Nuuskommentaar: Onskuldige kiesers kry ook regering wat hulle nie verdien

Die Suid-Afrikaanse vlag. (Foto: Wikimedia Commons)

Woon Suid-Afrikaners in die spreekwoordelike hemel, of die spreekwoordelike hel? Is daar spreekwoordelik witbrood en kaviaar op die tafel, of darem ’n bordjie pap danksy familie of bure wat uit hul eie armoede nog ’n ietsie vir diegene in nog groter ellende afknyp? En waar ’n gees van toe‑eiening plek-plek so sterk loop – tot die vlak van onteiening sonder vergoeding – dat die ekonomie in die doldrums vasgevang word en juis die gaping vergroot? Waar die gebruik van die woord toe‑eiening die ekonoom en filantroop, Chris Hart, sy werk gekos het, maar ander bekendes, ook uit die linkerkant van die politieke spektrum, die woord sedertdien ook al ingespan het.

Is hierdie nuuskommentaar vanoggend realisties, of oormatig swartgallig na aanleiding van onder meer nog negatiewer bevindings deur graderingsagentskappe, en die IMF se vingerwysings, of die OG se waarskynlik verdoemendste verslag nog oor die agteruitgang van munisipaliteite en staatsentiteite? Of is dit dalk die produk van die Rugbywêreldbeker se post-euforiese trauma waaroor voorheen in hierdie rubriek gewaarsku is?

“Living in Coeluminfernum.” So lui die opskrif van ’n fiktiewe artikel wat aan die e-tydskrif, The Conversation, “voorgelê” is, en wat uitwys dat verskillende mense in Suid-Afrika ’n hemelse bestaan voer, en ander hulle in ’n helse moeras bevind, en dat die regering sy bes doen om dit in rasseblokkies te giet.

Wie of wat is Coeluminfernum? Letterlik vertaal beteken dit “Hemelhel”. Die gebruik van Latyn sinspeel dat dit na ’n land verwys waar grondwetlikheid en regspraak sterk oorheersend is, en daar sprake is van ’n regstaat. As dit onverdund na die praktyk sou verwys, sou ons hipoteties na die idealistiese Mzansi kon verwys – die reënboogland van wyle Nelson Mandela, waar heterogeniteit (deesdae diversiteit) saamsmelt in ’n wonderlike reënboogland van vrede en voorspoed.

Om die letterlike betekenis van Mzansi te probeer inspan sê bykans niks nie. In Xhosa (die taal waaruit die land met die nie-amptelike naam Mzansi gebore is), beteken dit gewoon “Suid”. In Zoeloe en ander Nguni-tale verwys dit egter meer na die oostelike kusstreke, of mense wat daarvandaan kom, ’n windrigting, of ’n soort bankrekening. Laasgenoemde nogal pikant, omdat die ekonomie en administrasie van Mzansi beteken dat baie mense se bankrekeninge maar in ’n beroerde toestand is.

’n Gesegde uit die politieke wetenskap lui dat, in ’n demokrasie, die mense die regering kry wat hulle verdien. Wat daarby behoort te staan as ’n mens op ’n suiwer wetenskaplike benadering wil volg, is dat dit alleen waar is in ’n homogene demokratiese land. Die uitdrukking vertroebel as dit ’n heterogene land is, maar grondwetlik ’n eenheidstaat is. Dan kan bitter baie mense ’n regering kry wat hulle nié wou gehad het nie.

