Nuuskommentaar: Plaasmoorde binne die SA-konteks

Onthou maar hoe het die moord op klein Willemientjie Potgieter, wie se ideaal dit was om by die Kinderkrans ‘n lofkleuter te word, die land geruk.

Onthou maar hoe het die moord op klein Willemientjie Potgieter, wie se ideaal dit was om by die Kinderkrans ‘n lofkleuter te word, die land geruk.

Alle paaie lei gewoonlik na Rome, maar die afgelope paar weke het van die belangrikste paaie na Genève gelei. Genève is waar die ooreenkoms oor Iran se kernvermoë onderteken is, en waar gespook word om in Januarie aanstaande jaar die Siriese vredesamesprekinge op dreef te kry.

Maar Genève is ook waar AfriForum pas die aandag van die wêreld op plaasmoorde geplaas het. Ernst Roets van AfriForum se skrywe uit Genève was vroeg op Maroela Media se bakkiesblad: “Ek het vanoggend die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede toegespreek oor plaasmoorde in Suid-Afrika. Die voorlegging is goed ontvang en ons verslag, Hoe lank nog?, is ook formeel ingedien saam met ‘n DVD wat videomateriaal bevat. Ons woon vanaand ‘n funksie oor die voorkoming van aanhitsing tot haat by en sal die onderwerp op individuele vlak daar verder bespreek. Daar bestaan ongelukkig nie kitsoplossings nie, maar ons het wel vandag groot vordering gemaak wat bewusmaking betref. Baie dankie aan elkeen van die 75 000 mense wat hulle stemme deur AfriForum laat hoor!

Dat plaasmoorde ‘n besondere krisis is, kan nie ontken word nie. Die TLU SA skryf in ‘n mediaverklaring onder meer: “Plaasmoorde toon ‘n nog meer onrusbarende prentjie (as die stygende moordkoers in die land). In dieselfde tydperk het plaasmoorde met 34% gestyg tot 68 in 2012/2013 teenoor die 50 moorde in 2011/2012. Plaasaanvalle het toegeneem van 112 gevalle tot 176 gevalle. Omdat plaasaanvalle gereken word as aanvalle op mense en nie op eiendom nie, kan aangeneem word dat baie van hierdie aanvalle niks anders is nie as poging tot moord, wat suksesvol afgeweer kon word.”

Tog is almal se sentimente oor plaasmoorde nie dieselfde nie. Die afgelope Sondag, op RSG se program, Kommentaar, het dr. Piet Croucamp mond uitgespoel oor “die regses” (soos die Vryheidsfront Plus) wat politiek van plaasmoorde probeer maak, en so weerstandigheid onder die regeringslui veroorsaak.

Max du Preez vind op sy eie Facebook aansluiting hierby, maar toon ook sentimente na die “ander kant”. In Engels skyf hy: “Die regtervleuel se histerie oor  plaasmoorde en aansprake op volksmoord het die ongelukkige uitwerking dat baie mense dit as propaganda afmaak. Maar dit is ‘n ernstige probleem. Volens die Instituut vir Rasseaangeleenthede en die aktivistiese groep AfriForum is die kanse vir boere om vermoor te word drie keer beter as dat ‘n gewone Suid-Afrikaner vermoor sal word.” Hy verwys na die wreedheid waarmee plaasaanvalle gepaard gaann, en sê AfriForum se veldtog om dit tot prioriteitsmisdaad te laat verklaar is na sy mening nie onredelik nie.

Die minister van die polisie het op sy beurt AfriForum se veldtog as “goedkoop propaganda” afgemaak.

