Nuuskommentaar: Verslaaf aan rassedenke?

Argieffoto: Kent Williamson

Kwalik is die jongste misdaadsyfers deur die polisie uitgereik of die syfers word uit verskeie oorde bevraagteken. En met die gepaardgaande aankondiging dat daar nou (uiteindelik) ses spesialiseenhede na plaasaanvalle gaan omsien, te midde van ’n opgeboude wantroue, sou verwag kon word dat die polisie buitengewone aandag sou skenk aan die betroubaarheid van minstens hierdie aspek van misdaad. Kort na die aankondiging het die landbou-organisasie, TLU SA, laat blyk dat sy syfers van dié van die polisie verskil. Eintlik sou verwag kon word die polisie met sy moniteringstelsel se syfers sou hoër as die TLU SA s’n wees, gebaseer op vrywillige mededelings en mediaberigte.

Ongelukkig is hierdie geval nie die uitsondering nie. Die TLU SA teken nie ’n moord aan voor die oorledenes se name nie bekom en geverifieer is nie. Dit kom daarop neer dat die syfers van die TLU, sou dit nie akkuraat wees nie, konserwatief sou wees. Dat die polisie se syfers nog minder moorde aandui, is dus noodwendig ’n geval dat sommige moorde nié getel is nie. Dieselfde gaan oor die aantal plaasaanvalle wat nie lewensverlies opgelewer het nie. Die verskille het ook heel duidelik ’n aantal senior polisielede se tone nerfaf getrap, en daar is by geleentheid aangekondig dat Statistieke SA betrek gaan word om akkurater syfers te verseker.

Die grootste nagmerrie oor syferverskille kom egter voor in die getalle wat die polisiediens lewer, en wat uit die periodieke landbousensus na vore tree. Hierdie syfers neig om vir ooreenstemmende tydperke van ’n totaal ander orde te wees, en is nog meer verontrustend omdat meer kategorieë met die landbousensus gemeet word. Benewens veediefstal word gewasdiefstal, weidingdiefstal, implemente-diefstal, die diefstal van gereedskap, brandstigting en ander kategorieë ook gemeet. Dit beloop miljarde rande per jaar.

’n Probleem is dat dit die publiek is wat onder die misdaad deurloop, en dat die publiek vrye toegang tot die media, hul vriende en kennisse het, en dit gou na die oppervlak deurbreek as syfers nie klop nie.

In ’n heterogene, of diverse land, veral waar die verskillende bevolkingsgroepe nie dieselfde narratief deel nie, en veral as rassespanning aangeblaas word, is dit baie moeilik om ’n vreedsame uiteinde te voorsien. Selfs al is verkeerde feite nie doelbewus aangebied nie; enige wantroue skep die potensiaal dat moedswilligheid daarin gelees kan word.

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto

Die probleem is dat sommige van die heterogeniteitskenmerke wat as rytuie vir konflik of spanning dien, nié opgeklaar word nie, maar eerder verdiep. Met die Black Lives Matter-veldtog wat hom nou afspeel is “ras” juis ’n goeie voorbeeld. Twee Amerikaanse akademici, prof. Nina G. Jablonski  en George Chaplin skryf soos volg oor die problematiek: “Race-thinking has been discredited for decades. But it is still with us. Yet race is a historical contingency, not a state of nature. One of the most sinister things about race is that its sibling, racism, not only lasts, but continues to grow. Race has so co-opted our consciousness and language that any attempt to deal with the effects of racism has been very difficult….

“The addictiveness of race-thinking thwarts all efforts to unite humanity into a common cause. New endeavours to utilise race for economic, educational, biological, and – most recently – genetic reasons continue despite the fact that people share so many overwhelming commonalities. Any subdivisions erected between people are essentially meaningless.”

Of hulle dit nou in gedagte gehad het of nie, die verwysing na “The addictiveness of race-thinking…” hierbo pas die ANC, die EFF en verskeie ander partye soos ’n handskoen, en dit kan ook sonder veel moeite op die Black Lives Matter-beweging van toepassing gemaak word.

En is hierdie verslaafdheid nie dalk minstens deels verantwoordelik vir die rasse-toe-eiening wat uit soveel Suid-Afrikaanse misdaadstatistiek spruit dat ons land sommige syfers heeltemal oorheers nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

BoerSonderRoer ·

Ek weet nie van een formpie in SA waarin jou ras nie een van die boksies is wat jy moet invul nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.