’n Demokrasie waar die regering nie in algemene belang regeer nie, maar in belang van die meerderheid, staan in die staatkunde immers as ’n diktatuur/tirannie van die meerderheid bekend. Waar die Konstitusionele Hof boonop die “reg” het om dit wat in die Grondwet staan (soos die enkele minderheidsregte wat deur die internasionale reg erken word) gewoon onder te ploeg ter wille van hierdie diktatuur/tirannie se ideologie (transformasie, al blyk dit ekonomies verwoestend te wees) begin ’n mens ver buite die grense van die meer bekende en erkende staatkundige modelle speel, en word van die alternatiewe soos die veelbeskrywende kakistokrasie en, soos uit die getuienis van Mo Shaik oor oudpres. Jacob Zuma voor die Zondo-kommissie blyk, kleptokrasie, afgestof. Dan is daar nog nuutskeppings soos Zuptakrasie en vele meer. Shaik se mees omskrywende verduideliking spreek boekdele – Zuma kon nie onderskei tussen die belange van die staat en die belange van die Guptas (en dus sy persoonlike belange ook) nie.

Zuma is inderdaad dikwels deur die media aangehaal dat hy sy frustrasie uitgespreek het dat hy ontevrede is omdat die howe hom dwarsboom om ongehinderd in belang van die meerderheid te regeer. Hy het hom dikwels uitgelaat oor die howe wat sake vir hom bemoeilik het.

Pas het die ANC-veteraan en een van die Groot Ses, Jessie Duarte, haar mond uitgespoel oor die ANC wat erg rassisties is. Uit vorige uitsprake is dit duidelik sy het nie ’n probleem daarmee dat wittes nou uitgesluit is van die verbod op diskriminasie nie, maar haar argwaan handel nou oor die kort lootjie wat haar mense, die bruin mense in die post-1994-bedeling, getrek het. (Dis nou afgesien van “ere-swartes” soos wyle Jakes Gerwel en Jonathan Jansen nou.)

Kortom, of jy in die coelum (hemel-gedeelte) woon, of in die infernum (hel-gedeelte) van Mzansi braai, hang grootliks af van die kleur waarmee jy gebore is, en nie van vermoë of potensiaal nie. En laat ’n mens dadelik sê, ja, daar is iets soos ’n sleureffek wat bars gaan om uit te skakel, maar nooit uitgeskakel sal word as dit nie reg hanteer gaan word nie, byvoorbeeld tradisies van gesinsgroottes, en soos blyk uit die 8ste Afrika-bevolkingskongres wat pas by Entebbe, Uganda, gehou is (lees hier), en ander faktore soos die jeugdige ouderdom waarop kinders reeds kinders kry en die afwesigheid van geboortebeperkingsmiddels.

Die skynbare onwilligheid om in die praktyk korrupsie uit die ekonomie te hark gee vlerke aan die sleureffek van sommiges, en so ook die stiksienige geloof in sosialistiese praktyke binne veral die vakbonde in die ANC se dampkring.

Die gevolg is dat baie van die mense wat volgens hul herkoms nou veronderstel is om hulle in die coelum-sektor behoort te bevind, hulle polities moontlik daar mag bevind, maar in die praktyk sosio-ekonomies op die infernum se Moedverloor se vlaktes krepeer. Die township-euforie na die wêreldbeker wat steeds voortduur, maar die onveranderde armoedevlakke is dalk ’n goeie voorbeeld.

Die ganse lewensinbinding van minderhede se heil by dié van meerderhede is nie eie aan Suid-Afrika nie. Selfs waar minderhede betreklik baie selfregeringsregte het, kan dit min of selfs niks beteken as dit nie dwarsdeur sny nie. Presies hoeveel beteken Katalonië se selfregering as hulle nie self ’n sê het oor die staat van hul staatkundige onafhanklikheid kan bepaal nie, maar alleen bepaal kan word om die Spaanse meerderheid se stemme by die uitslag te voeg? Met die Brexit-referendum het die meerderheid Skotte, Walliesers en Noord-Iere teen Brexit gestem, maar die Engelse meerderheid se wil het ipso facto ook die “wil” van Kelte geword.