Croucamp het voorts perspektief probeer stel dat hy meen die moordkoers onder bruin mense in die Wes-Kaap is “baie hoër” as dié van boere en hul gesinslede. Inderdaad is die moordkoers onder bruin mans (nie bruin mense in die algemeen nie) tydens die hoogtepunt van bendeverwante geweld op die Kaapse Vlakte as die hoogste ter wêreld onder ‘n identifiseerbare groep beskryf. Die syfer is as in die orde van tussen 90 en 100 per 100 000 per jaar aangegee. Die moordkoers onder kommersiële boere (en nie net wit boere nie) is 98,8 per 100 000 per jaar. Boervroue en selfs kinders word nie gespaar nie. Onthou maar hoe het die moord op klein

, wie se ideaal dit was om by die Kinderkrans ‘n lofkleuter te word, die land geruk.

Dit gaan egter nie daaroor om die lot van kommersiële boere en hul gesinslede teen die Kaapse Vlakte af te speel nie – dit is doodgewoon tragies dat een land met twee sulke uitskieter-statistieke sou sit, en ‘n mens sou verwag dat die regering ernstig werk daarvan sou mak. In die Wes-Kaap is die regering weer taai in die bek om aan die Wes-Kaapse regering se versoek dat die weermag ook ingespan word, uitvoering te gee. Die minister het tot in die grondwetlike hof probeer om ‘n Wes-Kaapse kommissie van ondersoek na doeltreffende polisiëring by veral een polisiestasie te stuit.

Maar is plaasmoorde politiek gemotiveer? Croucamp wys daarop dat studies toon dat persepsies dat boere geld en wapens op hul plase het, dikwels die oorsaak vir plaasaanvalle is. Niemand sal dit ontken nie, en word ook gestaaf deur die wreedheid waarmee boere en hul gesinslede al gemartel is om te “verklap” waar die kluis sou wees waarin hierdie wapens en geld glo sou wees. Kluise wat dikwels nie bestaan nie.

Maar plaasaanvalle is vierkantig in die politieke arena ingesleep, en nié (net) deur die “regses” nie. Die regering, deur versuim en uitsprake het minstens ‘n stewige aandeel hierin.

Die ander kant van die munt is dat plaasaanvalle tydens die presidentskap van Nelson Mandela wél ‘n prioriteitsmisdaad was. Die saak het vierkantig in die politieke arena beland toe sy opvolger, Thabo Mbeki, die kommandostelsel afgeskaf het. ANC-politici het in hul uitsprake oor die kommandostelsel dit duidelik gemaak dat politieke oorwegings eerder as pragmatiese, onderliggend was in die besluit om die kommando’s af te skaf. Die destydse Vrystaatse premier, Winkie Direko, het na die kommando’s as “rowersneste” (bandits) verwys.

Onder Mbeki se bewind was plaasaanvalle nie meer ‘n prioriteitsmisdaad nie.

Beloftes dat ‘n behoorlike plaasvervangende stelsel in die plek van die kommando’s ingestel sou word, het leë beloftes gebly terwyl erg voete gesleep is om iets behoorlik in plek te kry. Vrystaat Landbou moes die regering twee keer hof toe sleep om sy grondwetlike verantwoordelikhede oor die beveiliging van sy burgers, en veral boere aan die Lesotho-grens, na te kom.

Intussen het ministers woeste veralgemeende uitsprake oor boere gemaak soos dat hulle mense martel, verkrag en vele meer. Terwyl die plaasmoorde voortduur…

Politieke woordvoerders van die regering sal nou en dan plaasmoorde veroordeel, maar hopeloos te selde om die indruk te skep dat omgegee word. Omdat formele plaasaanval-statistieke nie bygehou word nie, is dit moeilik om te bepaal hoe doeltreffend reaktief op die aanvalle opgetree word. Die persepsie is dat die aankeerkoers onder plaasaanvalle laag is, maar hoog is as daar ‘n moord of moorde gepleeg is.

Maar, in alle billikheid, hoe lyk die reaksie van ander politieke partye wat in die parlement verteenwoordig is? Word die partye se mediaverklarings op hul webwerwe deurgewerk, is daar op die uitsondering van die Vryheidsfront Plus na min of meer ‘n dawerende stilte. Partye soos die DA en die ACDP het op die oog af reaksies op plaasmoorde na hul provinsiale verteenwoordigers gedelegeer, wat beteken dat met die byna volkome wegval van provinsiale verteenwoordiging van die ACDP se provinsiale verteenwoordiging, plaasmoorde net nie meer deel van die woordeskat is nie.

