Nuuskommentaar: Minderheidsregte in perspektief

demokrasie

(Argieffoto)

Is die erkenning van minderheidsregte noodwendig “regs” uit ’n politieke perspektief?  In Suid-Afrika het dié persepsie taamlik diep ingeskop omdat ’n vorm van groepregte, deur dit oorvereenvoudig te betrag, by baie op ’n vorm van apartheid kan trek. Die idee bestaan dus by sommiges dat minderheidsregte ’n verskuilde vorm is om wit bevoorregting te verskans.

Juis hierdie aspek is al verskeie kere op Maroela Media onder die loep geneem.

  • Op 9 Februarie 2017 lui die opskrif van die nuuskommentaar op Maroela “Is minderheidsregte regs?” (lees gerus hier). In hierdie nuuskommentaar is gewys op die Seunse Weenkoor se misplaaste reaksie op adv. Gerrie Nel se besluit om by AfriForum aan te sluit om die privaatvervolgingseenheid op die been te bring. Die Seunse Weenkoor het na veral vier analiste verwys wat gereeld allerlei spookstories oor AfriForum en Solidariteit se “regsheid” opgedis het.
  • Op 12 Maart 2012 het die opskrif van die nuuskommentaar op Maroela Media gelui: “Die inhoudelike van minderheidsregte” (lees gerus hier). In dié stuk word onder andere verwys na die afsterwe die vorige jaar van ʼn groot voorvegter vir minderheidsregte, Max van der Stoel.

Van der Stoel ’n regse? Nooit gesien nie! Van der Stoel was ’n senior minister in die linkse kabinet van die bekende Nederlandse premier, Joop den Uyl. As sodanig was hy bykans deurlopend in die voorste linies van die stryd teen apartheid.  Maar Van der Stoel het eintlik bekendheid verwerf vir sy stryd vir minderheidsregte, en hierdie deel van sy nalatenskap het sy aandeel in sy stryd teen apartheid prakties verdwerg. Van der Stoel was ook geen frats nie. Internasionaal is dit dikwels linkse regerings wat die stryd om minderheidsregte die hardste veg.

Die “klankie” wat minderheidsregte in Suid-Afrika gekry het, spruit, soos aangedui, hoofsaaklik uit ’n wanpersepsie dat minderheidsregte ’n verskuilde manier is om wit bevoorregting te verskans. Liberale se hewige beklemtoning van individuele regte, en individuele regte se gelykstelling aan menseregte self (waarvan dit eintlik saam met minderheidsregte net ’n deel moes uitmaak), het ook tot gevolg dat minderheidsregte dikwels as regs beskou word.

In die hande van liberale kan individuele regte soms moeilik verstaanbare gevolge oplewer.  In hierdie omgewing word die vryheid van meningsuitdrukking, wat insluit vryheid van spraak en persvryheid, min of meer as die hoogste uitdrukking van vryheid beskou. In die proses byt ’n ander reg, wat op die oog af in ’n liberale omgewing groot gewig sou dra, naamlik die reg op waardigheid sleg die spit af.

Veral in die sosiale media was dit ’n behoorlike slagveld, met mense wat dit nie verdien nie se waardigheid wat op die vieslikste manier deur kubertrolle vertrap word. Wat die waarheid is, is kwalik ter sprake. Die wurm oefen bloot sy basies onbeperkte reg op vryheid van denke uit. Toegegee, die wiel het in ’n groot mate begin draai, met verskeie prominente linkses wat kla oor hul reg op waardigheid wat aangetas is.

Met die Amerikaanse deelstate Alabama en Missouri wat streng teen-aborsie‑wetgewing aanvaar het (as ʼn tipe strategie om die saak voor die Supreme Court te bring), is daar ’n vreeslike geweeklaag onder linkses. ’n Mens sou verwag dat die linkses, met hul groot steun vir menseregte, waarvan die reg op lewe stellig heel bo, of baie na daaraan moet staan, nie met aborsies tevrede sou wees nie.

Die teendeel is egter waar en hulle beroep hulle op die ma se reg op privaatheid. Dieselfde mense wat gekant is daarteen dat ’n moordenaar tereg gestel mag word, het geen sentimente oor ’n onskuldige baba se lewe nie.  Die kwessie is natuurlik komplekser as hier uitgedruk – die bedoeling is bloot om te toon dat die grense van menseregte nie altyd ’n eenvoudige saak is nie.

So kort na ’n algemene verkiesing waartydens minderheidsregte so ’n belangrike rol gespeel het, is dit miskien gepas om te vra hoe minderheidsregte staatkundig manifesteer?

