Nuuskommentaar: Skop die Cape Libs nog in US-taalbeleid?

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

Hoe groot is die rol van Maroela Media in die stroming dat die openbare diskoers onder Afrikaanssprekendes nou meer gereeld die feitegebaseerde middelgrond opsoek? Die benouende laer van die akademici wat hulle nog by die uitgediende Cape Libs skaar, is ’n aanduiding van ’n verswakking van die eertydse dominante invloed van politieke korrektheid.

Enige waarnemer sou opmerk dat die deelname van die sogenaamde Cape Libs in die openbare diskoers, soos onder meer sigbaar is in Die Burger se briewekolomme, die afgelope aantal jare erg afgeneem het. Daar is oorblyfsels oor, met een besondere deelnemer wat in sy kompulsiewe poging om teen die “nuwe stroom” te swem, feite- en redenasiefoute maak wat die saak van die Cape Libs erg verswak.

Dit beteken nie dat die Cape Libs nie meer bestaan nie, en hul teenwoordigheid steek periodiek kop uit in akademiese kringe, met sterk skei-teen-die-juk-standpunte. Maar sonder die “see” waarin vrylik beweeg kon word, is dit ’n moeilike taak, en word daar nou dikwels in ’n laervormingsomgewing standpunte ingeneem.

Soos met die US se taaldebat. Of is diskoers dalk ’n beter woord?

Die omgewing het bepaald sekere veranderinge ondergaan. Wie sou byvoorbeeld nog minder as ’n jaar gelede kon voorsien dat Beeld vandag ’n hoofartikel sou plaas, UP kan by US leer hoe om nié met taal te maak?

Nie alleen word die twee fakulteite wat op die oog af die taalbeleid van die US se raad in die wind slaan, geroskam nie, maar die UP, wat skynbaar binnekort oor sy taalbeleid gaan besluit, word by voorbaat die leviete voorgelees – dreigemente van die EFF ten spyt.

Ook Rapport se hoofartikel, Ons sidder oor situasie met taal by Maties, toon groot begrip vir die interdik wat AfriForum Jeug teen die US verkry, en looi ook terloops ’n bekende Cape Lib, prof. Anton van Niekerk, sonder om hom by die naam te noem.

Van Niekerk het in ’n brief wat in meerdere Media 24-koerante geplaas is erg teen AfriForum uitgepak asof dié organisasie ’n tipe sonde pleeg deur die toepassing van die Grondwet te wil afdwing. Voorts het hy motiewe aan AfriForum se optrede toegedig wat duidelik nie met die feite strook nie, soos dat AfriForum ’n Afrikaanse taaldominansie op die US wil afdwing. In werklikheid wil AfriForum bloot die toepassing van die raadsbesluit wat gelyke taalberegtiging ten doel het, afdwing. Dit lyk ook of Van Niekerk dit wat die raad goedgekeur het, met die ou T-opsie verwar.

Van Niekerk se beeld is nou erg geknou, ook via ’n rubriek van Sonja Loots in Rapport waarin sy hom wel by die naam noem. Sy dam die rektor, prof. Wim de Villiers, ook goed by. En niemand sal Sonja as regs of konserwatief beskryf nie. Uit die min lesersreaksies op Van Niekerk se brief is dit asof daar nou gevra word: prof. Anton Wie?

Wat die komende interdik betref, die saak moet nog voorkom (as daar nie vooraf geskik word nie), en dit is voortydig om oor die uitkoms te bespiegel.

’n Ander aspek verdien egter aandag.

Hierdie rubriekskrywer het lank gelede reeds geskryf oor die skynbaar groter vergemeenskapliking van uitgangspunte onder rubriekskrywers, oftewel meningsvormers. In elk geval onder Afrikaanssprekendes. Dit gebeur natuurlik nie elke dag nie, maar op die oog af meer gereeld namate feite en die werklikheid harder as politieke korrektheid en eie opvattings begin praat.

