Perspektief op plaasaanvalle binne SA se kultuur van geweldmisdaad

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

Suid-Afrika is berug vir geweldmisdaad. Ons woon in ʼn subkultuur van geweld: dit het die norm geword om iets te bereik. Plaasaanvalle kan as ʼn steekproef beskou word om die erns van geweldmisdaad in Suid-Afrika tuis te bring.

Só sê prof. Rudolph Zinn van Unisa, wat in polisiëring en forensiese ondersoeke spesialiseer en vir die afgelope twee jaar besig is met ʼn studie oor plaasaanvalle. Dit spruit voort uit ʼn studie in 2008 oor huisrooftogte, waarin hy gevind het dat 22% van die huisrowers wat deel van sy studie gevorm het, ook al by plaasaanvalle betrokke was. Vir sy huidige studie oor plaasaanvalle het hy onderhoude gevoer met 49 gevangenes in Vrystaatse tronke, van wie 30 direk by plaasaanvalle betrokke was en die ander by misdade soos kapings en huisrooftogte.

Vir sy studie het Zinn die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se amptelike definisie van ʼn plaasaanval gebruik, hoewel hy toegee dat dit nie sonder tekortkominge is nie. Dit lui dat ʼn plaasaanval dade is wat teen die inwonende persoon of persone, werkers van en besoekers aan plase en kleinhoewes gemik is, of dit met die doel is om te vermoor, verkrag, beroof of fisieke leed aan te doen. Dit sluit ook alle dade in wat daarop gemik is om kommersiële landboubedrywighede in die wiele te ry, of die motief daarvoor ideologies van aard, arbeidsdispute, gronddispute, weerwraak, griewe, rassisties of intimiderend van aard is.

Zinn voeg by dat dit egter nie maklik is om te onderskei wat ʼn kommersiële plaas is en wat nié, en dat daar gevolglik al verdere riglyne daaroor opgestel is. Hy beoog om aan die einde van sy studie weer daaroor te besin en nuwe voorstelle te maak, indien hy relevante data het.

Verskil plaasaanvalle van ander geweldmisdaad?

Dr. Johan Burger is ‘n senior navorser. (Argieffoto: Reint Dykema)

Dr. Johan Burger, ʼn senior navorser in die Instituut vir Sekerheidstudies se geregtigheids- en geweldvoorkomingsprogram, sê dat moord in Suid-Afrika skrikwekkend algemeen is, nie net op plase nie, maar dat die dinamika tussen plaasmoorde en moorde in swart woonbuurte, byvoorbeeld, drasties verskil.

“Navorsing toon dat die meeste slagoffers van moorde in swart woonbuurte jong swart mans is, maar die aanvallers is ook jong swart mans. Hier gaan dit dikwels oor onderlinge gevegte, bendes, en so meer. Op plase is tweederdes van die moordslagoffers wit boere, terwyl die aanvallers meestal swart is. Dit wek die indruk dat die aanvalle rasgedrewe is – wat dit nie noodwendig is nie, hoewel ek begrip daarvoor het dat mense dit so sien.”

Hy beklemtoon dat die algemene narratief van ʼn stygende of dalende moordsyfer nie die kwessie is waarop gefokus moet word nie, maar eerder die feit dat dit hoegenaamd plaasvind.

Die groot verskille tussen plaasaanvalle en ander geweldmisdade is dat die motiewe en risiko’s verskil, glo Burger. In gevestigde woonbuurte is die mense nie so geïsoleerd soos op plase nie, en rowers het minder tyd (gewoonlik 10 tot 15 minute) om die misdryf te pleeg as op plase en kleinhoewes, waar misdadigers voel dat hulle ʼn baie kleiner kans het om betrap te word. Boere is daarom in baie groter mate weerloos en uitgelewer aan die genade van misdadigers as wat stedelinge is.

Volgens Burger staar drie hoofbedreigings boere in die gesig: Die kwessie van grondonteiening en radikale politieke uitsprake, wat onsekerheid skep; die natuur, wat droogtes, vloede en brande tot gevolg het; en die veiligheidsbedreiging op plase – boere wat veronderstel is om te boer en produkte te lewer, moet toenemend as veiligheidswagte optree.

Prof. Christiaan Bezuidenhout. Foto: www.up.ac.za

Kriminoloog prof. Christiaan Bezuidenhout van die Universiteit van Pretoria doen al jare lank navorsing oor plaasaanvalle. Hy glo dat plaasaanvalle wel die aandag verdien wat dit tans geniet, want Suid-Afrika en talle ander Afrikalande se voedselsekuriteit hang van die plaaslike kommersiële boere af.

Bezuidenhout onderskei tussen instrumentele geweld, wat ʼn middel tot ʼn doel is soos om ʼn motor te kaap, en ekspressiewe geweld, waartydens emosies soos haat die motief is. Na sy mening kan plaasaanvalle as instrumenteel-ekspressiewe misdade gedefinieer word omdat daar ʼn element van roof is, maar toenemend ook van marteling.

