Nuuskommentaar: Word Afrikanerklowe groter of kleiner?

Verlede jaar is afgesluit met verskeie analiste wat 2014 ’n annus horribilis (verskriklike jaar) genoem het. Goeie hoop is uitgespreek dat 2015 beter sal wees.

Met Januarie 2015 amper op sy rug, het die eerste kommentators die maand egter reeds ’n verskriklike maand genoem.

Dat die jaar nie al te belowend begin het nie, is gedemonstreer deur pres. Jacob Zuma se herhaalde kluitjies dat apartheid vir Eskom se probleme geblameer moet word, en toe boonop wyle Jan van Riebeeck gaan blameer het vir die begin van al die land se probleme. Met die werklike ramp dat hy klaarblyklik nie begrip het oor hoekom dit soveel aanstoot gee nie.

Oor die Eskom-debakel is die Afrikaner onderling, en ander minderhede dit redelik eens – Zuma het ’n vet kans gevat. Oor Jan van Riebeeck se nalatenskap aan die Kaap verskil Afrikaners onderling wel.

Die tragiese aanval op die satiriese koerant, Charlie Hebdo in Parys, het ’n nuwe uitdrukking gebaar: “Je suis Charlie” (Ek is Charlie). Die trefkrag is die konsolidasie vir steun vir persvryheid, en die vryheid om menings te hê en dit uit te druk.

In ʼn plaaslike manifestasie is Charlie se naam dikwels met plaasmoordslagoffers vervang, en toe ook met “Jan” na aanleiding van Zuma se inspan van die teerkwas teen Van Riebeeck.

En toe gebeur die vreemde ding hier in Suid-Afrika: Terwyl die wêreld geleidelik begin besin of Charlie nie die aanvaarbare perke (in enige konteks) met sy platvloersheid oorskry het nie (maar darem nie so ’n terreurdaad verdien het nie), word plaaslik hoofsaaklik nog blindelingse steun aan Charlie toegesê.

Maar nié aan meningsuitdrukking self nie. Die liberale beleef skynbaar geen gelukkige maand nie. Op ’n streep stel hulle dit duidelik dat hulle nie Jan (van Riebeeck) is nie. “Ek is nie Jan nie” skryf Beeld se redakteur, Adriaan Basson, in sy gereelde rubriek. “Van Riebeeck onvanpaste ikoon vir land” skryf Sonja Loots in haar rubriek in Rapport.  Max du Preez sê in ʼn onderhoud met Hanlie Retief van Rapport: “Zuma is reg: Met Van Riebeeck se aankoms het al die moeilikheid begin. Kolonialisme. Ons Afrikaners verstaan wat dit aan mense doen, ons was onder Britse kolonialisme.”

Veral na Zelda la Grange se Twittermoer, motiveer die liberale en links-liberales hul standpunte uiters selektief  uit geskiedenisgrepe, wat JeanJacques Rousseau se “edele barbaar” na ʼn groentjie laat lyk. Dat hulle in die proses erg paternalisties optree, en swart mense in die proses soos onvolwasse kinders hanteer en beledig, kom blykbaar nie by hulle op nie.

Rhoda Kadalie, die toenemend politiek inkorrekte menseregte-aktivis het gesê dit was ’n fout dat Zelda haar stellings teruggetrek het.

Hierna was dit vir die KKNK nie net genoeg om te sê geen voorstel vir deelname vanjaar is van Steve Hofmeyr ontvang nie. Daar moes, soos die redakteur van Rapport, Waldimar Pelser dit op sy Facebookblad stel, op adolessente wyse gesê word dat Steve in elk geval nie toegelaat sou wees om deel te neem nie.

En nee, sy breek met die Independent-groep beteken nie dat Max du Preez hom nou ontnugter in die geledere van die “verskynsels” soos Steve en Sunette Bridges bevind nie. In ’n onderhoud met Hanlie Retief beduie hy wat hy vir die “verskynsels” wil sê: “F*&k off and die.” Hy beskou hulle as die werklike vyande van die Afrikaner.

Maar is daar geen gemeenskaplikheid in die Afrikaner se openbare debat nie? Het ʼn mens na gisteraand se uitsending van RSG se program Kommentaar, geluister, het daar kwalik ’n woord opgeduik wat ook vir die regse, laat staan nog middelgrond-luisteraar, vreemd of onaanvaarbaar op die oor sou val. Al drie paneellede, Max, dr. Piet Croucamp en Beeld se Pieter du Toit, word meer met die liberale, en selfs linkse denkskool geassosieer. ’n Redelike wye reeks onderwerpe is aangespreek.

