Nuuskommentaar: Verskroeide aarde en brandstigting

'n Lugfoto van die Stilbaai-brand. Foto: Working on Fire

‘n Lugfoto van die Stilbaai-brand. Foto: Working on Fire

’n Vuurwarm (apologie oor die woordspeling) debat woed in die sosiale media oor die rol wat brandstigting by minstens sommige van die brande in die Wes-Kaap speel. Fopnuus (wat baie goed voorberei en aanvanklik geloofwaardig geskep is, maar later in die “onderhoude” sleg uitrafel), help ook nie om die gemoedere te kalmeer nie.

’n Gevaarlike stertjie word in minstens een van hierdie stemonderhoude ingebou, waar die persoon vertel dat van die brandstigters wat glo deur die helikoptervlieëniers uit die lug raakgesien word, geel ANC-T-hemde aanhet. (Van die brandbestryders wat voorbrande maak, dra geel baadjies). Die ANC-lede se beweerde betrokkenheid by die brandstigting is glo ’n teenvoeter vir “die een of ander” DA-saamtrek in die Wes-Kaap. Die vlieëniers ontken voor die voet dat hulle so iets sou gesien het.

Aan die ander kant is talle gevalle van brandstigting by die Kaapstadse owerhede aangemeld.

Die ondersoeke kan eers volg wanneer van die brande geblus is, hoewel minstens een ondersoek van kundiges klaarblyklik reeds begin is. In ʼn gebied met so ʼn groot bevolking is dit waarskynlik dat daar, naas kwaadwillige brandstigters, ook enkelinge sal wees wat aan die sielkundige afwyking van piromanie ly en kompulsief brande stig.

Dié brande toon die hipotetiese potensiaal wat dit kan hê as ’n vyandige instansie deur doelbewuste en goed beplande brandstigting sou probeer om die DA-beheerde Wes-Kaap, Kaapstad en ander munisipaliteite onder druk te plaas. Omdat brande nie maar net kan voortwoed en verteer nie aangesien begrotings daarvoor uitgeput raak, kan so iets in beginsel gebruik word om begrotings oor ’n wye front in ’n “onbevryde” gebied onder druk te plaas. Daar word egter beklemtoon dat hiermee nie gesuggereer word dat die ANC, wat hard probeer om die Wes-Kaap te “bevry”, so iets in die mou sou voer nie.

Die Wes-Kaap is ’n winterreënvalgebied. Sommige wetenskaplikes meen oor ’n aantal dekades sal die Wes-Kaap nie meer ’n winterreënvalgebied wees nie, en ander meen die gebied word geraak deur ’n proses dat die land geleidelik van die westekant opdroog. Nog ander volg ’n meer genuanseerde benadering waar sommige akkerbougebiede nie meer daarvoor geskik sal wees nie, maar dat ander gebiede wat nou nie benut kan word nie, veral hoërliggende dele, in die betreklik nabye toekoms wel geskikte akkerbougebiede sal wees.

Omdat die Wes-Kaap groot in die uitvoerbedryf belê het, en duisende werksgeleenthede daarvan afhanklik is, is dit nodig dat die oog op hierdie moontlike veranderings gerig sal wees. Nasa het immers pas bekend gemaak dat 2016 die derde agtereenvolgende warmste jaar van die aarde in onlangse bestaan was.

Boonop raak die mededinging tussen besproeiingsboere en die dorstige Kaapse metropool al groter. Ná ’n betreklik droë winter word dit veral erg gevoel. Weens die fyn balans met sekere produkte wat besproei word, kan selfs net ’n 20%-inkorting van besproeiingswater tot die algehele verlies van boorde lei. Kaapstad onttrek byvoorbeeld water uit die Bergrivierdam, terwyl die Bergrivier ’n baie belangrike besproeiingsrivier is.

En steeds stroom al meer mense na die Wes-Kaap. Die gebied se toerismebedryf bloei. Tussen April 2015 en Maart 2016 het byna 10 miljoen passasiers deur die Kaapstadse Internasionale Lughawe gestroom.

In 2013 het die Wes-Kaap se landbou-uitvoer reeds meer as R21 miljard per jaar beloop, en verwerkte landbouprodukte R15 miljard.

Brande kom elke somer in die Wes-Kaap voor, maar vanjaar het dit volgens sommige waarnemers vroeër as gewoonlik voorgekom, en daar was meer en groter brande. Met van die brande wat reeds geblus is, soos in die “Hel”, is vasgestel dat mense vir die brande verantwoordelik was. Soms is dit brandstigting, ander kere, soos met die vingers wat na die Padvinders gewys word, nalatigheid.

Vroeër vanjaar het brandbestryders in die Oos-Kaap gekla dat kinders woude doelbewus aan die brand steek sodat die helikopters hulle met lugbestryding kan natgooi om af te koel. Dit is lewensgevaarlik, en ’n peperduur stort net om af te koel.

Tradisioneel is die Bergies wat teen Tafelberg woon vir heelwat brande verantwoordelik; aanvanklik glo omdat ’n stelsel bestaan het dat Bergies ook aangestel word om vure te help blus. Hulle het dan so vir hulself gesorg.