“In 1994 was daar rofweg 120 000 kommersiële plase, terwyl daar tans net in die omgewing van 39 000 oor is. Ons bevolking groei, maar die plase wat kos voorsien, verminder drasties. Een rede daarvoor is dat jongmense nie meer die landbou as beroep wil kies nie omdat die gevaar en risiko wat plaasaanvalle inhou so groot is.

“Die gemiddelde boer vandag is aan die ouer kant, en jong boere wil nie hulself en hul gesinne aan moontlike aanvalle blootstel nie. Dit stuur op ʼn groot katastrofe af wat voedselsekerheid betref,” sê Bezuidenhout.

Bestaan daar ʼn tipiese profiel van ʼn plaasaanvaller?

Dis gevaarlike terrein om te betree wanneer mens ʼn profiel van ʼn plaasaanvaller wil saamstel, sê Bezuidenhout. Hierdie soort profielsamestelling is meestal 90% raaiwerk en 10% wetenskaplike navorsing. Die motief agter ʼn aanval moet ondersoek word om enige soort profiel te bepaal. In die algemeen is daar vier beweegredes agter plaasaanvalle: suiwer behoefte, georganiseerde diefstalsindikate, weerwraak en onervare diewe wat ʼn sagte teiken identifiseer.

“Jy kry mense wat desperaat is en ʼn plaas aanval omdat dit ʼn sagte teiken is waarvan die opbrengs hom vir nog ses maande aan die lewe kan hou. Dan kry jy sindikate wat binne-inligting van werkers kry in ruil vir ʼn beloning.

“Ander kere val werkers wat verontreg voel uit weerwraak die boer vir wie hulle werk aan en dit gaan dikwels met wreedheid gepaard, en nog ander kere is dit onervare opportuniste wat dit doen bloot omdat dit ʼn maklike, sagte teiken is.”

Hy voeg by dat al vier soorte aanvallers gewelddadig optree en dat navorsers steeds nie die akkurate antwoord het waarom soveel onnodige geweld gebruik word nie.

Prof. Rudolph Zinn. Foto: Collin Scott

Zinn het indiepte-onderhoude met plaasaanvallers gevoer om hul modus operandi te bepaal, sodat plaasaanvalle beter hanteer en bekamp kan word.

“Dit was ʼn uitgerekte proses om juis plaasaanvallers te identifiseer, aangesien daar nie ʼn rekord net vir hierdie misdaad by korrektiewe dienste bestaan nie. Ek kon dit net met behulp van Vrystaat Landbou se rekords vermag, want gemiddeld het elke gevangene op korrektiewe dienste se databasis 103 verskillende misdade gepleeg. Tog het die onderhoude breedvoerige inligting opgelewer.”

Honderde ure lange onderhoude word nou getranskribeer, waarna temas daaruit geïdentifiseer moet word, soos sekere wapens wat dikwels gebruik word of hoe toegang tot ʼn perseel bekom word. Daarna ondergaan die data ʼn analise- en korrelasieproses sodat tendense en patrone vir kwalitatiewe bevindinge bepaal kan word.

Hoewel ʼn presiese profiel van ʼn plaasaanvaller moeilik identifiseerbaar is, kon Zinn ʼn paar tendense bespeur. Plaasaanvallers is meestal tussen 19 en 30 jaar oud en volg duidelik dieselfde patroon: dis dieselfde mense wat die misdrywe pleeg en hulle doen dit gewoonlik op gewelddadige wyse.

“Die rede vir die geweld, het ek uit my onderhoude agtergekom, is om genoeg vrees by mense in te boesem sodat hulle maklik ʼn kluis oopsluit of waardevolle besittings oorhandig. Dis dieselfde by huisrooftogte, hoewel die geweld en marteling dikwels langer uitgerek word by plaasaanvalle en die groep misdadigers groter is, vyf of meer, om die gebied beter te beheer.”

Sy navorsing toon dat die motief by die meerderheid van plaasaanvalle, asook huisrooftogte, geld is. Daarom is dit baie gevaarlik om kontant op ʼn plaas te hou. Werkers hou die boer dop, sien hoeveel lone in kontant betaal word en hoe gereeld hy dorp toe ry om geld te trek. Hulle maak die sommetjie en besef hoeveel kontant daar in die huis moet wees.

Volgens Burger is die grootste motivering vir plaasaanvalle die opvatting dat boere ryk is, met kontant, wapens en ander waardevolle items op die plaas, en dat plase sagte teikens is. Wanneer die opbrengs teenoor die gevaar opgeweeg word, maak dit by aanvallers sin om ʼn plaas te teiken.

