Nuuskommentaar: Om beleggers onder die alie te skop

Die onlangse ontwrigting van ʼn Liewe Heksie-opvoering tydens die Vrystaatse Kunstefees. Foto: Facebook

Die onlangse ontwrigting van ʼn Liewe Heksie-opvoering tydens die Vrystaatse Kunstefees. Foto: Facebook

Terwyl radikale vakbonde gereeld aandring op maatreëls wat potensiële buitelandse beleggers die horries gee en die regering self lomp sake vir buitelandse beleggers moeilik maak, is die internasionale perspektief hierop klaarblyklik die teenoorgestelde.

In ʼn interessante meningsartikel in die Christian Science Monitor word verskeie voorbeelde wêreldwyd genoem en bespreek waar lande behoorlik die rooi tapyt vir buitelandse beleggers uitrol. Van Mexiko wat “blokke” oliekonsessies in die see aan buitelandse maatskappye toestaan en so aan die staatsmonopolie wegvreet, tot China wat “sones” skep waar buitelandse maatskappye hul fabrieke kan oprig, vry van China se eie beperkende maatreëls.

Die verwagtinge van buitelandse beleggings is meer as net die skep van meer welvaart as wat die land op eie houtjie kan vermag – daar is verwagtinge dat die beleggers met innoverende idees sal kom om korrupsie te help hokslaan, dat die lande aan doeltreffender bestuurspraktyke blootgestel sal word en vele meer.

Dit lyk asof die teenoorgestelde in Suid-Afrika gebeur. Baie van die poste wat van Suid-Afrika se grootste werkverskaffers skep, is in die buiteland omdat dié voorste firmas heelwat van hul sakebedrywighede weens die regering se smorende beleid, soos SEB-teikens, na die buiteland verskuif. Trouens, daar is analiste wat meen dat die smooreffek van SEB en soortgelyke maatreëls groot firmas sal dwing om dit te ignoreer en as hulle daaroor opgeskroef word, hulle hul op die howe sal beroep om die grondwetlikheid daarvan te toets.

Kommer is in die onlangse verlede uit verskeie oorde uitgespreek oor die skynbaar groeiende invloed van die SAKP op regeringsbeleid. Trouens, die meeste ekonomies-verwante portefeuljes in die kabinet word deur kommuniste beklee.  Die probleme sny egter dieper, veral waar die regering se beheptheid met politieke beheer oor instansies soos Eskom, daartoe lei dat gehalte-leierskap dikwels ver tekort skiet. Kaderontplooiing bly amptelike regeringsbeleid en die land betaal ʼn baie duur prys daarvoor.

Baie onlangs nog is berig dat Suid-Afrika die gevaar loop om deels, of selfs in geheel, uit die nuwe Agoa-wetgewing van die VSA uitgesluit te word. Hierdie wetgewing gee ongekende handelsvoordele aan Afrikalande wat sake met die VSA doen. Sodra een probleem uitgestryk is, duik ʼn volgende egter op.

Ernstige beleggers sal egter wyer kyk na toestande in ʼn land voordat  hulle besluit om te belê. Infrastruktuur en veiligheid is twee aspekte wat hoog op die agenda is en Eskom se gespook is nie juis bevorderlik vir ʼn beleggersklimaat nie.

Die onlangse ontwrigting van ʼn Liewe Heksie-opvoering tydens die Vrystaatse Kunstefees, juis toe die gifappeltjies op die verhoog moes verskyn, is maar ʼn terloopse voorbeeld van hoe die land steen vir steen gesloop word. (Haai oe, as Lavinia nie so vergeetagtig was nie en sy haar towerwoorde kon onthou, kon sy die molesmakers in muise verander het en Matewis die kat op hulle gesit het).

Beleggers stel eenvoudig nie belang daarin om te belê in ʼn skip waarvan die bemanning besig is om die boom ter see uit te kap nie. Nie met ʼn kaptein wat self kyk wat hy as skroot uit die skip kan win, terwyl dit eintlik nog heel seewaardig behoort te wees nie.

Onlangs het oud-minister Roelf Meyer in ʼn koerantonderhoud verklaar dat Suid-Afrika nie ʼn mislukte staat is nie (en dat hy steeds die ANC steun). Maar uit die lesersreaksie blyk dit dat baie mense swaar daaraan sluk. Tegnies is Suid-Afrika waarskynlik nie ʼn mislukte staat nie, maar gegewe die rigting waarin internasionale indikatore en indekse met die land onderweg is, lyk dit baie na ʼn mislukkende staat.

Danksy politici.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bruno Stef ·

Ons het op die stadium van die gespartel by Eksdom nie pratende koppe nodig wat soos papegaaie alles wat vir hulle voorgese word herhaal nie.Daar is gerespekteerde hoog gekwalifiseerde persone wat die Projekte veral die lank uitstaande lewering van die kragstasies beter kan bestuur. Meyer ons ken jou (track record ) bly maar eerder stil en stem maar vir jou ANC en moet nie n platform soek om jou snert kwyt te raak nie.

jacques ·

Maak nie saak wat enige iemand probeer nie,iemand sit agter die storie om die land in gahos te probeer dompel en so ook die wereld. Daai ouens kom net agterna en koop alles op wat ander mense dan verloor het.Ek verstaan glad nie dat mense dit nie kan raaksien nie.

Melt Olckers ·

Soos wat dit in die Soviet Unie gebeur het toe dit in duie gestort het. Alles is goedkoop opgeraap deur die Sekurokrate vriende van Vladimir Putin teen winskoop pryse. Nou is daardie land onder die beheer van die oligarge.

jacques ·

Melt jy het dit heel verkeerd daar Putin het hulle toegesluit,gaan kyk weer hulle sit in die tronk die wat gelukkig was het betyds america toe gevlug.Europe en die USA word nou beheer deur hulle,hulle het net hulle vanne verander.

jacques ·

Die olegaards het Rusland beheer nie meer nie.Gaan lees the fall of the olegaards and rise of Putin hy het hulle met n slim trick gevang om in beheer te kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.