Of was dit maar ’n openbare witvoetjiesoekery, en is wyd om kontroversiële onderwerpe gehou?

Daar is wel een kwessie waaroor Afrikaners taamlik eendragtig voel: Jacob Zuma. Max het met Independent se base oorhoeks geraak na hulle namens hom by die ANC gaan verskoning vra het omdat Max Zuma onder andere ’n “one man wrecking ball” genoem het. Basson is heel opgetrek met homself oor die groot rol wat hy gespeel het om Nkandlagate aan die groot klok gehang te kry. Ook buite Afrikanergeledere word Zuma met die nek aangekyk. Dit is algemene kennis dat Julius Malema, eens as Zuma se kroonprins gesalf, niks ooghare het vir Zuma nie.

Benewens die goed gerapporteerde flaters wat Zuma in Januarie gemaak het, het Zuma boonop nog die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gedwing om ’n onjuistheid van Zuma reg te stel. Die Jacob Zuma-stigting het onlangs aangekondig dat die stigting R500 000 aan ʼn projek van die Rooms-Katolieke Kerk gaan skenk om die isiZulu-Bybel vir die “eerste keer” uit die brontale in isiZulu te vertaal. Volgens die verklaring sou die bestaande isiZulu-vertaling uit Engels en isiXhosa gedoen gewees het, en daarom voel Zuma “al lank” dit dra nie die boodskap suiwer oor nie.

In sy reaksie wys die Bybelgenootskap daarop dat die 1959-isiZulu Bybel nie uit isiXhosa, Engels of enige ander sekondêre Bybeltaal vertaal is nie. Die primêre brontekste (Hebreeus, Aramees en Grieks) is gebruik deur ʼn interkerklike vertaalspan bestaande uit brontaalkenners en moedertaalsprekers. Die 1959-vertaling word deur die meeste kerke met isiZulu as voertaal gebruik en is steeds die Bybelgenootskap se topverkoper.  In 2014 is daar sowat 192 000 eksemplare in verskillende formate versprei.

In 1997 is, op versoek van die isiZulu-taalraad, die ortografie van die teks aangepas om vir die jongste taalreëls (spelling en punktuasie) voorsiening te maak. Omdat taal dinamies is en die betekenis van woorde soms verander en nuwe woorde geskep word is die Bybelgenootskap tans besig met ʼn nuwe isiZulu-vertaling en dit word ondersteun deur ʼn interkerklike hersieningskomitee van 15 lede bestaande uit brontaalkenners, isiZulu-taalkundiges en kerkleiers. Hierdie vertaling behoort binne vyf jaar te verskyn.

Oor die algemeen is die openbare diskoers egter eens, soos Waldimar dit in sy Facebook-inskrywing oor die KKNK se onvolwassenheid uitwys, dat ons mekaar in kampe vir, en kampe teen injaag.

Benewens die beginsels van vryheid van mening en artistieke vryheid (wie het onlangs van laasgenoemde beginsel gehoor?), het die KKNK nie dalk as ’n “wrecking ball” gaan optree nie?

Die meeste mense ervaar dat Steve nou ’n ruk grootliks uit die openbare oog verdwyn het. Niemand kan met sekerheid sê dat hy nie in ernstige besinning met homself besig is, en moontlik die beste kenners raadpleeg oor die beste manier om ʼn terugkeer te maak nie. So kon ons dalk binnekort ’n nuwe Steve na vore sien tree wat die land tot groot heil kan dien.

Maar met die houding van die KKNK? Is so ’n moontlikheid dalk nou vernietig? Mits daar natuurlik so ’n moontlikheid was.

En gaan die KKNK nou ook konsekwent wees en produksies die trekpas gee waar mense weens die banaliteite uitstap? In die verlede is daar net woes vir dié uitvoerings in die bresse getree en verduidelik van die betrokke kunsvorm en artistieke vryheid.

