Nuuskommentaar: Verskillende vlakke van veiligheid nodig vir misdaadvoorkoming  

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

Volgens prof. Rudolph Zinn, spesialis in polisiëring en forensiese ondersoeke aan Unisa, het elke gevangene op die departement van korrektiewe dienste se databasis gemiddeld 103 verskillende misdade gepleeg. Meer as enigiets anders, spreek hierdie syfer van die toestand van ons polisiediens en strafregstelsel. Misdadigers weet dat die risiko om betrap, in hegtenis geneem en gevonnis te word só gering is dat hulle bereid is om ʼn loopbaan daarvan te maak. Dit beteken ook dat enige gegewe misdadiger die kans kry om sowat 100 misdade te pleeg voordat hy of sy gevang word.

Dit is binne daardie 100 misdade dat sagte teikens soos diegene in afgeleë gebiede van hul vryheid en selfs lewe beroof word. Dit is binne daardie 100 misdade dat ons boere ook weens die regering se verval weerloos gelaat word in hul yl verspreiding.

Die afgelope week is nog ʼn boer van die Vrystaat wreed vermoor. Pieter Hills is verlede week op teregstellingswyse doodgeskiet met Eddie Hills, sy seun, wat in die nek geskiet is nadat hulle op hul plaas in die Hennenman-omgewing aangeval is.

Elke boer wat aangeval of doodgeskiet word, is ʼn gevolg van die regering wat wet en orde volledig laat verval het. Die vlakke van geweldmisdaad in ons land is volledig die regering se skuld. Dit is die regering wat onregverdiglik die las van veiligheid, wet en orde op ons skouers geplaas het. Nou is dit ons verantwoordelikheid om ʼn veelvlakkige strategie van misdaadvoorkoming te ontwikkel ten einde ons eie veiligheid te verseker.

Misdaadvoorkoming sal geen mens ooit volledig vrywaar teen misdaad nie. Solank mense bestaan, sal die moontlikheid van misdaad ook teenwoordig wees. Misdaadvoorkoming sal nooit ʼn wonderkuur wees wat al ons probleme in die land oplos nie. Dit kan ons ook nie waarborg dat ons nooit weer iets sal oorkom nie. Dit beoog eerder om ons op verskillende maniere van die nodige weerbaarheid te voorsien om die waarskynlikheid van slagofferskap te verklein.

Konsentrasie

Misdaad is nie eweredig oor Suid-Afrika versprei nie. Sommige buurte leef met onaanvaarbare vlakke van geweldmisdaad as die norm. Ander buurte is byna Europees in hul vlakke van veiligheid en normaliteit.

Die eerste stap in misdaadvoorkoming is om misdaadgebiede te vermy. Dit behels hoofsaaklik om jouself in eilandjies van uitnemendheid te vestig vir veiligheid. Almal kan egter nie na hierdie gebiede verhuis nie. Daarom kan jy binne gevaarliker buurte jouself omring met mense wat dieselfde oor veiligheid voel en bereid is om aan dieselfde oplossings as jy deel te neem. Sodoende kan ʼn mens deur ʼn konsentrasiestrategie veilige gebiede binne gevaarliker gebiede skep.

Die probleem hiermee is dat almal nie dié strategie van veiligheid deur konsentrasie kan navolg nie. Weens hul noodwendige yl verspreiding is dit vir boere byna onmoontlik om hierdie strategie te volg. Boere kan nie bloot hul plase verkoop en hul bedrywighede na ʼn veilige buurt in die stad skuif nie. Dit beteken dat bykomende vlakke van veiligheid in die strategie nodig is.

Weerbaarheid van die individu

Die eerste stap tot ʼn veiliger land is om jouself meer weerbaar te maak. Lt.kol. Jeff Cooper, ʼn Verenigde State-seesoldaat, het oor persoonlike weerbaarheid gesê:

“If violent crime is to be curbed, it is only the intended victim who can do it. The felon does not fear the police, and he fears neither judge nor jury. Therefore what he must be taught to fear is his victim.”

Hoër individuele weerbaarheid verklein die dryfveer vir ʼn oortreder om misdaad teen jou te pleeg. Die polisiediens en ons strafregstelsel dien glad nie meer as afskrikmiddel vir misdadigers nie. Daarom gaan dit van ons as burgers afhang om misdadigers te stuit.

Ons is ongelukkig nie meer in ʼn land waar persoonlike veiligheid deur selfverdediging ʼn luuksheid is nie. Ons kan dit bloot nie meer bekostig om ons veiligheid volledig aan iemand anders uit te kontrakteer nie. In gevaarlike situasies het ʼn mens bloot nie die luuksheid om vir iemand anders te wag om jou te beskerm en te red nie. Daarom moet jy jouself en diegene naaste aan jou veilig en binne die raamwerk van die wet kan bewapen en beskerm deur die idee en toepassing van selfverdediging te aanvaar.

