Nuuskommentaar: Timol en Zuma – lang wag vir geregtigheid

Ahmed Timol (Foto: Zetaboards.com)

Gister is ’n belangrike hoofstuk in die land se regsgeskiedenis geskryf met die uitspraak in ’n geregtelike doodsondersoek dat Ahmed Timol in 1971 inderdaad deur die veiligheidspolisie vermoor is. Vandag lewer die appèlhof uitspraak in pres. Jacob Zuma se opspraakwekkende sogenaamde spioenasiebande-saak.

Op Donderdag 12 Oktober lewer ’n regter in die hooggeregshof uitspraak in ’n lank uitgerekte saga – Ahmed Timol is inderdaad jare gelede, in 1971, deur die veiligheidspolisie vermoor soos sy familie volgehou het. Timol kon nie deur self te spring, soos die polisie aangevoer het, op die plek beland waar sy liggaam gelê het nie. Sy liggaam was ook oortrek met ouer wonde wat op aanranding dui.

Op Vrydag 13 Oktober lewer die appèlhof uitspraak in die sogenaamde spioenasiebande-saak teen pres. Jacob Zuma. Dit sal bepaal of Zuma op meer as 700 aanklagte wat korrupsie en bedrog insluit, tereg moet staan. Is die uitspraak téén Zuma, sal dit sake vir die Nasionale Vervolgingsgesag byna onmoontlik maak om steeds vervolging te dwarsboom. Ook hierdie saak het al lankal baard gekry.

Gaan die Timol-uitspraak nou die Afrikaner se beeld negatief aantas? Met die uitspraak is immers ’n bevinding in ’n vroeëre geregtelike doodsondersoek nie net tersyde gestel nie, maar word geïmpliseer dat die regspraak van die vorige bedeling aan ’n toesmeerdery sou deelneem.

Dit help skets aan ’n prentjie dat apartheid boos was en dat almal wat dit ondersteun het, dus ook boos was. Dit is vandag byna ondenkbaar dat baie goeie kerkgangers vas oortuig was dat die stelsel uiteindelik ’n baie geregverdigde en billike uitkoms vir almal sou hê. Dié benadering het selfs ’n baie breë akademiese onderbou gekry.

Die jongste Timol-uitspraak het waarskynlik vir min mense as ʼn skok gekom. Die skok was toe die Waarheids-en-versoeningskommissie met sy sittings begin het, en talle mense van wie dit nie verwag is nie, afgesit en gaan bieg het. ’n Oudminister van polisie het selfs op ’n voetewas-missie gegaan om vergifnis te vra.

Normaalweg is die reg redelik onverdraagsaam met die uitvoer van onwettige opdragte. Tog het baie juis aangevoer dat hulle (onwettige) opdragte uitgevoer het. Dit is moeilik om ’n oordeel hieroor te fel omdat enorme druk geplaas kon word op iemand wat “dwars” wou wees.

Pres. Jacob Zuma. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Dit moet ook in gedagte gehou word dat Timol ’n lid van die verbode SAKP was, wat op sy beurt by die ANC geaffilieer was. Die ANC het reeds in die sestigerjare met ’n “gewapende stryd” begin, wat gewoonlik die vorm van terreurdade aangeneem het. Die agtergrond waaroor die veiligheidspolisie destyds beskik het, het hemelsbreed verskil van dié van ’n filantroop wat Timol se familie en die SAKP nou van hom skets.

Dit het egter nie die aanranding en moord op hom enigsins gewettig nie.

Die uitspraak is moontlik nie die einde van die sage nie. Uit die uitspraak blyk dit dat minstens twee van die oorlewende lede van die veiligheidspolisie ondersoek moet word en moontlik tereg kan staan op aanklagte wat met Timol se dood verband hou. Hulle kan hulle of verweer of ingevolge ’n “uitlaatklep” in die wet om amnestie aansoek doen.

In beginsel kan ’n strafsaak die bevindings van die geregtelike ondersoek weer omkeer.

Tot tyd en wyl kan Timol se familie afsluiting kry.

Sou Zuma vandag in die appèlhof slae kry, sal dit na verwagting lank nie die einde van die regstryd wees nie. Vir die leek is dit moeilik om te sien hoe Zuma die saak nog kan rek nadat sy eie regspan in die appèlverhoor toegegee het dat die terugtrek van die aanklagte nie rasioneel was nie. Zuma sal wel nog sy weg na die konstitusionele hof wil vind in ’n desperate poging om ’n bevinding in sy guns te kry, maar hom ook met genoeg tyd te laat om ’n opvolger te bewimpel wat sal sorg dat die tronkdeure nie finaal agter hom toeklap nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

John ·

Vir diegene wat die hofsaak gevolg het, was dit ‘n uiters vreemde eensydige saak na soveel jare en met soveel stories, ontboeseminge, aannames en verweerde grafskrifte; ‘n opgekoekte en met swaar mis bedekte ondeurdringbare spulletjie wat bloot op wensdenkery sou kon berus met dalk ‘n heel ander doel voor oe. Berus ons regstelsel en sy bevindings nie op bewysstukke, bewysstukke, bewysstukke nie? Indien heksejagte hierna beplan word en vreemde ideologiee en konsepte ons oorspoel, gaan ons vervaarde landjie met spoed sy ondergang tegemoet storm.