Januarie sal ook onthou word as die maand waarin die emmer oor vieslike, rassistiese en haatspraak-inskrywings begin oorloop het. Oor die hele wêreld heen is daar nou artikels oor aan watter afwykende geestestoestande die skuldiges alles ly, ook hier te lande. Maar ook sulke artikels word deur sulke smerighede gevolg, dikwels onder die pleger se eie naam.

Onthou, wat Charlie Hebdo gedoen het was nie om net die Islam en die Christendom genadeloos te beledig nie. Met sy aanvalle op die Islam is in wese rassepolarisasie in Europa aangeblaas. Dit het heel moontlik daartoe bygedra dat die radikale Islam so aantreklik vir jong Europese Moslems geword het dat hulle hul tuislande uitglip om as jihadiste aan die kant van die IS te gaan veg – goed opgeleide terroriste met Europese paspoorte, en met die Europese tale vlot onder die knie wat eendag huis toe kom. Dalk met dodelike gevolge.

Die Afrikaner kan onderling lekker stry en baklei. By ’n vorige sinode van die GKSA, het ’n predikant van Kaapstad die koerant gehaal toe hy gesê het dis in die Doppers se gene om met mekaar oorhoeks te wees. Die Doppers het uit stryd ontstaan, en daardie gees kon hulle nog nooit verlaat nie, is hy aangehaal. Maar gaan dit nie maar dikwels net so lekker woes in die ander Afrikanerkerke nie?

Maar die Afrikaner is nie alleen in die land nie. Die Afrikaner is ook deel van ’n groter groep minderhede. Met die ANC se rasbeheptheid is daar vele gedeelde konsepte en opvattings onder die swart gemeenskappe wat spesifiek die diverse houdings teen blankes weerspieël. Dit is ’n gans te wye en komplekse onderwerp om in een nuuskommentaar uit te pluis. Vandag, op Netwerk 24, probeer Janet Heard dit wel, in ’n rubriek met die titel, Reik uit oor rassegrense. Heard was ’n assistent-redakteur (verantwoordelik vir nuus) by die Independent groep se Cape Times. Sy was een van die eerste personeellede wat bedank het nadat die Sekunjalo-groep die Independent oorgeneem het, en die groep skynbaar sy onafhanklikheid verloor, en na-aan die ANC-dampkring beweeg het (waarvan Max se bedanking as rubriekskrywer nog ’n manifestasie was). Heard is nou Media 24 se parlementêre redakteur. Wat van belang is, dat sy in haar rubriek melding maak van groeiende frustrasievlakke onder swartmense, omdat hulle meen hulle het nog tyd nodig om die letsels van apartheid te ontgroei, maar toenemend van witmense verneem hulle moet “get over it”.

Weens die kompleksiteit daarvan word Heard se rubriek daar gelaat.

Die werklikheid is dat die grootste deel van die bevolking, aldus ’n onlangse verslag van die Instituut vir Versoening en Geregtigheid al hoe meer in terme van ras, eerder as Suid-Afrikaner eerste, uitgedruk word. Blywende verwyt, en blywende verwagtinge van skuldbelydenis (ook van diegene wat na 1991 met die skrapping van die laaste apartheidswet gebore is), los klaarblyklik niks op nie. Die verdraaiing of die selektiewe aanwending van  die geskiedenis rig klaarblyklik ook enorme skade aan.

Miskien kan daar iets uit Jan van Riebeeck se gebed geleer word. Dit was geskoei op ʼn vorm-gebed wat die VOC vir sulke geleenthede voorgeskryf het:

Barmhartige, genadige God en hemelse Vader, volgens u goddelike wil is ons geroep om die sake van die Verenigde Nederlands Geoktrooieerde Oos- Indiese Kompanjie hier aan die Kaap die Goeie Hoop te bestuur. Met hierdie doel voor oë is ons met ons Raad in u heilige Naam vergader om met die Raad se advies sodanige besluite te neem waarmee ons die Kompanjie se belange die beste kan bevorder. Ons is hier om die wet te handhaaf en om, as dit moontlik is, onder hierdie… [verwysing na die inheemse bevolking op ’n manier wat dalk nou op haatspraak sal neerkom] u ware gereformeerde Christelike leer voort te plant en bekend te maak tot lof van u heilige Naam en tot voordeel van die wat oor ons regeer. Hiertoe is ons sonder u genadige hulp allermins in staat.

Hy bid voorts dat “tweedrag en dergelike gebreke” uit hul harte geweer sal word.

