardie blink dinge waaroor Malema se ogies self blink soos peperduur motors en blink horlosies nie. Die myne waarin adjunk-president Cyril Ramaphosa en Patrice Matsepe groot aandele het, moet eerste vir besetting geteiken word omdat hulle glo “ons” (die swart mense) uitverkoop het. Oor plase word die geykte leuen volgehou dat dit bloot die terugneem van gesteelde eiendom behels.

By die EFF se eerste kongres was daar reeds verdeeldheid toe die leierskapsverkiesing na bewering geplooi is om Malema se vriende se verkiesing tot die leiersposisies te waarborg. Onder meer sou daar ’n gedrukte lys van “voorkeurkandidate” wees.

En as ’n party so met demokrasie in eie geledere omgaan, is daar bepaalde gevaartekens van hoe die party demokrasie, en veral grondwetlike demokrasie, in die staatskonteks sou respekteer.

In elke moontlike denkbare konteks is die EFF, veral onder die leiding van Malema, slegte nuus. Sy enigste “opbouende” rol tot dusver was om deur afbrekende taktiek die ANC se hegemonie oor die demokrasie onsagkens oop te ruk, en dadelik (saam met ander partye) daarop te teer. Meer as Cope, die UDM, Agang, die IVP en selfs die DA het Julius die boodskap duidelik gebring dat bloot omdat iemand swart is, beteken dit nie hy moet vir die ANC stem nie.

En die landswye munisipale verkiesings lê voor. Die ANC sien duidelik nie uit daarna dat die EFF landswyd statutêr vastrapplek kry, in plaas van nou net in die parlement en nege provinsiale wetgewers nie.

Of die stout kind die vloermoer-stadium gaan ontgroei, sal net die tyd leer.

Tegnies is dit moontlik dat Malema in die voorsienbare toekoms ’n kriminele skuldigbevinding op die lyf kan loop wat hom as parlementslid sal diskwalifiseer. Of dit hom ook van sy status as Julius Caesar van die EFF sal stroop, is iets wat nog gesien moet word.

Malema het immers reeds gewys hy hoef nie die president van die land te wees om ’n groot magsbasis te hê nie. En dié magsbasis kan die land enorme skade berokken.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.