Dit sal moeilik, indien nie onmoontlik nie, wees om die koms van Maroela Media se rol in die algemene “oriëntasie” van meningsvormers en rubriekskrywers te bepaal. Dit is egter ook duidelik dat rubriekskrywers wat hul uitgangspunte eerstens aan hul eie politieke en ideologiese oortuigings haak, eerder as aan kliniese en gemotiveerde feite en die werklikheid, nou gou soos ’n seer duim uitstaan en deur lesers gelooi word. Die verskuiwing het wel met die koms van Maroela saamgeval, hoewel ’n verband nie noodwendig bestaan of bewys kan word nie. Van die kommentators wat eens by voorbaat die gees van die Cape Libs geadem het, en nou dikwels vanuit die feitebasis van politieke korrektheid gestroop skryf, word deur lesers gelukgewens “dat hulle nou die lig gesien het”.

Daar is natuurlik uitskieters, soos rubriekskrywers wat wanneer bepaalde traumatiese ervarings van die verlede spreek, “uithaak,” en weer deur lesers gelooi word. Rubriekskrywers wil ook hoë lesersyfers trek, en een van die tegnieke is om die grense te gaan toets. Zuma-bashing is ’n kitsresep vir baie lesers. Om lesers elke nou en dan warm onder die kraag te maak stimuleer ook lesertal.

Enkele rubriekskrywers is egter skynbaar onherroeplik by die Seunse Weenkoor ingeskryf.

Dit het wel weer nodig geword om oor Maroela se “oriëntasie” in die openbare diskoers ’n paar aspekte duidelik te maak.

Maroela Media is ’n Afrikaanse nuuswebwerf, waar die aanbied van relevante nuus in Afrikaans, en nie die politieke herkoms van die nuus nie, die kern vorm. Die webwerf is onbeskaamd Christelik en pro-Afrikaans, en is ook deel van die Solidariteit Beweging. Verreweg die meeste nuus, soos motorongelukke en slangbyte, het niks met ideologie of ideologiese oriëntasie te make nie.

Maroela plaas ook bydraes en meningstukke van “buitestanders” met ’n duidelike aanduiding dat die redaksie nie noodwendig met die inhoud saamstem nie.

Wat die nuuskommentare betref, is daar in die jongste verlede weer periodiek beskuldigings van lesers dat dit deel van die “Soliforum”-denke uitmaak.

Dit is die verklaarde doelwit van hierdie rubriekskrywer om sy nuuskommentaar suiwer op feite te grond, en teen ’n prisma van sy eie akademiese opleiding en ondervinding te beoordeel. Hy maak voorts gebruik van ’n groterige klankbordpaneel wat ook kundiges uit ’n wye spektrum van die politieke landskap insluit.

Elke nuuskommentaar word deur aansienlike navorsing voorafgegaan. Daar is dan ook gereeld komplimente van lesers aan die skrywer.

Feite is egter nie vir almal feite nie, ongeag hoe goed die bron. Enige kommentaar of feiteberig wat selfs net vaagweg na die debat, “Is Poetin ’n engeltjie?”, gevoer kan word, ontlok onbuigsame reaksies. Dieselfde geld kwessies soos klimaatsverandering. Die vitrioel wat dit ontlok, is dikwels walglik.

So word die kommentaarskrywer ook periodiek beskuldig daarvan dat hy ’n sekere kwessie “nooit” aanspreek nie, ironies dikwels ’n dag of twee nadat die spesifieke aangeleentheid wel deeglik onder die loep geneem is, en ’n eenvoudige Google-soektog ook uitwys dat die kwessie, soos plaasaanvalle, dikwels ter sprake kom.

Maar hierdie nuuskommentaar kan nie afgesluit word sonder ’n kompliment aan baie van Maroela Media se lesers nie. Dit kan uiteraard net op leserskommentaar beoordeel word. Van die leserskommentare is van werklik hoogstaande gehalte en dra tot openbare meningsvorming by. Baie dankie daarvoor.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Bruno Stef ·

As sommige lesers dan beweer dat die denke deel is van “Soliform” waarom ignoreer julle dit nie en weerhou jouself daarvan om enige kommentaar te lewer.Herman ek waardeer jou insette wat nie net alleenlik op die politiek gebied duidelikheid bring nie maar allerlei ander onderwerpe wat ek baie interresant vind. Doen so voort.

Loeis ·

Soos gewoonlik, maak Herman Toerien baie goeie punte.

Voeg daarby dat Maroela Media lesers toelaat om op artikels kommentaar te lewer (in sommige ander koerante moet jy betaal om dit te kan doen). Enige leser kan dus sy of haar mening lug, of selfs tot die artikel bydra. Dit help om tot objektiwiteit by te dra.