As daar nie gou ’n kentering in die tweedragsaaiery kom nie, gaan Januarie 2015 in die geskiedenis onthou word as ’n KKNKerige maand waar versoeningsvooruitsigte deur kortsigtige denke, en die uitspreek daarvan, behoorlik geknou is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Eliza-beth ·

Weereens, goeie, insiggewend skrewe wat mens laat dink. Ek hou steeds van jou kies-nie-kant aanslag, jy sal ‘n stelling in vraagvorm oor iets maak wat mens ampers laat dink jy is VIR die onderwerp waaroor jy skryf. Dan egter vra jy dadelik ‘n teenvraag om mens na die anderkant van joustelling te laat kyk – beslis onpartyding sou ek sê. Dankie Herman, ek lees graag jou berigte – ALMAL, nie net nuuskommentaar nie.

Eliza-beth ·

Oeps en verskoon my typo’s, die Maandag gremlins is vroeg besig met my.

Kobus ·

Wat my wel verstom is dat bv Dawie van Die Burger in sy rubriek verskil met Basson se rubriek en siening oor JvR. Dan kan mens ook Volksblad lees.

Dit bly maar ongelooflik as mens Adriaan se kommentaar aan lesers onderaan sy rubrieke lees, dan sien mens die arrogansie van die jonkheid (middel dertigs) en selfvoldane sekerheid wat uit hom straal.

Ek het eers gedag toe ek sy skrywe lees dat hy besig is om die draak te steek, maar toe sien ek hy glo werklik wat hy skryf. Hy het darem beduie dat hulle op skool nie die regte of volledige geskiedenis geleer het nie.

Wil jy nou meer en hy is Redakteur van Beeld en Hoofredakteur van Netwerk24. Sy en sy koerant, ook van die mense wie hy as rubriekskrywers gebruik se sieninge is heelwat (sommer baie) links van Die Burger en Die Volksblad, ook heelwat links van Rapport.

Hanno Visagie ·

Hierby sluit die volgende artikel aan:- http://www.standpunte.co.za/om-saam-te-stem-of-nie/
Onversoenbare menings sal toeneem namate Afrikaners afsien van ‘n Bybelgegronde Christusgesentreerde lewens- en wereldbeskouing en verruil vir sekulere humanisme, bouend aan die kortstondige nuwe wereldorde van die komende Antichris.

Jan ·

Jo Hanno !!!!!!!!! Maar kyk hoe word my naam ydellik gebruik in die skrywe !

Thys Human, Pretoria ·

Herman, stem oor heelwat van jou stellinge saam, maar ek vind die aandag wat jy aan mense soos Max, Coukramp en diesulkes gee, heel oorbodig. Die “Afrikaners” met wie ek praat en diskoerse voer, kyk nooit of uiters selde na goed soos Kyknet se eensydige “debatte”. Miskien bereik sulke programme sekere mense wat vroeer as Afrikaners bestempel sou gewees het, maar ek twyfel aan die diepte van diesulkes se “Afrikanerwees”. Dis hulle wat in die openbaar en in besighede selfs met ander Afrikaanssprekendes Engels praat!

Baie Afrikaners koop nie eens meer Beeld of Rapport nie en ek vind dat selfs diegene wat dit wel doen omdat daar geen ander Afrikaanse koerante is nie, hoegenaamd nie mense soos Basson se sieninge deel nie – hulle lees die rugby en die skindernuus, nie die kommentaargedeeltes nie!

Maar jy het vir my een verstommende feit uitgelig en tuisgebring. En dit is dat ‘n eertydse Engelse joernalis, Janet Heard, nou Naspers se “parlementere redakteur” is en allerlei preke vir die Afrikaner afsteek. Ek sweer DF Malan,
Phil Weber en selfs Piet Cillie draai in hulle grafte om! (En, wonder ek in my skeptiese enigheid: skryf sy die goed in Afrikaans – of word vertaal?)

Die aanslag teen die Afrikaner – nie jou verloopte Afrikaanssprekendes nie – is fel – selfs uit sogenaamde “eie” geledere. Maar die mense se tyd hol uit – Zuma en sy swart, Afrikagerigte sieninge en benadering is besig om vinnig oor te vat. En daar is eintlik niks wat ons daaraan kan doen.