Weerbaarheid van die gemeenskap

Die tweede vlak van veiligheid is om jou onmiddellike gemeenskap ook met weerbaarheid te kan beskerm. Dit is daarom belangrik om die nodige strukture van gemeenskapsveiligheid soos buurtwagte en patrollies te vestig waarin gemeenskappe leer om hulself as eenheid te beskerm. Selfs beter as weerbare individue is weerbare gemeenskappe wat weet hoe om na hulself en diegene rondom hulle om te sien.

Weerbaarheid van die gemeenskap bied die bykomende voordeel van die veiligheid van ʼn eenheid. Binne jou gemeenskap vind jy nie net ruimte om vry en veilig te wees nie, maar ook die versekering dat jy nooit individueel uitgelewer sal staan in die aangesig van gevaar nie. Sterk gemeenskapsbande hou sodoende almal staande, deur saam sterk te wees.

Weerbaarheid van die burgery

Laastens geld die uiteindelike vorm van ʼn weerbare burgery. Weerbare individue en weerbare gemeenskappe gaan uiteindelik ʼn weerbare burgery vorm. ʼn Groep weerbare gemeenskappe gaan sodoende op grondvlak die rol van die polisie begin vervang deur wet en orde sover moontlik self te handhaaf. Dit is natuurlik in samewerking met die noodsaaklike privaat sekerheidsbedryf. Hierdie bedryf sal mettertyd die staat se oorkoepelende rol van veiligheid begin vervul.

Privaat sekerheidsmaatskappye sal sodoende die laaste moontlike buffer teen misdaad wees. Vir ons as burgery om na ons eie veiligheid om te sien, is dit belangrik om elke vlak van veiligheid te bemeester – vanaf veiligheid deur konsentrasie, weerbare burgers en gemeenskappe tot privaat sekerheidsmaatskappye van topgehalte. Ten einde misdaad so goed moontlik te beveg, moet elk van die vlakke hul rol vervul.

Sodoende sal ons ondanks staatsverval op grondvlak die werklikheid van veiligheid kan skep wat ons wil hê. Ons moet nie ons vryheid en voorspoedigheid inboet bloot omdat die stáát nie na ons veiligheid kan omsien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Janine ·

“Elke boer wat aangeval of doodgeskiet word, is ʼn gevolg van die regering wat wet en orde volledig laat verval het. Die vlakke van geweldmisdaad in ons land is volledig die regering se skuld. Dit is die regering wat onregverdiglik die las van veiligheid, wet en orde op ons skouers geplaas het. Nou is dit ons verantwoordelikheid om ʼn veelvlakkige strategie van misdaadvoorkoming te ontwikkel ten einde ons eie veiligheid te verseker.”

Absoluut! Die nuttelose regering is verantwoordelik vir elke misdaad wat gepleeg word!

Grassie ·

As die regering werklik ernstig is oor die bekamping van plaasaanvalle snags is daar wel iets wat hulle kan doen. Indien hulle deur wetgewing bepaal dat waar ‘n plaaswoning met ‘n twee meter hoë heining omhein is waarvan alle toegange gesluit en dat by elke hek ‘n skriftelike waarskuwing en ‘n telefoonnommer aangebring is het niemand die reg om daardie perseel binne te dring nie. Indien daar dan indringers is kan redelikerwys aanvaar word dat dit reeds ‘n aktiewe plaasaanval is met waarskynlike noodlottige gevolge vir die bewoners en mag hulle in noodweer optree, ook met vuurwapens. Maar die regering sal dit nie doen nie.

Adam Adriaan ·

Die ANV/EFF is tot die kern verrot. So ook die sogenaamde wetstoepassing wat hulle voorhou. Die hele regeringstruktuur is soos ‘n gebou wat in ‘n brand verwoes is. Die inwoners van die gebou sit nou op straat en het geen heenkom nie. Elkeen sal na hom of haarself moet omsien. Dit is net ‘n kwessie van tyd dan gaan die mure van die puimhoop ook nog inmekaar stort. ‘n Totale herbedink/ ontwerp is nodig om die gemors weer van die grond af te kry. Daar sal ‘n nuwe regeringstruktuur daargestel moet word om te red wat nog te redde is en dit is nie gesetel in die hudige strukture van politieke partye nie. Die mense van die land sal vinnig moet wakkerskrik en tot hulle sinne moet kom.

Gert Johannes ·

Al het jy die beste en duurste veiligheids stelsel, jy het 80% daarvan verloor as hy in jou huis is. Meeste moorde word deur hulle beplan en uitgevoer.

Hendrik ·

Ons plot/plaasgebied oos van PTA het ‘n lae misdaadsyfer. Hoe so? Harde werk deur die manne saam met GPF en polisie regdeur die grendeltyd. Baie interresant dat verskeie arrestasies gedoen is waar rondlopers in die area ondersoek word en breektoerusting daarin gekry is en hulle kon dadelik gekoppel word aan ander misdrywe. Misdaad bedrywighede is maar direk eweredig hoe slapgat die mans in die omgewing is. So as jy op die N4 ry en jy is veilig van ‘spikes’ moet jy net onthou daar is manne wat die omgewing patroleer in hulle vry tyd…en dit word nie gedoen deur sekuriteitsmaatskappye nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.