MTSteyn ·

Herman, ek het baie respek vir jou as ‘n medebehoudende Afrikaner, maar ek dink jy lees baie van die gebeure waaroor jy berig, verkeerd. Byvoorbeeld die stelling dat daar ‘n afname in Cape Libs deelname aan Naspers briewekolomme is, is eenvoudig nie korrek nie. Die paar gepubliseerde pro-Afrikaner en – Afrikaanse deelnames word perfek geneutraliseer deur die bog-skrywes van sg. ‘geleerde Afrikaanses’ soos Amanda Gouws, Max dP, Anton vN, Piet Kopdoek, Slim Wim, ensomeer. Hierdie verlooptes geniet die laaste paar jaar ongekende toegang tot die massa media, en gebruik hulle onverdiende lugtyd om die sloot net dieper vir behoudende Afrikaners te grawe. Hulle is nie gemarganiliseer nie; inteendeel, hulle bepaal die diskoers, en is die diskoers.

Die stryd TEEN Afrikaans loop hand-aan-hand met die stryd TEEN die Afrikaner! Daar was nog nooit ‘n middelgrond (ingelig of oningelig) in SA politiek nie, en daar sal ook nooit wees nie. Verkondig die bestaan van ‘n middelgrond, en jy verkondig ‘n leuen. Dit was nog altyd ‘n stryd van ‘vir of teen’. Middelgrond in SA word verwar met ‘afgrond’, en as Soliforum glo dat hulle daardie middelgrond besit, dan sal hulle in die nabye toekoms in die realiteit van Afrika politiek verdwyn. Baie soos die middelgrond blankes van Zimbabwe wat verdwyn het!

MTSteyn ·

Herman, nog ‘n aanvegbare stelling wat jy maak, is dat MM rubrieke van ‘buitestaanders’ plaas. Ek lees gereeld rubrieke van sg. ‘kenners’ wat knus binne die dampkring van Soliforum te vinde is, al kom hulle ‘ingeligte’ menings uit die verre Nederland. Voeg daad by woord, en rig versoeke vir meningsstukke aan jou vorige kollegas by PRAAG, Dan Roodt en Joseph Secreve, en laat ons die menings lees van ware buitestaanders

Francois ·

MT, jou siening oor die blootstelling wat sekere Afrikaanse ‘verlooptes’ in onder andere Media24-publikasies kry, het waarskynlik meriete. Die vraag is egter: in welke mate word hul menings hoegenaamd deur behoudende Afrikaners gelees? Ek het, byvoorbeeld, my intekening op ‘n Media24-koerant gekanselleer, onder andere omdat ek nie langer bereid was om te betaal vir nuus wat Maroela Media gratis beskikbaar maak nie; omdat ek nie langer aanklank gevind het by die pseudo-liberale trant van sommige van hul rubriekskrywers nie; en omdat ‘n sekere Kaapse Media24-koerant jou wraggies in hul naweek-uitgawe ‘n Engelssprekende rubriekskrywer se rubriek in Engels publiseer! Die menings wat dié ‘verlooptes’ in hierdie koerant publiseer, beïnvloed my derhalwe glad nie, en ek weet van ander intekenare wat om dieselfde redes hul intekeninge beëindig het. Maroela Media is nou ons primêre nuusbron.

Therese van Schalkwyk ·

MTSteyn, stem saam, die indoktrinasie op Naspers is regtig lagwekkend. (Die nuutste is ‘n wroegende siel wat op Thandi verlief is, of iets op daardie trant.) Juis daarom groot waardering vir alternatiewe leesplekke soos Maroela e.a.

Oor ‘n lang tydperk, en veral die laaste paar maande, het Leon Lemmer se uitstekende rubrieke op PRAAG belangstellende bekommerdes op hoogte gehou van die stryd, en die afdraande pad, van Afrikaans op Maties. Hy het tot in die fynste besonderhede op die saak ingegaan en in die toekoms sal sy skrywes ‘n aanklag wees teen ‘n ieder en elk wat hul skuldig gemaak het aan die opperste verraad teen die Afrikaanse Taal. Dit wemel van die wit en bruin Afrikaanssprekendes in hierdie veragtelike groep.