Willem ·

Thys, jy is reg, die links liberales soos Basson en kie het ‘n mens nogal ontstel met hul eensydige en gedurige afbreek van Afrikaans en die hatigheid teen als wat wit is, tot ‘n hele tyd gelede.

Dit was totdat ek agtergekom het, dat hier ‘n aanslag teen die Afrikaner en Afrikaans is (soos met die PUK) en dat hul sieninge so links is as kan kom. Soos jy sê is daar hordes mense wie nou maar net glimlag as hulle diesulkes se skrywes lees of dit ignoreer.

‘n Mens sien sommer daar aan die begin wat hul aanslag gaan wees of vir hulself ‘n scenario skep om hul benadering uit ‘n sekere hoek te kan regverdig, dan dink ek ook aan Jan-Jan wat lief is daarvoor.

Ek weet nie of die mense ‘n illusie het of in die waan lewe dat hulle die lesers met hul skrywes beïnvloed nie. As hulle wel die mense beïnvloed dan is die nie na die kant wat hulle dink nie. Ten minste hou hulle ‘n mens op jou tone dat mens bedag is van wat hulle besig is om te doen.

‘n Mens is net bly dat daar ook ander koerante en webwerwe is wat die ware geskiedenis en waardes uitdra, wat die Bassons van die wêreld ontbloot vir wat hulle is.

Herman Toerien ·

Dankie Thys. In Rapport se artikel oor Steve stel Max dit weer dat die Steve-“elemente” eintlik ‘n negeerbare minderheid is. Vir my is dit moeilik om werklik te bepaal, want die Afrikaner stem bv nie werklik in ooreenstemming met sy eie politieke oortuigings nie (soos aangetoon deur opnames). Tog het dit verlede jaar voor die verkiesing gelyk of daar ‘n soort bewustelike rasionaal is – bv het ‘n peiling in ‘n stadium getoon dat die hoeveelheid blankes wat ANC gaan stem so min was dat dit nie uitgedruk kan word nie. Tog sit daar nou nog vd mense in die ANC-parlementstoele wat saam met Kortbroek ANC toe oorgeloop het “om julle (baie stil) stem te wees.” Daarenteen sit groot getalle in die DA wat ‘n ander gevolg van leiervolging was. Die relevansie van Max en kie in die openbare debat word nie altyd deur Afrikaners bepaal nie (soos sy gewese Independent-rubrieke), maar heel dikwels wel, soos uitnodigings om landboukongresse toe te spreek en deelname op RSG se program, Kommentaar. (En hier moet ek my woorde tel omdat ek self as panneellid in die stof gebyt het). Radio Pretoria se eweknie-program is gewoonlik puik, maar dit het nie dieselfde landswye blootstelling as RSG nie. Wat Janet Heard se rubriek betref, my eie gevoel is dat dit eerder naiïef as waadwillig is. ‘n uk gelede het ek Charl Swart se syfers in ‘n artikel gebruik oor hoe wit, swart en bruin heeltemal uiteenlopende opvattings het oor hoe blankes aan hul grondbesit gekom het. Ek het nie gedink dit is nodig om uit te wys dat dit nie ‘n eenvoudige geval van grond gesteel is soos die oorgrote swart persepsie is nie, het bloot daarna as ‘n onjuistheid verwys. Toe vra ‘n blanke leser hoe anders het blankes dan aan hul grond gekom!

Jaco Kruger ·

Hoekom word in kleinletters na ons Hemelse Vader verwys in die gebed van Jan van Riebeeck? ( die u, heilige Naam)

jakoos ·

Jaco, omdat wanneer mens bid – hardop bid – bid jy nie in klein- of hoofletters nie!

Herman Toerien ·

Daar is taalreëls waar dit hoofletters moet wees, en ander, waar dit in klein letters moet wees, en dit word ook so in die Bybel gebruik. My eie taalkundige kennis is te verroes om my nog hieroor uit te laat, maar soos ek onthou gaan dit oor of ‘n mens God regstreeks as U aanspreek, maar as ‘n beskrywende woord, “u Woord” kleinletter gebruik. Juis omdat ek verroes is, gebruik en dit soos die bron dit gebruik, en as ek die oorspronike teks skryf, deurlopend U as dit oor God handel. Interessant dat ‘n mens dikwels sien hoe mense ‘n nader persoon, ook in die middel van die sin, as U aanspreek, wat verkeerd is. Ook om in die middel vd sin na Dr, Prof, Mev ens te verwys – ons word daar hard deur die invloed van Engels geslaan.

