Nuuskommentaar: Zuma in ’n staat van beskuldiging?

President Jacob Zuma Foto: GCIS, Flickr

President Jacob Zuma Foto: GCIS, Flickr

Net die grootste optimis sal hom nou verlekker aan die skynbare vooruitsig dat pres. Jacob Zuma se kierankies kan braai. Daar is verskeie aksies, ook in die howe, aan die gang wat die potensiaal het om Zuma hard te laat val, maar dié week het daar ook twee elemente bygekom wat die fokus weer hierop plaas. Die DA het aangekondig dat dié party met stappe begin om Zuma in ’n staat van beskuldiging te plaas. Terselfdertyd het Agang SA, die UDM en Cope die Wes-Kaapse hooggeregshof genader om onder meer die speaker, Baleka Mbete, as ongeskik vir daardie amp te verklaar.

Die twee sake het, gegewe die geskiedenis, veel meer in gemeen as die skynbaar onafhanklike optrede van partye. Die kwessie oor Mbete vloei voort uit ’n poging van Agang om ’n mosie van wantroue teen Zuma in die parlement te stel. Om dit binne ’n demokratiese raamwerk te laat geskied, sou die speaker ’n geheime stemming moontlik moes maak. Sy het geweier, en so verseker dat Luthuli-huis ook weer hier die onafhanklikheid van die wetgewende gesag in die voet skiet.

’n Mosie van wantroue en die plasing van ’n regeringshoof in ’n staat van beskuldiging is tegnies nie dieselfde ding nie, maar by die gewone publiek beteken dit net een ding – die nasie het genoeg gehad van die groot kokkedoor.

Hoekom die ANC so die geledere om Zuma sluit, terwyl dit tog lank reeds duidelik is dat Zuma se presidentskap ’n vreeslike ramp vir die land, en selfs in ’n mate vir die ANC was, sal nog jare lank uitgepluis word. Die kort en lank is dat Zuma ’n meester is van ’n magspel en as ’n Houdini soos min ontpop het. Opposisiepartye en ander het die probleme rondom Zuma se presidentskap met volle mening benut om eie politieke munt aan te teken – soms met ’n mate van sukses, en soms het hulle met die kous oor die kop daarvan afgekom.

Intussen het ’n groot deel van die denke verskuif na ’n “Utopia” waar Zuma aan die einde van sy tweede termyn in elk geval net geskiedenis sal wees. Daar word nou post-Zuma gedink, beplan, en skuiwe gemaak. Dit is waarskynlik die grootste mosie van wantroue wat Zuma op die lyf kan loop. Die probleem met hierdie benadering is dat dit erg voortydig kan wees. Hierdie benadering gaan van die uitgangspunt uit dat Zuma se opvolgers persoonlikhede soos adjunk-president Cyril Ramaphosa sal insluit, maar dit is geen gegewe nie.

Zuma kan op verskeie maniere verseker dat sy invloed na sy “aftrede” steeds so sterk is dat dit keer dat hy in die sop beland. Die mees ooglopende manier is om te sorg dat hy as president van die ANC aanbly, en die land se president dan eintlik net ’n soort uitvoerende eerste minister sal wees wat die knie voor Luthuli-huis moet buig. ’n Tweede opsie is om die opvolgstryd so te bewimpel dat die ANC deeglik in die hande van Zuma-lojaliste gelaat sal wees sodat Zuma self “onaantasbaar” bly. ’n Derde opsie wat al hoe meer ter sprake kom, is dat Zuma ’n tipe amnestie beding sodat hy na aftrede in effek onaantasbaar sal wees.

In die verlede het pogings om Zuma (en ander) nou reeds trompop te loop, dikwels geboemerang. Die ANC is meesters daarvan om kritiek op sy leiers, en veral Zuma, om te swaai as kritiek op swart mense.

Tog het hierdie speelveld nou effe verander. Die opkoms van Julius Malema en die EFF maak dit nou aansienlik moeiliker om kritiek op Zuma bloot as kritiek op swart af te maak. Namate meer en meer swart mense besef dat hulle nie ANC hoef te stem omdat hulle swart is nie, kry partye soos die UDM, Cope en Agang ’n bietjie stoom om ook die pot te roer. Die DA het homself sterk getransformeer sodat dit nou al hoe moeiliker is om na dié party as ’n “coconut”-party te verwys.

Zuma se speel van die rassekaart het nou ’n ingewikkelder fase ingegaan. Nie dat die kaarte nou minder gespeel word nie – inteendeel, SEB, transformasie en soortgelyk word al hoe harder gedryf en al hoe blatanter suiwer op rasselyne.

Voor 1994 het politieke wetenskaplikes graag ’n trajek aan die hand van ander Afrika-ervarings getref. Vir twee verkiesings na onafhanklikheid/bevryding kan die regering daarmee wegkom deur alles wat verkeerd loop op die vorige bedeling se brood te smeer. Omdat die derde verkiesing aan die einde van die tien-jaar periode plaasvind, gee dit vir so ’n regering in effek ’n vyftien jaar grasietydperk.

Hierna is die kiesers egter traag om sonder meer vir die soort propaganda te val, en moet ander populistiese maniere gevind word om die momentum te behou. Grondonteiening is ’n tipiese voorbeeld.

In Suid-Afrika word oorlede apartheid, kolonialisme en selfs Jan van Riebeeck nog graag na die skandpaal gesleep, maar die populistiese kwessies soos grondhervorming word kort-kort met nuwe venyn gedryf.

En hierin, so lyk dit, het Zuma nog volop speelruimte.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Debs ·

geen wonder Zuma en Mgabe is boesem vriende nie …. heading for disasters…. Wakker skrik ANC wakker skrik…. Dalk sal Julius hulle hokke skud ….

Winston ·

Puik gestel Herman. Houdini is ons president se rolmodel. Met soveel steun kan hy alles regkry. Ons kan maar net ja sê. Of moet ons?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.