Nuuskommentaar: Kwota, kwotas en neo-apartheid

Argieffoto.

‘n Storm het losgebars oor Suid-Afrikaanse Rugby Unie (Saru) se aandrang op nuwe kwotas in die Vodacombekerreeks. Saru regverdig dit aan die hand daarvan dat dié reeks van stapel gestuur is juis om rugby onder spelers van kleur te bevorder.

Dié aandrang kom te midde van ‘n regstryd oor die regering se beleid van rasbegunstigde (affirmative action) aanstellings onder die dekmantel van regstellende aksie.

Maar is kwotas die manier om enige sport meer verteenwoordigend te maak, en hoekom word net sekere sportsoorte geteiken? Waar, byvoorbeeld, is die kwotas vir die BafanaBafana?

Die meeste groot internasionale sportkodes, waaronder die IOK en Fifa, verbied regeringsinmenging en rassisme in sport. Ook rugby en krieket het soortgelyke bepalings, en Saru is ook reeds verkla, waarop die kwessie uiters “politiek-korrek” aangespreek is. Intussen het die Suid-Afrikaanse regering egter baie drasties sy internasionale beeld van engeltjie verbeur, en dit is nie meer so ‘n uitgemaakte saak dat nog n klag so koesterend hanteer sal word nie.

Die afdwing van kwotas skep talle probleme. Eerstens is dit vernederend vir die spelers wat op grond van velkleur, en nie meriete nie, ‘n span haal. Dit stroop, soos oud-Springbokafrigter, Peter de Villiers, gesê het dié spelers van hul menswaardigheid.

Die tweede probleem is dat, veral in kontaksport, dit onder standaard spelers erg aan beserings blootstel.

Sportontwikkeling moet ‘n holistiese benadering wees waar ook diegene wat op verteenwoordigendheid aandring, bereid moet wees om daarvoor op te offer. Dit behels onder meer dat die sport ook in die media wat die teikenmark bereik, beskikbaar moet wees. Maar in die praktyk, wat rugby en krieket asook ‘n magdom ander sportsoorte soos tennis betref, is toeganklikheid ‘n groot probleem. Dit is feitlik uitsluitlik tot die betaal-TV-kanale beperk, wat vir ‘n baie groot deel van die teikenmark onbekostigbaar is. So kan belangstelling nie gekweek word nie.

Wanneer daar by uitsondering krieket op die SABC se TV-kanale  uitgesaai word, word dit eksklusief in Engels uitgesaai. Die afgelope naweek se rugbytoets teen die Argentyne is vir ‘n frats op oop TV uitgesaai, maar kykers is “vergas” op die allerverskriklike “Afringels” van die kommentator Pieter Hendriks.

Rugby-entoesiaste wat te ver van stadions af woon, en nie oor betaal-TV beskik nie, kan ook nie eens altyd die radio inspan nie, omdat nie alle Super 15-wedsryde op radio uitgesaai word nie. En as dit uitgesaai word, is daar net te dikwels lynprobleme. (daar het selfs ‘n hekelegedig, Die lyn na Bloemfontein, die lig gesien). Boonop verhinder die ooreenkoms tussen Saru en die SAUK dat plaaslike gemeenskapsradiostasies dan sulke wedstryde uitsaai soos vroeër gereeld gebeur het.

Selfs bekroonde sportskrywers loop hulself op ‘n dag vas om media-akkreditasie by unies te kry, omdat Saru aandring dat media wat op swart lesers gefokus is, akkreditasie moet kry en daar net beperkte plek is. Dié publikasies stuur dan ‘n verslaggewer en fotograaf (sonder kamera) wat heerlik kuier, veral by die onthaal daarna, en nie ‘n woord rugby publiseer nie.

Groter bonde vind dit veel makliker om hul “kwotas” by ander bonde wat die spelers ontwikkel het te gaan aanskaf, en rysmier sodoende die proses van ontwikkeling. Die voedingsbronne soos SWD, Boland en die Oos-Kaap word gestroop, en die spel self in daardie gebiede gesmoor. Gesindhede word erg beduiwel.

Intussen word harde vrae gevra oor hoekom stadions nie meer die getalle toeskouers bring van vroeër nie. Selfs die ENB-stadion waar oud-pres. Nelson Mandela met internasionale sokker- en rugbywedstryde vereer is, was nie vol nie.  Die Brandstof- en kaartjiepryse is duur, maar die seisoene is te lank. Rugby kan nie meer as seisoensport beskryf word nie, en die sport het baie van sy glans verloor omdat dit lank nie meer net die ouer spelers is wat die swanesang van hul loopbane oorsee by die kospotte afsluit nie.

Toeskouers word eenvoudig nie so meegevoer deur ‘n gekoopte span as ‘n span wat stewige plaaslike wortels het nie. Op die pawiljoene word sportliefhebbers se lewens gereeld vergal deur gopse en ghwarre wat die stadions as gawe plekke beskou om uit te haak, en onder meer hul vulgariteit met drank stook.

En spanne koop die beste senters en vleuel, maar sool besit weg…

Dr. Danie Craven was van mening dat beroepsrugby die sport gaan smoor. Geld in sport is egter nou ‘n gegewe, en daar moet internasionaal saamgewerk word om die gepaardgaande probleme op te los.

Een van die vrae wat aandag sal moet kry is of die baie en ernstige beserings verband hou met die lang seisoene. Daar is redelike konsensus dat dit die geval is, maar die moontlik rol wat spelers verhinder om ook ander sportsoorte te beoefen moet nog ondersoek word. Tot enkele jare gelede was dit nie heeltemal vreemd dat rugbyspelers dubbele Springbokke geword het nie, of minstens provinsiale kleure in ander sportsoorte verwerf het. Jonty Rhodes het baie van sy vaardighede op die hokkieveld verwerf waar hy ook nasionale kleure verwerf het. Naas Botha het nasionale kleure in bofbal verwerf, en Jaco Reinach het rugby- en atletiekspringbok geword. Morné u Plessis en Peter Kirsten was kranige rugby- en krieketspelers, terwyl De Wet Ras nie net in dié twee sportsoorte uitgeblink het nie, maar ook ‘n uitstekende verspringer was.

En sportliefhebbers kry kans om tot verhaal te kom.

Maar moet dit met kwotas reggestel word en die Internasionale Rugbyraad se bepalings so uitgedaag word?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Jaco Griesel ·

Hehehe! Herman Toerien het darem vreeslik meegesleur geraak met hierdie skrywe… Jy moet konsentreer, my kind! ;-)

H J Bester ·

Dis die grootste onsin om te beweer dat die kwotastelsel vir rugby ingestel is om die spel onder anderskleuriges te bevorder – dis niks anders as naakte rassisme nie en die ANC-regering is die inisieërder daarvan want hy wil die blankes op allerhande wyse bykom oor die sogenaamde “wandade” van die verlede. Hy het reeds goed daarin geslaag om die blankes op grond van regstellende aksie, uit die werksplek te dryf.

Enige regdenkende blanke Suid-Afrikaner het nie enige probleem daarmee om saam met anderskleuriges te dien in die werkplek, op die sportgronde of enige ander plek nie – solank die insluiting van enigiemand egter op meriete plaasvind. Hieroor het almal konsesus – maar om toelating op grond van ras of kleur af te dwing, skep weerstand want dis net die blankes wat op grond hiervan benadeel word.

Solank die ANC-regering voortgaan om mense langs die weg van kleur of ras te bevoordeel ten koste van die blankes, sal daar altyd weerstandigheid aanwesig wees – dis ‘n feit.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.