Nuuskommentaar: Onbevoegde staat, mislukte staat, fiskale afgrond

(Foto: Wikimedia Commons)

Wat is die trappe van vergelyking van ’n regering wat hard probeer om so chaoties as moontlik te “regeer”. ’n Vinnige literatuurstudie lewer drie handige terme op: Onbevoegde staat, mislukte staat en fiskale afgrond. Die debat handel skynbaar nie meer oor of Suid-Afrika op hierdie katastrofale koers verkeer nie, maar in watter fase daarvan die land verkeer, en hoe lank dit nog gaan duur voor die land oor daardie afgrond, fiskaal, piesangrepubliek en al gaan tuimel.

Gewoonlik as daar soveel alarms afgaan, sal daar optimiste en pessimiste wees (wat almal glo dat hulle die situasie so objektief as moontlik beoordeel). In die geval van Suid-Afrika, so lyk dit, bestaan die optimiste uit analiste wat van die veronderstelling uitgaan dat die regering en/of pres. Cyril Ramaphosa in ’n stadium die hakke sal inslaan en die skip op die regte koers sal begin stuur. Hierdie groep se hoop het onlangs begin opvlam toe dit begin lyk het of Ramaphosa die oorhand oor die Zuma-faksie begin kry het, wat aan hom in beginsel in die posisie plaas om die nodige aanpassings te maak sonder dat die Zuptas sy bewind kan laat tuimel.

Die pessimiste meen die skip op die Rhyn se kaptein is so deur die Lorelei se pragtige sang betower dat die skip reeds buite beheer en onverbiddelik op die rotse afstuur.

Oor die nuanses van presies waar Suid-Afrika op die skaal van selfvernietiging trek, word redelik gestry, en oor presies waar die grense tussen die stappe lê, is ook geen eenstemmigheid nie. Boonop oorvleuel van die stappe. Oor die oorsake van die moeilikheid word minder verskil.  Die hooffaktore waaroor nie juis gestry kan word nie en Suid-Afrika tot die randjie van ’n kakistokrasie gevoer het, is korrupsie. Sommige kenners, soos prof. André Duvenhage, het lank reeds na Suid-Afrika verwys as ʼn land waar korrupsie endemies is, wat al meer lyk na ’n raakvat-siening terwyl ander geargumenteer het dat die land (nog) nie aan die presiese vereistes van die definisie voldoen het nie. Die Zuma-era het egter dit baie duidelik gemaak. Wat meer betekenisvol is, is dat die Wêreldbank korrupsie beskou as die proses wat ’n land van sy toekoms beroof.

Die presidentskap van Zuma, en veral sy herverkiesing, was vir die land rampspoedig. Op 19 Desember 2012 het die Nederlandse koerant Trouw kort na dit as die beste Europese koerant aangewys is, in ’n spesiale voorblad-hoofartikel die herverkiesing van Zuma as “nie goed vir Suid-Afrika nie” beskryf. Die volledige artikel kan hier gelees word. Maroela se berig hieroor kan hier gelees word.  Om sake te vererger vir die ANC het sy beleid wat tegnies onder Ramaphosa konkreet beslag begin kry het vir grondgryp sonder vergoeding, in Nederland se parlement ’n mosie van afkeer op die lyf geloop.  Dit het waarskynlik die persepsie van ’n verbete poging om die land in ’n piesangrepubliek te omskep verdiep.

Gewelddadige optogte, betogings en stakings is ook nie juis musiek in die ore van voornemende beleggers nie.

Sommige analiste meen dat die Suid-Afrikaanse regering minstens op derde regeringsvlak reeds misluk het, en kan boonop die verslae van die ouditeur-generaal as gesaghebbende bronne daarvoor aanwend. Die ANC se plan om munisipaliteite saam te smelt het skouspelagtig ingeplof. In plaas daarvan dat sterker munisipaliteite die sukkelendes sou “optrek”, is die sterkeres dikwels self afgetrek. So seker was die ANC aanvanklik dat hierdie “meesterplan” sou werk, dat in ’n stadium verkondig is die versterkte munisipaliteite kon uiteindelik die provinsiale regerings vervang. Nie dat veel provinsies juis beter as die munisipaliteite vaar nie.

Nie dat die land se prestasielys andersins juis beter lyk nie, met plaasmoorde, geweld teen vroue en kinders, die moord- en verkragtingskoers, infrastruktuur, onderwys, regeerkuns en vele ander lyk eerder na ’n verbete aanslag om die lys van piesangrepublieke te haal. Onbekostigbare regeringsprogramme word in die vooruitsig gestel wat die fiskale vermoë van die staat al verder oorskry, en welsynsplanne produktiwiteit ontmoedig – juis dit wat nodig sou wees om die bekostigbaarheidsvermoë te verhoog. Groeiende werkloosheid is maar een van die gevolge.