Die “grondwetlike regte” van Afrikaans word in die volgende dae weer teen transformasie opgeweeg – die Afrikaanse Taalraad besin dan oor die toekoms van die taal op universiteite en skole. AfriForum (ook lid van die Taalraad) is weer vandag in die appèlhof oor Afrikaans, dié keer by Unisa, en ook die twaalfde sitting van die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede wat môre en oormôre in Genève, waar AfriForum opnuut vir Afrikaans intree, plaasvind (lees hier).

Dit is amper Kersfees, die Christusfees. Na raming gaan die Amerikaners dié Kersfees ongeveer ’n miljoen kalkoene verorber, en voor dit met Danksegging ’n raps meer. Dit sal goed wees as ook die Afrikaanssprekendes hierdie Kersfees genoegsaam bevry van die negatiewe kan vier om sodoende die regte gees waarin dit herdenk behoort te word, te kan ervaar. Maar stomp hande gaan dit nie vermag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

JO ·

Herman dis nou rerig ‘n goeie artikel. Dankie.

Hierdie Afrika Vryheids bewegings is al lank aan bewind in die Suiderlike Afrika gebied. Kyk maar vir BDP in Botswana sedert 1966, MPLA in Angola en FRELIMO in Mozambique sesert 1975, CMM in Tanzania sedert?, Zanu PF in Zimbabwe sedert 1980, SWAPO on Nambia sedert 1990 en ANC in die RSA sedert 1994. Lyk my hulle almal is de facto een party state wat saam werk om die balans van mag te onderhou in Suiderlike Afrika. Net te jammer te min kom after daar word met die stemboks gespeel. Demokrasie se dinges!

André-Chris ·

Dit gaan my verstand net tebowe dat Cyril Ramaphosa en die ANC regering nog steeds nie die boodskap kry nie.

skurweberg ·

Die kort en die lank van hemel of hel hang van jou bankbalans af, in hierdie humanisties, materialistiese land.

Feite ·

Die meerderheid Suid Afrikaners is positief en opgewonde oor Black Friday en n minderheid Suid Afrikaners is positief en opgewonde oor White Christmas. Alle Suid Afrikaners, wetsgehoorsaam en nie wetsgehoorsaam, is opgewonde en dit op sy eie is n raar, maar uiters positiewe/negatiewe verskynsel!

André-Chris ·

En ons hoor al die “goeie” nuus oor hoe die regerings-entiteite in die hek duik, so twee dae voor Black Friday.

André-Chris ·

Dis nou maar eers Woensdag, maar soos die week aanstap raak die nuusprentjie al donkerder, ek sien elders Cyril Ramaphosa moes ook nou al van sy plaaswerkers afdank weens die ‘swak ekonomie’.

Leon ·

Die Suid Afrikaanse politieke situasie word deur die Britte en die Amerikaners beheer. Al glo die mense dit nie, maar Brittanje regeer nog steds die RSA as sy kolonie en ons het nog steeds nie onafhanklikheid van Brittanje nie. Dit word net baiie mooi onder die kombers gedoen sodat die publiek dit nie sien nie. Koningin Elizabeth het te veel aandele in die myne in Suid Afrika om dit sommer so op te gee.

Piet ·

Jammer, maar as kiesers elke paar jaar hulle keuse uitoefen en niks gebeur om hulle situasie te verbeter nie is hulle maar self medepligtig aan hulle eie swak omstandighede.
Maar as dit beteken dat niemand gaan optree teen bv kragdiefstal is hulle klaarbleiklik tevrede met hulle lot. Onteiening van goed(lees diefstal) is nie ernstig genoeg vir die SAPD hulle daaroor te bemoei nie.
Raak beskrywing van die huidige wetteloosheid.

Snowflakes ·

Stem saam. Net die spul sneeuvlokkies wat daarvan hou.

Snowflakes ·

…is mos mal oor daai v uil kon tin ent se bel ag like name.

Sic? ·

You get the goverment you deserve ! Daniel2:21 die God van die Bybel stel konings aan en stel konings af . CR Swart ook . Ek het nie JA gestem nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.