Schalk ·

Hier volg nog n gebed. Soos deur die Hollandse Oos-Indiese kompanje aan oom Jan gegee is om alle vergaderings te open.
” O Barmhartige, goedertieren God en Hemelse Vader, aangesien u Goddelike Majesteit behaag het om ons aan te stel hier aan die Cabo de Boa esperance om besluite te neem waardeur die Justisie gehaandhaaf sal word, en wat onder hierdie wilde, astrante mense u ware gereformeerde Christlike leer mettertyd sal verbrei tot lof en eer van u Heilige naam, waartoe ons sonder u genadige hulp nie in staar is nie, so bid ons U derhalwe o allergenadigste Vader, dat U ons met u Vaderlike wysheid wil bystaan, ons harte verlig, sodat alle verkeerde gevoelens, misverstande, en soortgelyke gebreke van ons geweer mag word en ons harte van alle menslike hartstogte rein mag bly en ons gevoelens van so n aard mag wees dat ons besluite mag lei tot tot grootmaking van U Allerhoogste Naam, sonder om ag te slaan op eie voordeel. Dit alles en meer is nodig tot uitvoering van ons diens en tot saligheid van ons siele. Ons bid en begeer dit alles in die Naam van u Liewe Seun, ons heiland en Saligmaker, Jesus Christus”
Vertaal in Afrikaans deur dr AJ Boeseken. En dit dateer uit 1652.

Vic ·

Eh dink nie dat meningsverskil onder Afrikaners enigsins gevaarlik of sleg is nie, solank die einddoel van beskerming van mens en taal en kultuur in gedagte gehou word en verseker word, nieteenstaande verskillende benaderings en onderlinge verskille. As die Afrikaner kan saamstaan wanneer dit nodig is, kan ons oorleef. Die vraag is of ons nog intakt genoeg is om te kan saamstaan. En wanneer gaan ons besef dat meer nodig is as om net te kla en te kerm. Want kla en kerm gaan ons nie red nie.
Ek kan my min geleenthede in die verlede voorstelwaar daar nie baie verskillende menings was nie, maar meeste Afrikaners het, wanneer dit nodig was, in beginsel saamgestaan, alhoewel die detail van hoe om dinge te benader, dalk verskil het. Daar is nie, sover ek weet, een belangrike tydperk in ons geskiedenis waar ons nie verskeie uiteenlopende benaderings gehad het nie – Groot Trek, Boere oorloe, Unifisering, Wereldoorloe, kerke, politieke partye – selfs oor Steve. Daar is altyd die wat dink hulle is beter Afrikaners as ander, daar is altyd die wat beskou word as volksverraaiers. Daar is altyd die wat skaam is dat hulke Afrikaners is, en meer Engels as die Engelse wil wees. Niks nuuts nie. Nie altyd produktief nie, maar dis maar ons ou nasietjie.

Alhoewel ek geensins n Steve fan is nie, glo ek die KKNK tree verkeerd op deur n kunstenaar (ag, kan nie glo ek staan vir die man op nie!) te verban. Dit is nie hulle rol nie. Wat ook al sy politieke oortuiginge is. Want dan kan ons aandring op inligting rakende die ander kunstenaars se politike oortuiginge sodat ons kan besluit of dit vir ons aanvaarbaar is – en voor ons weet, het ons n McCarthy kommissie op ons hande, en word mense uit werke geskop, uit skole en universiteite verban, en moet n geel ster op hulle klere vaswerk……

Ek glo daar is druk deur borge op die KKNK geplaas. Ek glo ons moet terug druk. Hier is nou n geleentheid vir Afrikaners om saam te staan. aktief en vinnig. Maar dit het iemand nodig om mense bewus te maak van die gevaarlike gevolge van niks doen tot dit te laat is nie- iemand wat toegang tot baie mense het, na wie mense luister, en wat bereid is om n mening te lug. Iemand wat bereid is om ook n mening te lug in hoofstroomkoerante, op FB, op twitter – om soveel mense as moontlik te bereik.
Laastens – vryheid van spraak is essensieel. Daar is altyd iemand wat aanstoot neem. Maar wie sensor? Wie het die reg om te besluut wat is aanvaarbaar en en wat nie? As vryheid van spraak nie beskerm word in n land nie, is daar gewoonlik ook nie baie beskerming vir ander menseregte nie. En as vryheid van spraak val, wat is volgende – die verbod op vryheid van gedagtes?
My beskeie opinie.