Verantwoordelike navorsing en verslaggewing is kritiek

Foto: Verskaf

ʼn Artikel wat Maroela Media vroeër vanjaar geplaas het, getiteld “Só lyk die gemiddelde plaasaanvaller”, blyk op onwetenskaplike gegewens gegrond te wees. Dr. Handri Walters, postdoktorale navorser aan Stellenbosch Universiteit se departement van onderwysbeleidstudies, het Maroela Media daarop gewys dat die meestersgraadstudie waaroor die artikel berig het nie van ʼn geakkrediteerde universiteit verkry is nie en dat die studie nie aan die nodige vereistes vir akademiese navorsing voldoen het nie.

Bezuidenhout beklemtoon dat die media ʼn groot invloed op mense se menings uitoefen en dat verantwoordelike verslaggewing van hierdie sensitiewe saak van die uiterste belang is. “Die media kan geweldige wanopvattings skep, of valse hoop skep, of selfs vergeldingsgeregtigheid aanblaas.”

Burger beaam dit, en voeg by dat navorsers en die media baie versigtig moet wees om iets as wetenskaplik bewese inligting die wêreld in te stuur. “Die gevaar is dat dit misleidend kan wees en ammunisie in die verkeerde hande kan plaas. Om die opvatting wat geskep is later ongedaan te maak, is bitter moeilik,” sê Burger.

Die maatstawwe vir wetenskaplike navorsing is of dit betroubaar en geldig is. As ʼn navorser by herhaling dieselfde bevindings kry, word die navorsing as betroubaar bestempel, en as die bevindings verifieerbaar is, word dit as geldig beskou. As die betroubaarheid en geldigheid van ʼn hipotese of aanname vasgestel is, kan dit ʼn wetenskaplike teorie genoem word.

Zinn se raad aan die media en Jan Publiek is om altyd krities na die bron van inligting te kyk. Is genoeg bronne geraadpleeg? Die norm vir kwalitatiewe studies is minstens 15 onderhoude. Is die bevindinge deur ander studies gestaaf? Ongestaafde inligting skep blywende opvattings en kan letterlik menselewens kos, wanneer die gevaar verkeerd verstaan word. “Sulke inligting veroorsaak wrywing en misverstande tussen gemeenskappe, en die verkeerde mense word ook dikwels uit vooroordeel geteiken.”

Walters stem hiermee saam en voeg by dat politieke ideologie nie ʼn raamwerk vir nuus behoort te bied nie, en dat inligting nooit in isolasie staan nie – dit moet altyd aan ʼn breër konteks gekoppel word. “Bowenal is ʼn verskeidenheid van stemme, of diverse menings en standpunte, altyd beter as eensydigheid,” sê sy.

  • Voetnota deur die redakteur: Hierdie artikel dien as regstelling op ‘n artikel wat Maroela Media in Augustus gepubliseer het, getiteld “Só lyk die profiel van ‘n gemiddelde plaasaanvaller,” wat later geblyk het op onwetenskaplike afleidings en navorsing gebaseer te wees. Maroela Media is verbind tot verantwoordelike joernalistiek en betroubare inligting, en is daarom deursigtig oor die oorsig wat in die eerste artikel gemaak is. In die artikel “Verantwoordelike joernalistiek en die rol van die publiek” neem Maroela Media die verantwoordelikheid van die media, en van Maroela spesifiek, teenoor sy lesers in oënskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tanniepetoors

Stadig Prof Bezuidenhout. Groot deel van die afname in sogenaamde enkel kommersiële boerderye waarna jy verwys is juis omdat ons boere saamgestaan het en boerdery maatskappye geskep het wat ekonomies lewensvatbaar is en suksesvolle mega-boerderye tot stand gebring het.

Snowball

Kan ‘n mens haat wetensksplik bewys?

Vrijburger

Watwo Dr Burger die groot verskil tussen plaasaanvalle en ander geweldsmisdade is nie net dat die motiewe en risiko’s verskil nie. Dit is die mate van geweld, marteling ens, die enigste geweldsmisdaad wat aangeblaas word deur rasistiese politici, die enigste geweldsmisdaad waar mense hulle verlekkering in bose dade wat gepleeg word. Hierdie is meer as gewone geweldsmisdade, hierdie is HAAT MISDADE.

Leeuwyfie

Hulle kan vir my wat vertel. Plaasaanvalle het kenmerkende eienskappe wat vergelyk kan word met familie moorde of in engels, crimes of passion. Die haat wat met die moorde gepaard gaan kan duidelik gesien word. Die eggenoot wat 100 keer gesteek is. Die wyse waar jy kan sien hierdie persoon wou hom/haar laat ly. Dis haat met passie aan iemand wat hulle voel hulle te nagekom het. Dit kan ook duidelik gesien word met plaasmoorde. Dis nie om hul skrik te maak nie, dis ‘n haat aan iemand wat hulle dink hulle ken. Nie oor hulle die persoon al ooit… Lees meer »

Dup

Jy het nie n geleerde of wetenskaplike nodig om n plaasaanvaller se profiel saam te stel nie.