Ongelukkigheid broei oor veranderinge by RSG

Ivor Price (Foto: Ivor Price/ Facebook)

Die openbare uitsaaier se Afrikaanse radiostasie RSG het onlangs ʼn splinternuwe baadjie vir sy programinhoud aangekondig na ʼn nuwe bestuurspan die leisels by die stasie oorgeneem het, maar talle luisteraars en openbare figure is nie gelukkig met die manier waarop die veranderinge hanteer word nie.

Die mediapersoonlikheid Ivor Price het Vrydagoggend in ʼn uitgebreide plasing op Facebook gesê die getorring aan die stasie se programme is “niks anders as ʼn gruwelike amateursfout nie”.

“Dit is soos om jou eie kop af te kap omdat jou toon pyn.”

Price voeg by dat die programme Monitor en Praat saam, waarmee die stasie nou gaan wegdoen, van RSG se gewildste programme volgens onafhanklike radioluistersyfers is.

“Selfs geringe skuiwe kan hoogs traumaties vir die luisteraar wees. Dit is soos om die helfte van jou geliefdes in ’n grusame botsing te verloor, en dan die volgende dag gedwing te word om ’n klomp nuwe mense lief te hê.

Monitor, ’n 48 jaar oue program, is geamputeer. Praat saam is basies voor ’n vuurpeleton doodgeskiet,” het Price bygevoeg.

Sy Facebook-plasing is reeds wyd gedeel en het heelwat kommentaar ontlok. Facebook-gebruikers het met Price saamgestem en aangevoer die veranderinge by RSG het net “te skielik en te vinnig” gebeur. Ander het hulle hoop uitgespreek dat RSG nie die opvoedkundige en professionele aard van sy programinhoud prys sal gee nie.

Johannes Froneman, ʼn mediakenner, het vroeër in Maart in sy meningstuk op Maroela Media gesê die inkorting van aktualiteitsprogramme op RSG moet eintlik voor die deur van die streng lisensievoorwaardes van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa, of Icasa in Engels) gelê word.

Froneman meen verder dat Afrikaanse nuus en aktualiteitsprogramme nie sal verdwyn nie, maar net in ʼn ander gedaante op ʼn ander plek ʼn tuiste sal vind.

Hy sê dit sal waarskynlik gemeenskapradiostasies soos Pretoria FM wees wat sal intree om nou die leemte te vul.

Lynette groet luisteraars op Facebook

ʼn Emosionele Lynette Francis-Puren het die luisteraars van haar aktualiteitsprogram Praat saam Vrydagoggend in ʼn Facebook-video gegroet.

Francis-Puren se kontraktuele verpligtinge met RSG het Donderdag verstryk. Haar laaste uitsending van Praat saam is Maandag glo weens ʼn tegniese fout kortgeknip sonder dat sy die luisteraars behoorlik kon groet.

Francis-Puren, wat die program die afgelope 12 jaar aangebied het, het trane weggevee terwyl sy ʼn boodskap gelees het waar in Sam Shilosi haar bedank het vir dit wat sy vir Afrikaans gedoen het.

“Dis vir my baie emosioneel om vir jou via hierdie kanaal dankie te sê vir jou getroue ondersteuning en betrokkenheid by Praat saam.

“Dat ek hier kon werk en uitsaai, is vir my bedanking genoeg, want ek is in diens van Suid-Afrika. My werk is klaar. God seën jou,” het Francis-Puren gesê.

RSG se nuwe ontbytprogram, Op en wakker, word vanaf 4 April vanjaar uitgesaai en sal deur Gustav Greyling, Sue Pyler-Slabbert en Robbie Kruse aangebied word.

Kyk na Lynette Francis se afskeid-video hier:

Time to say goodbye Take 2. Deel asseblief my gesels en groet. Dankie

Posted by Lynette Francis-Puren on Thursday, March 31, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Jannie van Niekerk ·

Hulle kon eerder “Praat Saam” met Lynette Francis-Puren behou het en daai afskuwelike musiek program van Ettienne Ludick op Maandae aande van die lug afgehaal het.

Koen ·

En jy meen RSG moet net vir jou smaak voorsiening maak. Praat van ‘n grootheidswaan en entitlement.

Manie ·

Monitor is dalk nog ‘n verlies, maar nie Praat Saam nie. Lynette Francis-Puren het onaantasbaar gespeel op die program en mense sommer kortgeknip indien hulle menings haar nie gepas het nie.

ONTPS ·

Ek was ook baie bly dat Praat Saam gesneuwel het. Ek het gewoonlik die stasie verander tussen 08:00 – 09:00 verander om dit te mis

VaalDonkie ·

Die beste deel van Praat Saam was wanneer ou Pat ingebel en Lynette ge-irriteer het.

VaalDonkie ·

Kyk, ek hoop sy kry gou ‘n ander pos en dat dit goed gaan met haar in die res van haar loopbaan, maar ek is bly Lynette Frances en Praat Saam is weg. Ek kon haar gekekkel nie meer verdra nie. En al die programme was na ‘n ruk anti-wit en anti-Afrikaans. En elke derde woord uit haar mond was “persepsie” of “milieu”. Dit was duidelik dat sy of haar span uit idees geraak het en toe maar op populisme teruggeval het.

Jaada ·

Maklik, luister net nie meer, luister na ‘n ander stasie!

Jr ·

Ek vir een is baie bly want as ek politiek en Cyril Squirrel en andere se stemme moet hoor terwyl ek my breakfast eet wil ek siek word So vroeg in die oggend wil ek musiek, en grappe en weer en verkeer hoor en nie politiek. Opheffing vir die dag eerder as om te luister “doom and gloom”

Elizabeth ·

Ek verkies feite. Doom en gloom is jou voorland. Maak oop jou oë en ore. D it is SA.

casper ·

Radio Sonder Geesdrif
Ons bly maar weg daar na 20 jaar se luister -nou is dit net twak !!

Moedeloos ·

Dis vir my n gatslag dat Monitor verkort is. Dit is al tyd van die dag wat ek gehad het om radio te luister en ophoogte te bly van gebeure in SA en elders.

Philip ·

Dit is so opmerkbaar dat die blanke persoon se deelname en menings altyd geignoreer word of kortgeknip word tensy dit polities korrek is of meestal in persoon op die agtergrond is.Sportspanne/advertensies se woordvoerders word baie selektief gekies en n baie gemiddelde anderskleurige persoon geniet voorrang ongeag of hy die beste kandidaat is.

TO ·

Wat ‘n skande dat ‘n radiostasie, so groot op so ‘n manier van sy aanbieders ontslae raak. Moenie huil agterna nie

Daniel ·

Luister gelukkig lankal nie meer na RSG, van die aanbieders irriteer my grensloos.

Elizabeth ·

Die veranderinge was onnodig. Klink vir my polities gemotiveerd en daarom groet ek ook. Praat saam was vir my die beste program om soggens na te luister en indien ek Jakaranda wou wees sou ek Jakaranda luister. Te veel inmenging van waar? Niemand kan Lynette Francis Puren of Ivor Price vervang. Inteendeel, hoewel ek van Amoré hou is haar program te lig in die broek vir my.

Neels ·

En so word RSG ook gekaap die program wat insig gelewer het nou ook verander om polities reg te wees. So groet ek nou my vriend op die langpad. RSG is nou ook op die pad van vernietiging. RIP

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.