Nuut ontdekte komeet gou te sien (maar nie in SA)

Die nuut ontdekte komeet Nishimura. (Foto: Dan Bartlett/Nasa/AFP)

ʼn Komeet wat skaars ʼn maand gelede ontdek is, sal binnekort in die hemelruim gesien kan word, maar Suid-Afrikaners op tuisbodem gaan nie dié verskynsel sommer met die blote oog kan waarneem nie.

Die komeet, genaamd Nishimura, oftewel C/2023 P1, sal reeds van Saterdag in die Noordelike Halfrond gesien kan word.

Dr. Daniel Cunnama, ʼn sterrekundige verbonde aan die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag, sê die tydsberekening om dit in Suid-Afrika te sien, is egter net verkeerd.

“Die komeet is baie ver noord, so in die tye wanneer dit sigbaar is, gaan dit reeds lig wees hier by ons,” sê hy.

“Nadat dit oor die volgende paar weke verby die aarde en die son gewentel het, gaan dit in die sonnestelsel inskiet en ʼn sowat 400 jaar lange omwenteling voltooi voordat dit weer naby die aarde verbygaan.”

Diegene in die mees noordelike dele van die Noordelike Halfrond sal die komeet die maklikste van die naweek af en vroeg volgende week kan sien wanneer die komeet die naaste aan die aarde verbygaan.

“Dit sal nie maklik wees om dit te sien nie. Mense sal moet weet waar om te kyk. ʼn Verkyker sal help om dit makliker te sien,” sê Cunnama.

Nicolas Biver, ʼn astrofisikus by die sterrewag in Parys, Frankryk, sê die beste plan is om na die komeet in die hemelruim te soek in ʼn gebied waar daar die minste lugbesoedeling is.

“Mense kan net voor sonsopkoms daarvoor kyk, in ʼn noordoostelike rigting links van Venus.”

As die weerstoestande dit toelaat, is dit moontlik dat die komeet wel met die blote oog sigbaar sal wees.

Die stert van die komeet sal groen lyk, aangesien dit “meer gas as stof” bevat.

Seldsame verskynsel

ʼn Japannese amateur sterrekundige, Hideo Nishimura, het die komeet vir die eerste keer op 11 Augustus gewaar.

Volgens Biver is dit ʼn seldsame verskynsel dat ʼn komeet so gou nadat dit ontdek is, van die aarde af sigbaar is.

“Die meeste komete word ontdek maande en selfs jare voordat hulle om die son wentel,” het hy aan AFP gesê.

ʼn Komeet is in wese ʼn groot bol ys wat miljoene kilometer weg van die aarde gevorm word. Wanneer twee van hierdie ysrotse teen mekaar bots, word hulle van hul wentelbaan gegooi en beweeg dit dan na ʼn massa wat die grootste gravitasie het, in hierdie geval die son.

Wanneer dit naby die son verbygaan, veroorsaak die hitte dat die ys sublimeer en in stof en gas verander. Dié gas vorm ook die lang stert wat met komete geassosieer word.

Die son se lig reflekteer van die stert af, wat help dat ons die komeet van die aarde af kan sien.

Die grootte van hierdie spesifieke komeet is nog onbekend, maar sterrekundiges sê dit sal “skadeloos” verby die aarde gaan.

Dit sal op 12 September die naaste aan die aarde wees, en op 17 September die naaste aan die son.

“Dit sal 33 miljoen kilometer weg van die son af wees, wat minder as ʼn kwart van die afstand is tussen die aarde en die son,” sê Biver.

“Die komeet sal 125 miljoen kilometer weg van die aarde af wees wanneer dit verbygaan.”

  • Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.