Per definisie streef minderheidsregte daarna om ’n vorm van verteenwoordigende gesag op te lewer, wat kollektief die groep se belange kan verteenwoordig.  Trouens, artikel 235 van die Grondwet maak daarvoor voorsiening. ’n Vorm van statutêre verteenwoordiging is egter nie ’n vereiste nie.

Uit leserskommentare blyk dit dat heelwat geen nut vir minderheidsregte sien as dit nie met volkome geografiese onafhanklikheid gepaard gaan nie. Voorstelle wissel van baie kompleks tot vreeslik simplisties (en ooglopend onhaalbaar) tot doodgewoon onregmatig. Voorskrifte van die internasionale reg word dikwels geïgnoreer, en uiteraard nasionale wetgewing ook, in pas met die opvatting dat verkiesings geboikot word om sodoende nie “legitimiteit aan die huidige bedeling te verleen nie”.

Dit kan aanvaar word dat daar ook diegene is wat hul menings vir hulself hou om nie vir sedisie en aanverwant in die tronke te beland nie.

Wat met stellig die grootste sekerheid voorspel kan word sonder om ’n profeet te wees, is dat die behoefte aan selfbeskikking al sterker gaan word namate die radikale stemme van die EFF, die BLF, Ace Magashule, Panyaza Lesufi en ander luidrugtiger word, namate frustrasie groei om die staatskapers binne redelike tyd agter tralies te kry, en brugbou-aksies soos die tegnokratiese bystand en aanbiedinge van sodanige bystand deur o.a. AfriForum, Agri SA en die TLU SA minagtend weggeklap word.

Om die begrip “minderheidsregte” as verskuilde apartheid, agterlik, regs of verspot te probeer tipeer, gaan eenvoudig nie werk nie. Daar is bykans nie ’n land in die wêreld wat dit nie op die een af ander skaal toepas nie. Daar is die bekendes soos Groot Brittanje, Switserland, Italië, Nederland (met die Friese), Indië, Nieu-Seeland, die VSA, Ethiopië ens. Konflik neig juis om te trek na lande waar minderheidsregte nie erken word nie, of selfs onderdruk word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

James ·

Ons het geen regte nie. Dis nou al oor en oor bewys. Kyk na al die MRK uitsprake en nuus berigte

Lerato ·

Mense Regte is eintlik die basis waarop demokrasie gebou is, en dit is goed.
As ons nou praat van aborsie, is die ma se mense Regte dan nou belangriker as die kind se regte op bestaan?

Stephan de S ·

Dankie Herman……ek het lekker gelees en gedink…….ons moet helderheid kry oor ons opsies.

Andreas ·

Ek het tog ‘n idee dit gaan nie nét oor die vrese vir weer ‘n tipe ‘apartheid’ onder ‘n dekmantel nie, ek het idee dit gaan oor die fonteintjie waarvan minder gedrink sal kan word, van daar die geweldige teenstand. Alhoewel statistiek anders bewys, propageer hulle al sou meeste rykdom, grond en die ekonomie nog in wit besit is. Maar dan is daar die kundigheid ook.

Lees mens hierdie rubriek saam met Leopold Scholtz se artikel vanoggend, is dit duidelik in watter rigting die oplossing vir die minderhede in die land dringend en lewenskragtig deur daardie leiers en politieke partye gedryf moet word. Diesulkes soos die partye en die twee persone waarna Herman Toerien hier bo in sy tweede laaste paragraaf verwys, noop dit.

Dries du Toit ·

So waar. Selfs die linkses begin nou regse uitsprake maak. Hou maar vir Zille dop.

HANS ·

Vervang die “Handves van Menseregte” met n “Handves van Menseverpligtinge.”

PJC ·

Minderhede kan hulle ook nie noodwendig op die howe beroep nie. In ń hele paar gevalle waar howe moes besluit tussen die grondwet en die ideologie het laasgenoemde gewen selfs in die grondwetlike hof.

H.A. ·

Daar moet mindere wees. Wie gaan dan die slaansak vir meerdere wees ?

humor ·

Hf welman jy moet daar wegbly. Dis n kattegekerm uit die warmplek. Hul sprake en handelinge getuig van die duistere magte. Kyk liewer plaaslik na dit wat hul voorstaan en knaend propageer. Lees more nuus van die UV en jy sal dadelik die vrug van hul dade beleef. Dit sal jou instaat stel om liewer die smalweg te kies.

Andreas ·

Jy is so reg want ‘satan draf die kronkelpad’. Terloop daar is in 1976 ‘n boek met hierdie naam uitgegee. Skrywer, NW Barnard.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.