Die skade is moeilik berekenbaar, onder meer omdat van die brande nog woed. Onvervangbare historiese huise is verwoes, onder meer een met reusegeelhout-plafonbalke. Besproeiingstelsels is weggebrand, asook ander infrastruktuur. By Stilbaai is in minstens een geval naas die weiding, ook die voer en die gebou waarin dit geberg is, weggebrand. Eskomlyne het afgebrand.

Baie van die fynbos is van brande afhanklik om te kan voortplant, maar van die indringerplante brand warmer as die saad se oorlewingsvermoë. Boorde en aanplantings wat skade opdoen, is eenvoudig skade. Boonop “skiet” indringers soos die hakia se sade ook as gevolg van brandhitte. Vlugtende muise en ander diertjies wat aan die brand geslaan het, kan in hul vlugtog die brand tot anderkant paaie en brandpaaie versprei.

Op die duur lyk dit of Kaapstad, in plaas van dieper binneland in om drinkwater te bekom, seewaarts sal moet kyk. ’n Aantal jare gelede was daar gevorderde planne om ’n groot ontsoutingsaanleg by Koeberg se afkoelingswater se uitlaat na die see te bou, omdat die water daar effe warmer was as die koue see. Hoewel ontsouting steeds een van die opsies is wat ondersoek word, word na verskeie ander opsies gekyk. Heelwat van hierdie ander opsies word met groot kommer deur die landbou beskou.

Holistiese beplanning is nodig, want die land kan kwalik sulke “brandseisoene” bekostig. Los tog die fopnuus.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Skim ·

Kyk daar sal ‘n ANC lid staan met ‘n GEEL THEMP en ‘n hoed op en ‘n vlag swaai en ‘n vuurhoutjie in die gras gooi en skreeu KILL THE BOER< en die wragtie weet almal sal ONTKEN dit was die ANC ondersteuners wat dit gedoen het. Hulle sal selfs ERKEN dit is hulle en aanspraak maak daarop dat hulle lekker die wittes se grond aan die brand gesteek het en STEEDS sal die libbies dit ontken .. ons bly in 'n baie ongebalanseerde land.

Johann ·

Kyk noord, dan sien mens die brande in die wintermaande in die Laeveld. Daar gaan dit sekere jare net so woes, dis plantasie op plantasie.

Fritz ·

Twee dinge oor die waarheid. Dit sal altyd uitkom en da is altyd iemand wat dit probeer wegsteek.

Koos1 ·

Herman, ek het so ‘n wyle terug ‘n artikel gelees oor Israel en hulle broedery metodes.
Isreal kry sowat 80% minder reën as SA maar hulle gebruik drup besproeiing, en dit volgens die artikel gebruik sowat 70% minder water, en die oeste is baie beter.
Wat is jou opinie hieroor? Is dit iets wat in SA kan werk? Sal die inset kostes verhaal kan word op ‘n kort termyn?
Hoe lyk dit MM met ‘n bietjie navorsing in die verband, indien dit nognie gedoen is nie.
Ek is ‘n stadskind en het geen ondervinding in die verband nie, maar is wel baie nuuskierig hieroor.

Herman Toerien ·

Hallo Koos. Ek gaan my seun vra om hierop te antwoord. Ek het grootgeword met memnse wat drupbesproeiing gebruik, maar bieg dat ek dit nooit in ‘n kommersieële verbnd in aksie gesien het nie. My eie ondervinding met mikro-besproeiing sê vir my dit verg taamlike groot onderhoud met klein goggas wat inkruip, en onsuiwerhede aan die binnekant wat verstop. Ek kan dus dink dis meer geskik vir iets soos om bome te benat as bv groente, vera is dit in rye geplant is. Privaat maatskappye, asook staaatsliggame, doen wêreldwyd navorsing om ook gewasse meer droogte- en pesbestand te maak, gewoonlik deur genetiese modifikasie, maar ook deur teëlprosesse (wat baie langer duur). SA het a verskeie groot moeiie-oeste afgehaal wat sonder aanpassings weens droogte sou vergaan het.

Nic Toerien ·

Drup besproeiing waarme ek tot dusver blootgestel was en mee gewerk het was baie doeltreffend en baie spaarsaamig op water.

Die groot voordeel van drup is die water word slegs toegedien aan die plant se wortels wat besproei word en nie ook aan die onkruid rondom die plante nie.

Verdamping van druppers se water is ook vir my baie minder as ander vorm van besproeiing.

Plant siektes is ook minder omdat blare nie ook nat gemaak word met druppers nie.

Of dit winsgewend gaan wees gaan afhang van die tipe gewas wat geplant word, gaan dit n meerjarige of enkel jaar gewas wees, die tipe water en grond en die belangrikste faktor bestuur van die water wat gaan bepaal of dit winsgewend sal wees.

Jamsie ·

Een moontlike oplossing vir Kaapstad se waterprobleem is om die ondergrondse water van die Kaapsevlakte te ontgin. Etlike jare gelede was daar reeds opnames gedoen en is bevind dat daar enorme watervolumes onder die sand van die vlakte bestaan. Slegs boorgate of oopgroef damme is nodig en met die nodige pompe kan die water onttrek word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.