Nuuskommentaar: Wie gaan wen? Die reg of ras?

hof-hamer-skaal-geregtigheid

Foto: Succo/Pixabay.com

Die belangrikheid van twee uitsprake oor uiteenlopende sake in liggame wat regsuitsprake lewer, is besonder betekenisvol in Suid-Afrika waar daar skynbaar reeds met die hoogs tegniese begrip van “regstaat” klaargespeel is, en die aanslag teen die begrip “grondwetlike demokrasie” ook in die praktyk voortwoed. In die proses word die konsep van die gelykheid van rasse skerp onder skoot geneem. Die twee uitsprake draai die wiel effe terug. Hopelik laat dit die regering se ratte van rasbenepenheid verstrengel en flenters knars in wat dalk ’n permanente verskynsel sal wees.

In die eerste uitspraak is ’n stokkie gesteek voor die skynbaar toenemende verskynsel dat wit werknemers valslik deur swart kollegas van rassisme beskuldig word. Dit kan die valslik verklaagde se loopbaan verwoes, asook sy menswees. Weens ’n siek politieke klimaat, wat ongelukkig ook volgens uitsprake van lede van die Menseregtekommissie gemaak is, word hierdie verskynsel beweegruimte gegee deur “die geskiedenis” as faktor in te span om verskillende rasse se speelruimte in dié verband te bepaal. Daarom sou Eben Etzebeth byvoorbeeld ’n heel ander stel vereistes vir skuldbepaling moes slaag as die klaers in daardie saak. Die Konstitusionele Hof het veral met die saak oor taalregte by Maties baie na-aan dieselfde denktregter gekom. Die tragedie is dat baie mense van wie beter verwag is, daardie uitspraak steun.

In die Algemene Bedingingsraad vir die Staatsdiens het die kommissaris korte mette hiervan gemaak. Die valslik verklaagde is in die saak deur Solidariteit verteenwoordig. (Lees gerus Maroela Media se berig hieroor.) Die gevolg is dat hierdie liggaam bevind het dat wit mense nie tweedeklasburgers in die land is met verminderde regte en vermeerderde aanspreeklikheid nie. Ofte wel, nie tweedeklasburgers nie, en dus nie hoef te voel dat hulle onwelkom in hul eie land is nie, en ook nie volgens regeringswoordvoerders, onder wie die president en ambassadeur Zindzi Mandela, objekte is soos “onwelkome indringers”, setlaars, gronddiewe, veediewe, en veel meer erger en minder erge benamings nie.

Die uitspraak is in pas met die grondwetlike ampseed van die president – iets wat veral oudpres. Zacob Zuma ge-twenty-eleventeenth million het, of iets in dier voege. Dit gee opnuut stukrag aan die effek van ’n ou rigtinggewende uitspraak van die appèlhof in die saak van Traub and Others vs Administrator of Transvaal and Others (4/88) [1989] ZASCA 90; [1989] 4 All SA 924 (AD) (24 Augustus 1989). Hiervolgens kan iemand byvoorbeeld nie soos bepaal in die Staatsdienswet ongeskik vir ’n pos wees voordat hy daarvoor aangekla en skuldig bevind is nie. Hierdie uitspraak was voordat die Konstitusionele Hof tot stand gekom het.

Die tweede uitspraak van belang is die slae wat die “Openbare Beskermer” Busisiwe Mkhwebane (al weer) in die howe gekry het. Mkhwebane se onbekwaamheid, bevooroordeeldheid en gebrek aan insig oor wat haar en haar instelling se regte en verpligtinge is, is opnuut deur ’n hof flenters getrap toe sy in ’n verslag bevindinge teen pres. Cyril Ramaphosa gemaak het. Haar vernaamste regsdwaling was om ’n politieke party (die ANC) as ’n staatsinstansie te beskou. Politieke partye, soos kerke en gesinne, is egter nie deel van die staat soos die staatsdiens nie en dus buite die OB se bevoegdheidsfeer.