In sy nuutste stuk praat hy van die swanesang van Afrikaans. Hoe tragies ookal, dit is ‘n feit dat Afrikaans in lesingsale se dae getel is. Die bietjie-bietjie Afrikaans wat ‘goedgunstiglik’ nog gebruik word, is bloot die laaste stuiptrekkings. Wat anders kan ‘n mens verwag wanneer Afrikaanssprekende studente verklaar dat hulle heeltemal in staat is om die Engelse klasse te volg. Dat dít nie is waaroor dit gaan nie, registreer nie eers by hierdie mense nie. Dalk verdien sommiges om Engels te wees wanneer hul moedertaal so maklik onder haar jis geskop kan word.

Die voortbestaan van Afrikaans as wetenskapstaal sal, uit ander oorde as die ruggraatlose gewese Afrikaanse universiteite, verseker moet word.

Grassie ·

Ek glo Maroela en veral hul rubriekskrywer, Herman, is op die regte pad. Veral Herman se vermoë om ‘n klomp losstaande feite en gebeure saam te vat en as ‘n geheel aan te bied sodat dit vir almal verstaanbaar word is vir my baie werd. Ek dink Maroela speel ‘n groot rol om eensgesindheid onder Afrikaners te bevorder. Ons mag so hier en daar ‘n bietjie van mekaar verskil, maar dit is ons almal se goeie reg solank dit op beskaafde wyse gedoen word.
Doet so voort.

Henry ·

Dat MM ‘n spiksplinternuwe en baie welkome alternatiewe nuusbron vir Afrikaners verteenwoordig, ly geen twyfel nie.

Na die afsterwe van Perskor was Afrikaners vir ‘n baie lang tydperk aangewese op ‘n alhoe groterwordende reus – Naspers. Dat lg die politieke denke van veral ons Afrikaners asook die verloop van ons droewe land se ontwikkeling voor en na 1994 beïnvloed en dikwels gerig het, ly geen twyfel nie.

Enkele groepe/organisasies het hoofsaaklik in teenreaksie ontstaan, wat ongelukkig in meeste gevalle en om ‘n verskeidenheid redes tot nogtoe, nie die verbeelding en steun van die meerderheid Afrikaners aangegryp of geniet nie.

Met die verskyning van MM as ‘n welkome en onafhanklike nuusbron vir ons Afrikaners, is daar ‘n tweede lewe aan ons geskenk. Tot dusver vry van die Politieke Korrektheid wat veral gedurende die post 1994 tydperk, ‘n kenmerk van Naspers se berigte en kommentare is/was. Andersyds ‘n meer objektiewe weergawe van nuusgebeure. Asook meer gematigde en objektiewe ontledings/waarderings van die probleme, oorsake en moontlike oplossings wat ons land in die algemeen en Afrikaners in besonder konfronteer.
Genoeg daaroor…

Die beste sportman/vrou is so goed as sy/haar laaste wedstryd.
Dit geld netso vir ‘n nuuskommentator asook enige siel wat sy hoed in die ring gooi.
Is maar hoe dit is.

Lyn ·

Vir my is MM bloot ‘n bron van aanlynnuus in Afrikaans waar ek nie verplig word om te betaal om meer as 10 berigte te lees nie. Ek vorm my eie politieke mening en stem meesal nie saam met mense soos MT Steyn hierbo nie. Hulle is nou meer as ooit tevore ‘n klein groepie fanatiese segragiste wat nog nooit in enige verkiesing noemenswaardige steun kon kry nie.

Pieta ·

Stem saam met jou Lyn.
Om te kla en fout te vind is een ding. Om antwoorde te soek, en toe te pas, is van veel meer waarde.

Yvonne ·

Wanneer ‘n mens die man speel en nie die bal nie, dan hét jy nie ‘n politieke mening nie. Dankie, MM, vir jul onbekaamde, trots Afrikaanse en Christelike nuusberigte. Dit help nogal om die kaf van die koring te skei!

Rupert Ashford ·

Dankie Herman vir julle bydrae. Baie wat selfs hier kommentaar gelewer het verstaan nog steeds nie waarom dit regtig gaan nie. Doe so voort, maar ek stem saam julle ware “guts” sal gewys word as julle ouens soos Prof Dan Roodt ook as gasskrywers kan gebruik.

Groetnis
RA
NS. My plesier oor die klimaatsverandering “bydraes”…;-)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.