Willem ·

Goeie dag Herman, ek sien op Netwerk24 Ingrid Palmary skryf op twee plekke in ‘n lang inligtingstuk dat die geweld in Soweto en ander dele, ook die onbevoegheid van die polisie in die fiasko kan terug herlei word na apartheid.

Ek kan nie haar redinasie volg nie, want sy lig dit nie toe hoe sy tot die gevolgtrekking kom nie. Sy noem dit net.

Wil jy nie dalk jou hand hieraan waag en jou indrukke weergee nie? Dankie, ek waardeer.

Willem ·

Terloops, as ‘n mens in die nuwe jaar tot dusver na die voorblaaie van die koerante en Netwerk24 se voorblad kyk, veral vandag s’n, wys dit net chaos van geen dienslewering tot onbevoedheid en korrupsie, ook geweld. Dit is soos ‘n tsoenamie wat onstuitbaar aangerol kom.

Cathy Kotze ·

Die eng verwysingsraamwerk van Afrikaanse liberale verstom my al hoe meer. Dis asof hulle absoluut onkundig is oor globale geskiedenis en gebeure.

Kolonisasie het vanaf die vroegste tye regoor die wêreld plaasgevind. Die “setlaars” in ander wêrelddele het selde dieselfde morele kodes gehandhaaf wat so deel was van die streng protestante Europeërs wat eerste in die Kaap aan wal gestap het. Ons voorsate se geloofsoortuigings het die verskrikkinge verbied wat ander lande se inheemse bevolkings so te sê uitgeroei het.

Ons het NIE aan die inheemse volke pokbesmette komberse geskenk soos die Britte in Kanada nie. Ons het NIE jag gemaak op die mense en hulle so te sê uitgeroei soos in die VSA nie. Ons het ook nie hulle land in ‘n strafkamp vir misdadigers verander soos die geval met Australië nie. Die Britte het Sjinese probeer verslaaf aan opium. Die Japannese het ‘n skrikbewind in Sjina gevoer.

Ek sal nie eers die vernietiging wat Suid-Amerika te beurt geval het, hier herhaal nie.

Segregasie was – soos apartheid – regoor die wêreld amptelike regeringsbeleid. Albei het so te sê saam in die stof geduik.

Suid-Afrika se pre-1994 regerings het selde korrupsie verduur of toegelaat. Tans is Suid-Afrika een van die mees korrupte lande ter wêreld. Die vroue van die inheemse bevolking was nooit onderwerp aan massa verkragtings nie. Nou is verkragting endemies in Suid-Afrika. Misdaad is voorheen streng beheer. Tans is niemand meer veilig nie. Hoe kan hierdie verskrikkinge op “apartheid” geblameer word?

Indien Afrikaners een taak het, is dit om die ware feite oor Suid-Afrika en Afrika se enigste INHEEMSE stam van Europese oorsprong bekend te maak en uit te basuin.

Rupert Ashford ·

Hendrik, los Steve uit. Hy is een van die min mense wat die guts het om sy se te se soos dit is. Jou standpunt oor hom en oor Charlie Hedbo illustreer erge dubbele standaarde en naiwiteit. Hoekom in die Charlie geval verskillende kriteria aanwend vir Islam en Christendom? Hoekom wegskram van Islam kwaadmaak, maar omdat die Christendom geleer word van “die ander wang draai” is dit OK om hulle te “offend”. Met die Steve storie gaan dit min of meer soos volg (aangehaal en vertaal uit ‘n twiet van die land van Voltaire in die nadraai): “Ek stem nie saam met wat jy se nie, maar ek sal met ‘n kersie ‘n nagwaak hou wanneer jy vermoor word omdat jy dit gese het”. Implikasie is ons bly maar stil en vat die houe en dan wil ons ‘n plakkaatjie ophou om darem ons solidariteit te wys as die spreekwoordelike in die fen in is. Jy kan nie een stel reels he vir die ouens wat jy weet gaan terugslaan, en ‘n ander stelletjie vir die ordentlike outjies nie. Dit is diskriminasie en getuig van swakheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.