Hiermee word die lys van treurmares gestaak – nie omdat dit hier al naasteby volledig gelys is nie, maar omdat dit al jare lank aan lesers opgedis word wat stellig nou al so siek en sat daarvoor is dat hulle dit nou al in hul slaap kan opsê.

Feitlik voor die voet noem analiste wat na oplossings soek dat die staat die speelruimte van die privaat sektor moet verruim om sake te help beredder. Dit maak sin dat die sektor wat in die ekonomie as die produktiewe sektor bekend staan, meer geleentheid moet kry om die toon aan te gee. Maar dit sal beteken dat die greep wat sosialisme op die ANC en talle vakbonde en ander partye het, eers geknak moet word. (Die EFF se weergawe van “sosialisme” sou eerder as ’n toevoeging tot die lys van Kersvader, die paashaas en die tandmuis gevoeg kon word – volgens die Daily Maverick het die EFF nou fascisties geword.)

Wat duidelik is, is dat sake nie kan voortgaan soos dit nou gaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Nie Verbaas ·

Plus nog die rookwolk wat geskep is met die kamtige optrede teen korrupte regerings amptenare wat voor n integriteits kommitee moet verskyn. Die vraag bly waarom nie klag by polisie indien, hof en dan tronkstraf nie. ANC net totale blufspel.

Belinda ·

In elke faset van die land se regeer is daar korrupsie, geld is soos kole dit brand….. om uit gegee te word.

Adam Adriaan ·

Dan is daar ‘n hooggeleerde professor wat op ‘n radiostasie beweer dat die gene wat verkondig dat SA op die paaie is soos hierbo beskryf, nie weet waarvan hulle praat nie, geen kennis het van wat werklik aangaan nie, ens. Dit wil voorkom of die kommentaar wat gelewer is deur die betrokke akademikus, gelewer word, omrede hy betaal word om sulke kommentaar te lewer en sy werk sal verloor as hy nie die sulke kommentaar lewer nie. Stel voor die akademikus gaan weer terug na sy leerstukke. “When in doubt read your instructions”

annie ·

Adam, jy moet oppas vir die spasie-balk anders begin ‘n paar ouens weer kwaai bulk en ons sit hoeka sonder conditioner vir die skrik in ons krullers oor die afgelope 6 maande.

Human ·

“Pak op, pak op sit jou goedjies op jou kop môre gaan ons weg, ver weg van hier” hierdie woorde van David Kramer het toonaangewende betekenis in die hedendaagse opset in Suid-Afrika.

Vrijburger ·

Howdy – eerste keer wat jy iets se waarmee ek kan saam stem.

Pieter ·

@Human, moet nie die knaap david aanhaal nie hy is maar nes die res. As jy sou se Soja, dan praat ek saam. By alles is ek 110% met jou oor dat die tyd gekom het vir oppak of oorlog.

Werner ·

Dink ou CR sit met soveel geraamtes in die kas dat hy nie kan hakke inslaan nie al wil hy . Die bietjie geluitjies wat hy maak is maar net om die buiteland te probeer gelukkig hou

Pieter ·

Geen verskil tussen ANC en ZANU PF nie daar is ook geen verskil tussen die kommunistiese presidente nie. Dit gaan orals is afrika so wat het die burgers van die land gedink dit gaan hier anders wees.

Hoekom ·

Kapitalisme stel elke persoon in staat, arm of ryk, om hulself te verryk deur meriete. Dit gee aan almal gelyke geleenthede, deur meriete. Dit volg tot ‘n sterk ekonomie wat kan meeding teen ander state op die internationale platform. Dit skenk aan die staat ‘n groter belasting begroting. Dit skenk aan ons produkte wat ons nie self kan of wil vervaardig nie. Dit gee aan klein handel die vermoë om te groei.

Sosialisme kelder rykdom, lei tot die verarming van almal, ja selfs die politici wat dink hulle is “immune”. Dit lei tot die verkleining van die belasting begroting deur werkloosheid te verhoog. Daar is nie meer gelyke geleenthede vir enige iemand nie. Vryheid word weg geneem om die nagevolge van verarming te versteek. Sosialistiese state raak oorhewig afhanklik van “foreign aid” meestel geskenk deur kapitalistiese state.

Dit is nie “rocket science” nie…

Dries ·

Herman Uitstekende opsomming veral oor die sogenaamde analiste wat ons onophoudelik met hulle optimisme vergal. Prof Duvenhage is nou die enigste analis waarna ons kan luister en glo

Vrijburger ·

Verbaas my dat mense dink die ANC (insluitend die Ramaphosa faksie) gaan verander of ‘n poging gaan aanwend om te verander. Hulle is bloot besig om te handel volgens die ANC se National Democratic Revolution beginsels.
Die enigste argument tussen die twee ANC faksies is oor wie tans by die trog mag vreet (“our time to eat”) en wie hoeveel mag vreet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.