Die vermoede is sterk dat sy, as verbete ondersteuner van Zuma, in dié pos geplant is om Ramaphosa te ondermyn en Zuma se marionette wat steeds hoë ampte beklee te beskerm, soos wat met die verslag oor die Estina-melkplaas gebeur het waar die name van politici uit die verslag weggelaat is. Sy het reeds ook aangedui dat sy nié sal bedank nie.

Tensy die begrippe “regstaat” en “grondwetlike demokrasie” as sinonieme beskou word, is Suid-Afrika grondwetlik nie meer ’n regstaat nie, ná dié term skynbaar om ’n bepaalde rede uit die finale Grondwet weggelaat is. Akademiese regsgeleerdes meen dat daar wel ’n verskil tussen die twee terme is, en dit is vroeër vanjaar in ’n nuuskommentaar onder die loep geneem. Lees gerus ook prof. Koos Malan se artikel in Maroela Media, “Voortdurende informele verandering aan die nie-oppermagtige grondwet”.

Dit mag van naïwiteit drup, maar veel meer opsies is daar nie as om die oorblywende begrip van grondwetlike demokrasie sover moontlik in te span om die regstaat te hervestig nie. Hoe gouer dit gebeur, hoe beter is die kanse dat elemente daarvan nog kan slaag, en sodoende byvoorbeeld verseker dat tipiese staatkundige regsreëls van die internasionale reg, soos minderheidsregte, die verbod op rassediskriminasie en eiendomsreg verskans is. Dat die woord “regstaat” nie in die Grondwet staan nie, is nie ’n onoorkomelike probleem nie – Brittanje het byvoorbeeld geen geskrewe dokument wat as “grondwet” bekend staan op die wetboek nie, maar niemand (behalwe miskien die Keltiese volke) sal dit waag om Brittanje nie ’n regstaat te noem nie.

Ongelukkig eindig die twee sake nie noodwendig hier nie. Die EFF het reeds aangedui dat hy die OB se saak tot in die Konstitusionele Hof sal beveg. Slegs voortgesette teistering en verskerpte viktimisering sal moontlik nou verhinder dat ’n stroom wit mense hul vakbonde stormloop om die siekte te stuit wat wittes sonder gronde van rassisme beskuldig. (Leraars en sielkundiges dui gereeld aan dat hulle deur amptenare oorstroom word wat weens hul ras geteister word.)

Ja, Solidariteit sal wel weer onder ’n vlaag propaganda deurloop dat dit rassisties is – pikant omdat dit juis sy lede (wit, bruin en swart) daarteen beskerm. Baie dankie, Solidariteit en filiale.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Ras het lankal gewen glo nie eers ons hoef verder te wonder nie doodskis twee is maar een saak van baie om dit te bewys

marius

Eenvoudig . Onreg en swart ras .

JC Venter

Ek dink dit sal enorm help as Chef Cyril ‘n voorbeeld vir almal kan stel, ophou kluitjies bak, sy kokhoed (toque blanche) afhaal, sy staatshoed opsit en op die taak voor hande konsentreer, ook soos dit n goeie staatshoof beaam op die menseregte van AL die inwoners konsentreer, dit sal help om rassisme en rassevoordeel teen te werk, ook sal dit dalk sommer nasiebou in die hand werk.

Vrystater

Herman, jou kommentaar pas perfek in met die ides van Maart.
Sondag, 15 Maart 2020 is dit 2064 jaar sedert Julius Caesar vir Casca geskree het, “Casca, jou boef, wat vang jy aan!” toe Casca hom aangeval het.
Dié woorde tussen twee uitgeslape politici, (sonder die geweldsaksie natuurlik), behoort na my mening, die standaard groetwoorde tussen ANC-politici (en sommige ander politici) en hulle en hulle meelopers te wees.