Anoniem ·

Ek hoop op hierdie Vrydag die 13de, begin Suid-Afrika se skip draai wanneer Zuma op sy baadjie kry in die hof.

Eish ·

Deur die Timol en Zuma sake op die wyse aan te bied in die artikel besef n mens weereens net dat absolute mag, korrupteer absoluut.
Die wesenlike verskil, myns insiens, is dat tydens die sewentigs, was die integriteit van die regstelsel sodanig, dat soos in Timol se geval, getuienis bekook moes word ten einde n gunstige uitkoms te verseker. Tans, is die integriteit van die regstelsel onder verdenking. Byvoorbeeld die hoofregter se eensydige, onwettige besluit oor die amptelike hoftaal en ander vergrype.

Dit beklemtoon dan weereens dat die onwettige moord en doodslag tydens die apartheidsjare, juis aangesien dit binne die republiek se grense plaasgevind het, grootliks die reg gemanipuleer het deur eliminasie van getuies, vals getuienis en onbehoorlike beïnvloeding in sommige gevalle. Dus is dit in der waarheid n pluimpie vir die regstelsel van daardie tyd se integriteit. Verseker sou daar ook beïnvloeding van regters en landdroste kon wees deur byvoorbeeld lidmaatskap van die Broederbond, maar as geheel was die integriteit dus bo verdenking.

Dit is dus een van ons grootste bedreigings, die absolute onafhanklikheid van die regbank wat al hoe meer verkrummel.

Chris ·

Nog n Boeremag sirkus oppad om kiesers emosioneel temaak en sodoende die verkiesing te wen.Polisie kon nie weer n klomp blankes in n lokval kry nie.Nou karing hulle maar in die velede.

Johan ·

Hoekom wil jy die polisie blameer? Dis die Tamil se familie wat hof toe gehardloop het. Kom vir n slag by.

Jordaan ·

Goed, daar was destyds ‘n oorlog aan die gang – maar dit is sekerlik steeds verkeerd om iemand in aanhouding te vermoor. Wat mens egter dwars in die krop steek is dat die terroriste wat onskuldige mense gedood het (soos Robert McBride) vrywaring gekry het en dan word hierdie heksejag geloods op mense van die ander kant.

Eish ·

Wat ons bring by die vraag, wie se stryd was dus geregverdig? Aan beide kante is mense vermoor. Op die grens kon enigeen met n geweer, skiet om te dood, geen vervolging. Binnelands het normale wette gegeld wat dit n ander “ballgame” gemaak het.
McBride het vrywaring ontvang by die waarheids en versoeningskommissie nadat hy sy storie vertel het.
Die Timol saak se betrokkenheid was nooit by die W&V kommissie nie. Verder is daar ook nuwe spesialis getuienis gelewer. Dan is daar ook politieke punte te wen in die heropening, deurdat die vorige beslissing ter syde gestel is.

jan_alleman ·

ek wil nou nie twak praat nie maar as dit nie vir Herman se bydrae op die blad was nie sou ek nie die moeite gedoen het om ander artikels hier te lees nie , ek weet nie hoe MM ooit iemand gaan kry om jou skoene vol te staan as jy eendag ophou artikels skryf nie, wragtig

Koos ·

Herman Toerien lewer kommentaar na aanleiding van die onlangse uitspraak rakende die Timol saak. Hy bring kerkgangers by met sy beredenering. Wat getroue kerkgangers met die uitspraak te doen het gaan nie af nie. Die vorige bedeling van afsonderlike ontwikkeling was vir die grootste deel van ons volk vir baie jare geregverdig. Hierdie deel het getrou die kerk bygewoon en kon hul hul afkeer met sodanige bedeling op die kerklike weg bekend maak en dit dan verander sou die meerderheid so daaroor voel.
Dit het nie gebeur nie. FW de Klerk met sy meelopers het gekonkel, die vorige bedeling weggeteken, dit aan onbevoegde mense oorhandig wat nou elke moontlike skuldig bevinding sal bevraagteken. Ek herrinner my aan gevalle waar beskuldgdes ” hoenders vir die pot” gesteel het en dan redelik lig, of dan in ander se uitkyk baie swaar gestraf is. Sodanige sake moet nou heropen word sodat nuwe getuienis gelei kan word.
Die Timol saak laat mens lag maar terselfdertyd ook skrik want hier word geleentheid geskep vir heksejag. Die vraag is en sal bly, skuldigbevinding in getoetste saak bly staan vir ewig, of nie?
Herman praat van aanrand of moord op Timol wat nie goedgepraat kan word nie. Hier is nou twee uitsprake, die jongste een is volgens skrywer geldig.
Kan ons vra dat die Daisy de Melcker saak heropen word vir nuwe feite wat mag opkom!
Dit is dalk te veel gevra, ons hou maar by die “apardheidsjare se onregverdige uitsprake!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.