Die geheelindruk, reg of verkeerd, is dat partye wat spesifiek swart stemme najaag, in ‘n mindere of meerdere mate omsigtig te werk te gaan om nie te veel die fokus op plaasmoorde te plaas nie.

Die kort antwoord is dat plaasaanvalle, en veral plaasmoorde, vierkantig in die politiek vasgevang geraak het, met tragiese gevolge.

Of die “regtervleuel se histerie” hieroor die oorsaak of die gevolg van die regering se langtand-houding is, is kwalik die punt. In ‘n demokrasie regeer die regering in algemene belang, nie net in die belang van sy eie ondersteuners nie. In ‘n grondwetlike demokrasie nog minder.

Dat die regering reeds hiermee dwarsdeur die dun ys getrap het, is lank nie ‘n geheim nie – die kader-ontplooiingsbeleid word immers openlik toegepas, ten spyte van die baie streng beperkings wat die grondwet stel.

Is daar ‘n ander manier as “histerie” om die regering te oortuig om plaasaanvalle ernstig genoeg op te neem dat dit behoorlik, holisties aangepreek kan word? Projek Suiderkruis van Leon van Dykhorst wat meer as 4 000km deur die land gaan fietstrap, hoofsaaklik om fondse vir Agri Securitas in te samel en bewuswording te kweek, begin op 30 November.

Dit is ‘n lofwaardige poging wat almal se steun verdien, maar of sy poging ‘n verskil aan die regering se houding gaan maak is iets wat nog gesien moet word.

Die ANC se verkiesingsaandag word deur baie faktore ingesluk. Sake binne Cosatu wil maar nie vlot nie en die ANC loop die wesenlike gevaar dat die tradisionele verkiesingsondersteuning wat hy uit hierdie oord ontvang, volgende jaar erg afgewater kan wees. Die regering sukkel om die e-tolstelsel aan die vuisvoos publiek te verkwansel.

Maar dit regverdig nie ‘n politieke apatie teenoor die land se bore nie.

As dit nodig is om die regering op ‘n manier te dwing om plaasaanvalle ernstiger op te neem, is dit so. Maar asseblief, doen dit op so ‘n manier dat die boere en die mense wie se harte vir die boere bloei, nie as karikature uitgebeeld word nie. ‘n Beskaafde manier van doen sal veel meer doen as van die uitsprake wat al gemaak is, soos om Hitler se Joodse volksmoord te gaan ontken.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Gawie Botha ·

Piet Croucamp wat so baie kennis het van die plaasmoorde en plaasaanvalle,wat dit as normaal beskrywe,maar ook geen voorkomende maatreels van Owerheidswee voorstel,want hy weet hy steek sy kop dan net verder in n bynes!

Johann ·

@maroelamedia Van die teks val agter die foto in (einde para 7) Ek hoop julle kan dit regstel

elli meyer ·

Boere wat vermoor word, is deur mense wat opgestook word deur politieke ‘vrywilligers’ wat rondgaan en plekke besoek, en aan hulle beloftes maak, vir elke moord kry hulle ‘n ‘verdienste’. As ons genoeg positiewe inligting-op watter manier ookal-deur kan gee aan mense wat in omgewings bly waar plase gekonsentreer is, kan ons ‘n verskil maak. Praatjies aan ons eie werksmense op plase oor onderwerpe wat vir hulle belangrik is. Vertel mense waaroor moord en verkragtings, dagga, dwelms, drank en andere gaan. Ons moet weet dat van die oorgrootmeer-derheid van die volkere ken nie die betekenins van om met mekaar te praat nie, en is ook nooit geleer deur die ouers nie-hulle doen dinge wat ander vir hulle sê om te doen. As ons daardie siklus kan breek, dan het ons iets bereik waarby almal kan baat. Dis maar my eie beskeie mening.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.